Ons almal wil graag ons kleintjies stimuleer en dinge leer. Maar wat as ek vir jou sê een van die beste maniere om te leer is deur te speel.
Dink jy nou jy moet aktiwiteit op aktiwiteit op aktiwiteit uitdink?
Nee, ek praat van speel, doodgewone, ouderwetse speel.
Kinders het ‘n interne, inhirente drang om te speel. Hulle moet net die geleentheid gegun word.
Wat is speel regtig?
Daar is nie ‘n regte of verkeerde manier van speel nie. In ons moderne samelewing sien ons egter al hoe meer ‘n skuif in spel. Daar is minder en minder geleenthede vir kinderaangedrewe spel. Kinders se tyd word al hoe meer benut deur oueraangedrewe of gestruktureerde spel. Dit is wanneer ‘n ouer of juffrou die reëls en die einddoel van die spel bepaal. Die tipe spel word deur die volwassene georganiseer en die volwassene bepaal waarmee en hoe die kind speel. In hierdie aktiwiteite bepaal die ouer hoe die spel verloop.
Sulke aktiwiteite is definitief belangrik, maar dit moet uitgebalanseer word met ongestruktureerde of kinderaangedrewe spel.
Wat is kinderaangedrewe spel?
In spel waar ‘n kind toegelaat word om leiding te neem is die spel sonder vasgestelde reëls, dit het nie altyd ‘n spesifieke einddoel nie, dit word geinisieer deur die kind, dis spontaan. Elke beweging wat hulle maak word gedryf deur ‘n behoefte om te leer. En dit hoef nie altyd vir ons as ouers sin te maak nie. Het jy vir jou kleintjie ‘n balansbalk gekoop en jy wil so graag hê jou kleintjie moet van die een punt na die ander punt probeer loop? Maar al wat jou kleintjie doen is kruip onderdeur of sit daarop? Dis interne gemotiveerde spel en dis goed! Of jy bring vir jou kind ‘n bak vol blougekleurde water met diertjies daarin, en in jou kop gaan julle ‘n lepel gebruik om die diertjies uit die water te vis. Maar jou kleintjie gooi al die water uit en sit in die bak? Die aktiwiteit het nie gefaal nie, jou kleintjie het gespeel!
(Weereens jy kan en moet aktiwiteite doen, ek doen dit ook, maar dit moet nie heeltyd gedoen word nie.)
Speel beteken ook nie noodwendig daar is nie ‘n ouer betrokke nie. Dit beteken net jy maak nie die reëls nie, maar volg jou kleintjie se leiding. En jy kan steeds grense stel.
Voordele van ongestruktureerde/kinderaangedrewe spel.
Kindaangedrewe spel is krities vir ‘n kind se ontwikkeling. Dis iets wat ons meer en meer verloor met die oormatige klem wat vandag op tafelgebaseerde of skool-tipe werk en stimulasie geplaas word. Kinders gaan ook deesdae vroeër na ‘n gestruktureerde kleuterskool toe en speelgroepies wat toelaat dat kleintjies kan speel en ontdek, is amper uit die mode.
Buiten die fisiese voordele wat spel inhou, ontwikkel dit onder andere vaardighede soos
- Hoër-orde denke (geheue, kritiese denke, self-regulering, probleemoplossing)
- Sosio-emosionele ontwikkeling
- Empatie
- Self-uitdrukking
- Kreatiewe denke en verbeelding
- Selfvertroue
Ek hoop hierdie kan jou gerusstel dat jy nie heeltyd aktiwiteite hoef uit te dink om met jou kleintjie te doen nie. Om die waarheid te sê, ek sal jou aanmoedig om die grootste gedeelte van jou kleintjie se dag hom toe te laat om te speel. Vat jou kind se hand en kyk waarheen hy jou lei. Bou julle modderkoekies? Maak julle torings met herfsblare? Geniet dit en weet dat DIT ook ontwikkeling is.
Liefde, Renate