Ons wil almal graag ons babas en kleuters stimuleer, maar dis nie altyd so maklik om iets uit te dink om te doen nie. Hier’s ‘n geheim, as jy wonder – kies iets sensories!
Daar is regtig niks lekkerder as ‘n sensoriese aktiwiteit nie, dis so goed vir ontwikkeling en kan babas lekker lank besig hou!
Sensoriese aktiwiteite help kleintjies om sin te maak van die wêreld rondom hulle. ‘n Mens (en kinders) leer die heel beste as hy sy sintuie ook kan inspan. Het jy geweet sensoriese spel ontwikkel ‘n kleintjie se brein? Dit help om neurokonneksies in die brein te bou. Hierdie neurokonneksies in die breinpadjies lei weer lei tot kognitiewe-en grootmotoriese groei, taalontwikkeling asook die ontwikkeling van sosiale vaardighede en probleemoplossing.
Dis baie belangrik dat ‘n kleintjie blootstelling aan verskillende teksture kry. So leer hulle sommer ook die karaktereienskappe van dinge. My kombersie is sag, die speelding is hard ens. Ons begin vroeg al hiermee. As ons byvoorbeeldklein babatjies op die gras sit en hulle voel-voel aan die gras. En op 6 maande as ons met vaste kos begin, gaan ‘n nuwe wêreld oop. Sagte mieliepap, korrelrige rys, vleis, gladde joghurt, oe daars te veel om op te noem.
‘n Tekstuur wat my seuntjie nog nie gevoel het nie was jellie. Ek het toe besluit om jellie aan te maak en dit te laat stol met klein plaasdiertjies in. Ek het hom toe gevra om vir my die plaasdiertjies uit die jellie te haal. Aan die begin was dit maar voel-voel en mens kon op sy hele gesiggie sien: “die voel dan nou baie snaaks, mamma!” Eers het hy net sy vingertjies versigtig ingedruk, maar na ‘n rukkie het hy sommer die hele bak omgekeer en met sy voetjies en handjies dit lekker rondgesmeer. Ek het toe ‘n bak vol water gemaak sodat hy die diertjies daarin kon afspoel. Ons het toe sommer jellie in die bak water ook gegooi en dit het ook anders gevoel en gelyk. Hy het sy bes probeer om die stukke rooi jellie in die water met sy handjie te kon vasvat.
Hoe het ek gemaak?
Op ‘n jaar is babas nog in die stadium wat alles mond toe gaan. Ek was verbaas dat my seuntje ‘n volle 15 minute gespeel het voor hy die eerste keer die jellie in sy mond gesit het en besef het dis eetbaar. Nogtans was ek nie lus om vir so ‘n klein lyfie suiker en kleurstowwe in te jaag nie. Ek het dus gesoek vir ‘n suikervrye jellie wat met natuurlike middels gekleur en gegeur is. Soos bv die rooi kleur kom van beet af. Ek het myne sommer by Dischem gekoop.
Jy kan die plaasdiertjies met enige iets anders vervang. Sorg net dat dit nie te klein is nie, veral as jou baba nog jonk is. Moenie klippies of kraletjies probeer nie.
Die aktiwiteit is perfek vir jou kleuter (1+), maar werk lekker met babas van ongeveer 9 maande af. Dis nog beter as jou baba nie jellie ken nie. Ek kan nie sê of hulle so lekker gaan ontdek en speel in die jellie as hulle elke sondag jellie en vla vir poeding kry nie. Dalk is hulle dan hopeloos te slim en eet dit net.
Stappe om te volg:
1. Maak jellie aan.
2. Gooi dit in ‘n breë, plat bak. (‘n Oondpan sal lekker werk)
3. Gooi diertjies in die jellie.
4. Sit in die yskas om te stol.
5. Doen hierdie aktiwiteit iewers waar dit maar kan vuil raak. Ek het ‘n seil op die gras gegooi en my seuntjie se kleertjies uitgetrek dat hy net in sy doek kon speel.
Lekker speel!
Laat weet my wat is jou gunsteling sensoriese aktiwiteit wat jou kleintjie lank kan besig hou.
Liefde,
Renate