Lees open en ontwikkel ‘n kleintjie se brein. Dit vergroot ‘n kleintjie se leefwêreld, en neem hulle op verbeeldingsvlugte. Lees ontwikkel en verleng ‘n kleintjie se fokus, geheue en luistervaardighede. dit ontwikkel taal-en spraakvaardighede en bou woordeskat. Omdat lees ‘n baba aanmoedig om te kyk, te wys en vrae te antwoord, verbeter dit sosiale- en denkvaardighede. ‘n Goeie leser doen slefs beter op skool.
Om vir jou baba ‘n liefde vir lees te ontwikkel is een van die grootste geskenke wat jy vir jou kind kan gee. En omdat dit hulle ‘n rukkie neem om self te kan begin lees, het jy die groot plesier om jou kleintjie op jou skoot te tel en VIR hom te lees. En jy kan op Dag 1 begin lees! Hy hoef nie eers te wag nie. Hoe vroeër, hoe beter. Om vir jou nuwe baba te lees, kombineer 2 van sy gunsteling dinge. Om in jou arms te wees en jou stem te hoor.
Maar dis nie altyd maklik om ‘n lekker boekie te kry om te lees nie. Afrikaanse boekies is skaarser as Engelse boekies. Party het te veel woorde en te min prente en ander is weer te besig. Daarom het ek gedink ek deel met julle ons gunsteling boeke!
Ons gunstelingboekies is Guido van Genechten se “die Groot reeks”
Daar is 5 boekies in die reeks:
- Die groot boude boek
- Die groot eet boek
- Die groot slaap boek
- Die groot drukkie boek
- Die groot baba boek.
Ek is mal oor hierdie boekies omdat die prente lekker groot is, maar die bladsye is nie te besig nie. Die boeke is ook baie op diertjies gefokus, wat kleintjies se aandag trek, omdat dieregeluide baiekeer van hulle eerste woorde is. Hierdie boekies is perfek vir woordeskat uitbreiding. Jy kan leer:
Wat is hierdie? Dis ‘n kat. Hoe maak ‘n kat? Die kat miauw. Wat maak die kat? Die kat sit. Die kat sit op ‘n emmer. En so aan.
Protea boekhuis is die uitgewers: Kyk hier. Die boeke word egter ook op takelot verkoop. Druk hier, hier, hier, hier en hier 🙂 Ek het myne by my plaaslike Bargain Books gekoop, alhoewel hulle nie die hele reeks het nie
Ek hoop julle geniet die boekies net so baie soos ons doen!
Liefde, Renate