Is jy al op nommer 99 en jy’t steeds niks gepak nie? Of dalk wou jy al lankal begin pak het maar jy’s net nie seker wat om te pak nie?
Ek onthou voor my seuntjie gebore is het ek al wat ‘n YouTube-video is gekyk en al wat ‘n bloginskrywing is gelees oor wat om in jou hospitaalsak te pak. Die probleem is, meeste van hierdie inligting is van Amerika of iewers oorsee en ons hospitale is net nie dieselfde nie.
So, ek hoop ek kan jou bietjie beter help as my oorsese eweknieë.
Nota: Ek het normaal gekraam en my lysie is spesifiek daarvoor opgestel. Dit mag moontlik effe anders lyk vir ‘n keisersnee.
Eerstens, ek sou voorstel jy pak drie of ten minste twee sakke. Een vir Mamma, een vir baba en dan ‘n derde een vir Pappa (wat sommer ook kan dien as die versnaperingsak tydens geboorte)
Dis nie lekker om deur al die doeke te moet soek vir jou lipsalf of skoon kleinbroekie, wat HEEEEL onder lê nie. Dis net makliker as jy vir jou goed in jou eie tas soek, vir baba s’n in baba se sak en vir julle beursies en mediese fondskaarte in pappa se sak. As jy ‘n lekker groot sak het wat maklik in twee kan deel, kan jy jou en baba se goedjies kombineer as jy wil, solank jy dit langs mekaar kan pak en nie bo-op mekaar nie.
In meeste hospitale kan die pa ook nie oorslaap soos wat die gebruik oorsee is nie. As hy dus loop met sy tassie wil jy seker wees jy het wat jy nodig het by jou.
Mamma se sak:
- Sanitêre doekies. (2 pakkies)
- Skoon kleinbroekies (4-6) baie mense stel weggooibare kleinbroekies voor, dit sit aaklig en is ongemaklik. Ek het verkies om gewone, gemaklike katoenonderklere te dra. Ek sou voorstel jy gaan koop sommer ‘n pakkie swart of donkerkleurige kleinbroekies wat jy spesifiek vir die doel gaan gebruik. Ek het seker gemaak die wat ek kies het ‘n bietjie van ‘n voller snit. Dit help nie jy koop ‘n ietsie bietsie bikini-tipe kleinbroekie nie. Neig nader aan jou ouma se tipe.
- Borsvoedingsbra’s. (2 of 3) Ek het myne sommer by Woolies gekoop.
- Klere om aan te trek na die geboorte vir die tyd in die hopsitaal. ‘n Lekker stel pajamas met ‘n knopieshempie wat borsvoeding maklik maak, gaan goed werk. Jy het nie vreeslik baie klere nodig nie, jy gaan net heeltyd in die bed wees en jy wil so gemaklik as moontlik wees. Met my volgende geboorte sal ek een van daai tipiese kortmou japongoedjies neem wat al die bruide of bruidsmeisies altyd fotos in neem. Ek was spyt ek het nie iets gehad om vinnig oor te gooi as ‘n suster of iemand inkom en ek het byvoorbeeld pas klaar gebad en nog nie lus gehad vir aantrek nie omdat ek nog borsvoed of iets dergliks.
- Pantoffels of enige gemaklike insteekskoentjie wat vinnig kan aan-en uittrek.
- Netjieser stel klere + skoene om in huis toe te ry, veral as jou hele familie tuis wag om die nuweling te ontmoet. Jy gaan steeds ‘n magie hê na afloop van die geboorte, so bring iets gemaklik en los. Ek het ‘n hoë-middel swart legging met ’n los bloesie van t-hemp materiaal gedra.
- Badsakkie
- sjampoe (ek het nie my hare gewas nie want daar was net ‘n bad, maar dalk wil jy – anders is droë sjampoe ‘n goeie opsie),
- lyfroom,
- lipsalf,
- tandeborsel, tandepasta
- Haarborsel en haarrekkies (veral om jou hare uit jou oë te hou tydens kraam)
- Grimering as jy wil. Vir my was maskara goed genoeg.
Baba se sak
Baba se sak werk so:
Mediclinic fasiliteite gee ‘n komplimentêre babasak wat al die produkte nodig het vir baba se verblyf in die hospitaal. By Netcare fasiliteite kan jy dit koop teen ‘n ekstra prys. Ek het besluit om dit nie te koop nie en het my eies gebring. As jy soos ek is, of spesifiek jou eie produkte wil bring, pak die hele lysie wat ek vir jou gee. As jy wel ‘n komplimentêre sak kry, moenie nog jou eies ook bring nie. Los dan die produkte met ‘n *asterisk uit, want soos jy kan sien, is dit in jou hospitaalsak.
- Babakruippakkies. Kies die met voetjies (en selfs handjies ook, dis nog beter) reeds aangeheg. Glo my, daai piepklein babakousies val die heeltyd af en dan sit baba met koue voete. Bring ten minste 4 stelletjies, net vir ingeval jy die doek soos ‘n onervare ouer aansit en hulle dwarsdeur piepie (ja, dit het met my gebeur). Ek weet jou beste vriendin het vir jou die oulikste babarokkie met ‘n tutu gekoop waarop staan ‘mamma se prinses’, maar wees realisties. Jou baba is piepklein en wil sag en gemaklik slaap. Boonop gaan jy baie gereeld doek omruil, so jy wil iets het wat maklik aan- en uittrek. Iets met knopies, of nog beter -‘n rits- is die beste. Dis lekker as jy dit nie heeltyd oor baba se kop hoef te trek nie. Hulle nekkies is nog so pap. Ek hou baie van hierdie een met’n rits van Cotton On.
- ‘n Mussie, hulle verloor baie hitte deur hulle koppies.
- ‘n ‘Receiving’ kombersie om baba in toe te draai (swaddle). (ek weet regtig nie wat is die Afrikaanse alternatief nie, laat weet my in die kommentaar)
- ‘n Warm, sagte kombersie
- ‘n Mooi stelletjie klere + mussie om baba in huis toe te vat
- n Babanaelskêrtjie. Babatjies word gewoonlik met relatiewe lang naeltjies gebore en kan hulleself maklik krap. Jy kan dit ook eers tuis sny, veral as jy kruippakkies met hande het, maar partykeer is dit lekker om dit in die hospitaal te sny. Jy het immers baie tyd. Tweedens, koop eerder ‘n skêrtjie as ‘n naelknippertjie, want jy’t meer beheer. As jy eers ‘n stukkie van baba se velletjie saam met die nael afsny, huil jy en baba ewe hard.
- Plastieksakkies/Ziploc sakkies – Dis baie handig om ‘n plastieksakkie te hê om enige kleertjies wat dalk vuil of nat geword het terug te kan vat huis toe.
- *‘n Pak doeke
- *Boudlappies
- *Sjirurgiese alkohol en oorstokkies/watte om die naelstringetjie skoon te maak
- *Babawasmiddel. (die hospitaal vereis dit, hulle gee gewoonlik vir baba die dag na die geboorte sy eerste bad.) Iets wat vir die baba se hare en lyfie werk maak dat jy net een botteltjie hoef saam te vat.
- *Babalyfroom. Babatjies dop gewoonlik af in die eerste paar dae of week so dis lekker om hulle in te vryf. Ek stel Epimax vir babas voor.
- *Boudsalf. Vir die eerste paar dae is vaseline eintlik ideaal omdat mekonium (baba se eerste stoelgange) vreeslik taai is. Dit maak dit net makliker om af te vee.
Pappa se sak
Alle administratiewe goed
- Julle beursies en kaarte (onthou om kontant ook te bring). Die parkeermeters vra kontant en jy wil nie die hele hospitaal rondsoek vir ‘n R7 voor jou man kan huis toe ry nie.
- Jou mediese fondskaart
- Voorafmagtigingsnommer van die mediese fonds
- ‘n Swart pen om die geboorteregistrasievorms in te vul (ons moes vir ‘n verpleegster vra of sy nie ‘n ekstra pen het nie, want ons het vergeet)
- Pappa en mamma se ID’s (nodig om die baba se geboorte te registreer)
- Julle selfone en selfoonlaaiers en ‘n tweepuntprop
Goed vir voor en tydens geboorte
- ‘n Koelsakkie met drinkgoed soos lekker koue water of ‘n vrugtesappie (ek het ‘n wooliesmelkskommeltjie ook saamgevat vir ‘n bederf).
- Jy gaan baie dors word tydens kraam en selfs met borsvoeding later is dit ‘n goeie idee om baie water te drink. Jou eie mooi waterbottel is net soveel lekkerder as om heeltyd ‘n glas vol water te moet skink in die hospitaal.
- Ligte versnaperings soos vrugte, energiestafies, dalk jellie lekkers, watookal vir jou lekker klink.
Onthou dat die hospitaal vir jou kos verskaf maar nie vir pappa nie. As julle dus 4 uur die middag ingaan en die baba word eers in die nag gebore, gaan jy aandete kry, maar nie pappa nie.
- Kussing vir pappa. (met ‘n helderkleurige kussingsloop sodat jy dit nie later met die hospitaal s’n verwar nie) Ons het om en by 7 uur die aand ingegaan hospitaal toe en my seuntjie is eers die volgende oggend 12 uur gebore. Daar was net een bed en ‘n stoel. My arme man was naderhand so moeg gesit en wag, ek is baie spyt ons het nie net vir hom ‘n ekstra kussing gebring dat hy in die stoel kon lê en slaap nie. Jy kan self, afhangende van die tyd wat jy ingaan, besluit of dit vir julle nodig gaan wees.
- Party mense maak ‘n lys van liedjies op hulle foon of brand ‘n laventelkers vir ‘n lekker atmosfeer. As dit vir jou lekker en kalmerend klink, onthou gerus sulke persoonlike goedjies om dit vir jou lekker te maak. Ek het dit nie gedoen nie. Ek het net op en af in die gang geloop, omdat beweging die baba laat sak en dit beter is vir pyn. Ek was regtig nie lus vir iemand om vir my ‘n deuntjie te sing nie. Teen die einde sou ek hoogs waarskynlik die musiek en kers blameer het vir die pyn. HA!
- ‘n Geskenkie vir die susters wat jou help kraam. Dis heeltemal opsioneel, maar ek het ‘n boks sjokolades gevat en sommer daar langs my bed gesit. Hulle is heelnag aan diens en ek het net gedink dis ‘n oulike idee om ietsie te bring vir die susters wat jou help jou baba in die wêreld bring. ‘n Boks Krispy Kreme, toebroodjies, enigiets.
Ek hoop dit help. Laat weet my waarsonder jy nie kon klaarkom in die hospitaal nie!
Liefde
Renate
NS: Ek het ‘n lysie gemaak waarop jy kan afmerk wat jy alles moet inpak! Klink op die skakel om dit af te laai: Hospitaalsak Afmerklysie