Vandag wil ek gesels oor ‘n baba se ontwikkeling tussen 3 weke en 3 maande. Ek het ‘n aparte blog oor ‘n baba se eerste 3 weke. Lee gerus hier. Maar, net soos in die eerste drie weke, is ons klein babatjies steeds besig om sin te maak van die wêreld rondom hulle. Hulle sien, hoor, ruik, proe en vat daagliks aan nuwe dinge.
ontwikkeling in die eerste paar maande
Emosionele ontwikkeling
Een van die sterkste behoeftes wat ‘n klein babatjie het is die behoefte aan binding (attachment). Voor kos en voor slaap, wil ‘n babatjie sekuriteit hê in die band met sy primêre versorger. Vanaf geboorte begin baba bind met sy ma sodat hy in ‘n paar kort maande haar reuk, stem en gesig kan uitken. Iewers in jou baba se eerste 3 maande (gewoonlik hier rondom 8 weke) begin sy ook glimlag. Sy verkies teen tien een nog net haar ma. Pappa en dalk ouma of oupa sal dalk ‘n huiwerige glimlaggie kry, maar sy het eintlik nog net oë vir haar ma (of primêre versorger), omdat dit haar sterkste band is en die persoon wat sy die meeste sien.
Fisiese ontwikkeling
‘n Klein babatjie werk baie hard aan sy kop-en nekbeheer. Sy spiertjies oefen en verbeter van ‘n koppie wat hy skaars kan oplig, na ‘n babatjie wat sy koppie kan regop hou vir lang tydjies. Van dag 1 af stoor ‘n baba se senuweestelsel alles wat hy sien en beleef, sodat hy dit later kan opdiep om te gebruik om vaardighede te bemeester.
Babatjies se gehoor verbeter daagliks. ‘n Babatjie kan baie vroeg al sy ma se stem herken en geniet dit om na haar te luister. Teen ongeveer 2 maande begin hy geluidjies maak en ‘teruggesels’.
‘n Babatjie se sig is nog relatief swak by geboorte en hy fokus die beste, ongeveer 20cm tot 30cm voor hom. Kontrasterende kleure soos swart en wit is ook makliker om te sien. Rooi is die ander kleur wat vroeg ontwikkel.
StimuleringsAktiwiteite
As jy probeer onthou hoe om jou baba te stimuleer, dink maar net aan sy sintuie. Probeer om daagliks baba se sintuie, sowel as motoriese en spraakontwikkeling te stimuleer. Dan is dit maklik om te onthou, en dit is meestal goed wat jy in elk geval doen, soos om met jou baba te gesels.
- Dis belangrik dat ons vinnig na ons klein babatjies se behoeftes omsien, sodat hulle kan leer dat die wêreld ‘n veilige plek is en hulle hulle versorger (mamma, pappa, ouma) kan vertrou. Geen babatjie moet vir ‘n lang tyd gelos word om alleen te huil nie. Ruil baba se doek om, voed hom of tel hom op as hy huil. Maar pasgebore babatjies bly pasgebore babatjies. Somtyds huil hulle vir geen rede nie. Jy’t hulle gevoer, hulle gesus, gewind, gedit en gedat en jou baba hou doodeenvoudig aan met huil. Dit maak nie saak nie, hou vir baba vas en doen wat jy kan, maar moenie skuldig voel omdat jou baba huil nie. Net die feit dat hy in jou arms is verlaag sy streshormoon, selfs al hou hy nie op huil nie.
- Gesels met jou baba! Vertel van jou dag, wat besig is om te gebeur of waarna jou baba kyk. Wanneer babatjies begin geluidjies maak en ‘teruggesels’, kan jy gerus hulle geluidjies na-aap. Dit is die begin van praat! As jou babatjie ‘n geluidjie maak en jy sê: “Regtig, mamma hoor jou” en dan weer jou baba toelaat om ‘n geluidjie te maak, lê julle die fondasie vir gesprekvoering later.
- Maak seker jy is omtrent 20 na 30 cm van jou baba se gesiggie af as jy gesels, sodat sy ogies kan oefen om te fokus. Hou ‘n rateltjie voor jou baba se gesiggie en laat hom daarop fokus. Beweeg die rateltjie rond sodat hy dit kan probeer volg. Skud die rateltjie aan die kant van sy koppie sodat hy sy koppie na die geluid kan draai. Probeer kontrasterende of rooi kleure omdat dit baba se aandag trek.
- Sit jou baba op sy magie. Ons wil eintlik hê ‘n babatjie moet ‘n baie groot deel van hulle wakker tydjies op hulle maag spandeer. Maar klein ou babatjies word nog baie gou moeg en dis nie nodig om hulle te frustreer nie. Sit hulle dus vir kort tydjies op hulle magie en probeer dit elke dag langer maak. Terwyl hulle probeer om hulle koppies teen gravitasie op te lig, versterk hulle spiertjies. Jy kan ratels of – nog beter – jou eie gesig,voor baba sit sodat hy gemotiveerd is om op te kyk.
- Party babas rol al hier teen 3 maande om (dit is vroeg so moenie bekommerd wees as joune dit nog nie doen nie), maar jy kan hulle gewoond maak aan die beweging van rol deur in plaas van om hulle direk van hulle magies af op te tel, hulle eers om te rol op hulle ruggies. Of as jou baba op haar ruggie lê, vat haar heupies en help haar om om te rol tot op haar magie.
- Lees vir jou baba. Hier is ‘n video op my Instagram oor lees. Jy kan duidelik sien hoe die babatjie die lesery geniet en lekker saam gesels. Dit is so goed vir hulle spraak-en taal ontwikkeling.
- As jou baba daarvan hou kan jy hulle gerus masseer na badtyd. In die eerste drie maande van ‘n baba se lewe het hy baie min willekeurige beweging. Babatjies se arms en beentjies skop sonder mening. Massering help jou baba om sy spiertjies ‘wakker’ te maak en tonus te gee. Jy kan ook jou baba se handjies liggies oopvryf.
Wat gebeur in die nabye toekoms?
Tussen 3 en 4 maande gaan jou baba begin rol. Jy kan rol al oefen. Sit ‘n speelding langs jou baba, by sy gesigsvlak. Sodra die speelding baba se aandag getrek het en hy daarna kyk, moedig hom aan om te rol deur sy armpie aan die kant waarna hy rol langs sy kop uit te strek (dis moeilike om oor jou eie arm te rol) en dan sy ander armpie en skouers oor te bring na die kant waarna sy kop kyk. (waar die speelding is). Jy kan ook by sy heupies help.
Pasgebore babas se bewegings is nog baie erraties en sonder doel. Maar soos hulle beheer oor hulle spiertjies begin kry, word hulle bewegings al hoe meer doelgerig. Hulle begin gryp na speelgoed en hulle gunsteling? Jou hare! Hou ratels voor hulle en help hulle oefen om iets raak te vat.
My kleintjie huil, huil, huil?
Daar gaan tye wees, waar selfs al is al baba se behoeftes bevredig is, sy steeds knieserig is, veral in die namiddag se kant. Hier is ‘n paar aktiwiteite wat ek voorstel.
- Gaan sit jou baba in sy stootwaentjie en gaan stap om die blok.
- Gaan buite toe. Dis asof babas (en mamma ook) net moeg raak vir 4 mure. Gooi bietjie ‘n piekniekkombers op die gras en loer vir die blare en wolke. ‘n Verandering in omgewing is soms al wat ‘n babatjie nodig het.
- Tap ‘n bad in! Water het ‘n kalmerende effek op babas. Klim sommer saam in!
- Sit lekker musiek aan en dans met jou kleintjie in jou arms.
- Sing vir jou baba. Daar was ‘n stadium wat my seuntjie net rustig was in sy karstoeltjie as ek vir hom gesing het. Man, was my keel naand seer! Maar die kombinasie van ‘n strelende wiegieliedjie en hulle mamma se stem, verrig wondere vir ‘n knieserige kleintjie.
Sterkte en geniet jou baba. Almal vertel die ge-eikte storie, maar dis regtig so: “Dit gaan so vinnig verby!”
Liefde, Renate.