Ek wil my eersteling se geboortestorie vertel vir twee, eintlik drie redes.
- Ek wil alles kan onthou sodat ek my eendag my dogters en skoondogters kan vertel hoe dit gebeur het. Ek het my ma seker 78245 vrae gevra oor haar geboortes.
- En tweedens sodat ander jong vrouens bietjie meer voorbereid kan wees. Dis lekker om te weet dit wat jy ervaar is normaal of om bietjie meer te weet van wat om te verwag.
- En dan derdens is daar soveel negatiewe stories van hoe erg dit was of wat fout gegaan het. Ek wil hê jy moet al die goeie stories ook hoor sodat jy opgewonde kan wees!
Ons baba (ons het toe nog nie geweet dis ‘n seuntjie nie – ons het eers by geboorte uitgevind) se verwagte datum was 2 Januarie 2020. Ek was bang ek sou in Desember kraam, maar my vrese was ongegrond. Baba het vas gesit. Baie (veral eerste babas) sak al hier omtrent op 36 weke. Met my laaste ondersoek op 40 weke was my seuntjie steeds nie gesak nie en hy het verkeerd om gelê. Die ideale posisie vir kraam is met baba se koppie na onder en sy ruggie teen jou maag. (Occiput anterior) My seuntjie het koppie na onder maar met sy ruggie teen my rug gelê (Occiput posterior) Hulle sê dit is gewoonlik ‘n seerder en effens langer kraam.
Kontraksies begin
Ek het my eerste kontraksie gekry op Maandag 6 Januarie 2020 omtrent 21:30. Voor dit, omtrent 18:00 uur die aand het ek lae rugpyn begin kry. Dit was baie dieselfde as menstruele pyn. Ek onthou nog ek het my ma gevra of dit ‘n teken van kraam is, en sy het gesê dis presies hoe dit begin. Goed, toe wag ek nou angstig op my eerste kontraksie! Ek was baie opgewonde. Van die hele swangerskap het ek die heel meeste na kraam uitgesien, moenie my vra hoekom nie, ek het net. Ek is nou nog spyt ek kon nie my man in die middel van die nag wakker maak en hospitaal toe jaag nie. Helaas, toe gebeur dit BAIE stadiger as in die flieks.
Dis regtig moeilik om ‘n kontraksie te beskryf. Almal vra: Hoe voel dit? Ek het dit ook gevra. Vir my, was dit ‘n baie lae pyn. Ek het heeltyd gedink dit moet Braxton Hicks of iets wees want dit het letterlik gevoel of net my laer buik saamtrek. Die gevoel was net in my lae, lae buik en nog laer. Ek het gedink met ‘n kontraksie gaan jou hele maag voel of dit saamtrek, maar dit was nie vir my so nie.
Let wel, ek het nooit vooraf Braxton Hicks kontraksies gekry nie (*Braxton Hicks is vals, soortvan ‘oefen’ kontraksies en baie vroue kry dit in die laaste trimester)
Vroeë kraam
My kontraksies was ongeveer elke 10, 15 of 20 minute, partykeer selfs eers na ‘n halfuur. Ek kon slaap maar het wel somtyds wakker geword van die kontraksies. Die volgende dag, Dinsdag, was maar dieselfde storie, kontraksies gemmiddeld elke 20 minute, maar dit was nie te seer nie. Ek kon gesels en beweeg en normaal aangaan. Ek was selfs winkel toe om een en ander te kry. Elke nou en dan kon ek net voel daar is ‘n kontraksie. Teen die aand se kant was die kontraksies elke 10 minute en effens seerder. Ons was by my skoonma’le vir ‘n ete en ons het bordspeletjies gespeel. Ek onthou nog dat dit relatiewe inspanning geverg het om normaal deur die kontraksies te gesels, sodat niemand moet agter kom nie.
Dinsdagnag het ek min geslaap. Ek het elke 10 minute wakker geword van ‘n kontraksie, maar dit was steeds doenbaar. Om op my rug te lê was byvoorbeeld nie lekker nie, en ek het dit verkies om op my sy te lê. Op ‘n stadium was ek sitkamer toe en het daar op die bank gaan sit sodat my man kan slaap want ek het elke 10 minute van posisie verander.
Woensdagoggend toe ek opstaan om badkamer toe te gaan toe was dit bietjie bloederig en ek het my slymprop verloor. Dis toe dat ek raai dat die geboorte moontlik aan die kom is! Woensdag deur die dag het die kontraksies stadig nader aan mekaar geword en seerder. Ek moes stop met wat ek doen en kom nie meer regtig deur dit gesels nie. Ek het diep asemgehaal. Dit was seer, maar nie seer genoeg dat mens wou uitroep van die pyn nie.
Teen die middag 17h00 uur se kant was die kontraksies elke 5 minute. Ons het toe besluit dat ons maar stadig hospitaal se kant toe sal keer. Ek het gestort, ons het geëet, laaste goedjies gepak en is hospitaal toe waar ek so 7 uur opgeneem is.
Hospitaal
In retrospek is ek hopeloos te vroeg hospitaal toe, maar ek het al so lank kontraksies gehad en ek het gehoor jy moet ingaan as jou kontraksies elke 5 minute uitmekaar is, vir ten minste al ‘n uur. Boonop was dit my eerste baba en mens weet nie lekker wat om te verwag of hoe mens se kontraksies gaan voel as die baba nou regtig aan die kom is nie. Teen daardie tyd was my kontraksies baie erger as wat dit Maandagaand was, so ek het gedink, hier gaan ons. Min het ek geweet dit gaan nog ‘n hele rukkie duur!
By die hospitaal aangekom het hulle ons besonderhede gevat en toe is ons in ‘n kamertjie met ‘n bed, stoel en jou eie badkamertjie in. Hulle noem dit ‘first stage’ kamers. Hulle gee vir jou ‘n hospitaaljurkie om aan te trek en die suster het ook gekyk hoe ver ek ontsluit was. Ek was net 2 cm ontsluit en my serviks was nog hard. {Jou serviks moet 100% sag wees en jy moet 10 cm ontsluit wees om te kraam.} My seuntjie was nog steeds lekker hoog en het eers deur die nag, soos at die kontraksies gevorder het, gesak.
En net toe ons mooi in die kamertjie is, stop my kontraksies heeltemal! Vir 2 en ‘n half ure! Dis blykbaar ‘n baie bekende fenomeen. Ewe skielik is jy in ‘n vreemde omgewing, jys nie so gemaklik nie en dan stop jou kontraksies. 2 ure later het hulle darem weer begin en was eers elke 10 minute uitmekaar maar het redelik vinnig weer na 4,5 of 6 minute tussen mekaar gegaan. Ek het bietjie probeer slaap tussendeur kontraksies.
Teen 1 uur het die suster vir my ‘n drup kom insit. As ek een ding kon uitsonder wat vir my die onaangenaamste was van die hele kraamproses was dit definitief die drup. Die koue vloeistof wat permanent so in jou lyf in drup. Dit was aaklig. En ek moes heeltyd die drup saam met my dra badkamer toe of waarheen mens ook al gaan.
Tussen 1 uur die nag en 7 uur die volgende oggend was die kontraksies te onaagenaam om te slaap. Ek het op en af in die gange geloop en deur die kontraksies asemgehaal. Ek het ook op my hurke gesak met kontraksies sodat gravitasie kan help om baba te laat afsak. Ek het ook lekker lank in die stort gestaan wat help baie gehelp het vir die pyn. 7 uur die volgende oggend het die susters skofte geruil. En toe kry ek ‘n absolute juweel van ‘n suster! Sy het ons toe oorgeskuif na die “delivery room”, wat ‘n groot bad ingehad het wat ook lekker is vir pynverligting. Teen 8 uur die o113ggend was ek 6cm ontsluit. My water het nog nie gebreek en die suster vra of sy dit nie sommer vir my kan breek nie. Ek was eers huiwerig omdat ek gedink het dit gaan die kontraksies seerder maak maar stem toe in. Die suster breek my water en my kontraksies bly tot my verbasing presies dieselfde.
Aktiewe kraam
Tot 9 uur! Toe was ek ewe skielik in aktiewe kraam! Tot en met 9 uur Donderdagoggend 9 Janurie 2020 sou ek vir jou gesê kraam is maklik. Daar is niks daaraan nie! My kontraksies tot op daai punt was hanteerbaar. Ek moes stop en asemhaal daardeur, maar was nie in vreeslike pyn nie.
Wel wel, ewe skielik toe word die kontraksies merkbaar seerder. Hier teen half 10 roep ek die suster en sê nee asb kyk hoe ver is ek, want die is effe onaagenaam. 6 en ‘n half centimeter. Die suster het vir my gesê mens ontsluit gemmiddeld teen 1cm ‘n uur. Dit sou beteken ek het nog 3 en ‘n half, 4 ure oor. Toe dog ek nee vriende, nog 4 ure van hierdie pyn gaan ek nie maak nie.
Ek vra of hulle nie vir my iets kan gee vir die pyn wat nie ‘n epiduraal is nie. Hulle bied toe vir my die gas aan. Ek dink dis ‘n mengsel van suurstof en stikstof. Mens is veronderstel om lekker diep asem te haal en die suurstof na jou spiere toe verlig die pyn. DIT DOEN NIE. Ek het so ‘n paar teue gevat toe sê ek nee dankie, gansie, hierdie is nou tydmors.
HA, was ek nou teleurgestel in die stukkie toerustig! Dis ‘n plastiek ding wat jy oor jou mond en neus moet hou en in moet asemhaal. Dit het niks gehelp nie en laat jou net sweet! Hulle sê elke vrou reageer anders so jy kan dit gerus probeer, dalk help dit.
Ek wou van die begin af graag sonder ‘n epiduraal kraam. Dit was maar net my persoonlike keuse, ek weet almal het hulle eie voorkeure. Maar teen half elf was ek moeg vir die kontraksies en omdat ek gedink het dit gaan nog baie lank vat, het ek gedink ek gaan dit nie sonder pynmedikasie kan doen nie. Ek roep toe die suster en vra of dit nie dalk moontlik is vir ‘n epiduraal nie. Die suster verduidelik toe dat teen die tyd dat die anestesioloog gekom het en die epiduraal ingeskop het (die epiduraal vat ‘n ruk om te begin werk) is die baba al hier, dis te laat vir ‘n epiduraal. Dis op hierdie punt wat ek vir die suster gesê het, dan moet hulle my maar met ‘n pan oor die kop slaan sodat ek niks kan voel nie want ek kan nie meer nie. Toe kom daar ‘n nuwe jong sustertjie in en sy sê, ‘toemaar net as jy voel jy gaan dood, kom die baba.” En sy was reg! 11 uur is ek 10 cm ontsluit! Ek gee ‘n paar oefendrukke en toe kom die dokter en ons is reg vir aksie! My seuntjie se koppie kroon mooi, maar na afloop van elke kontraksie gly hy weer terug in die geboortekanaal. Die dokter het gesê dis omdat hy nog occiput posterior lê. Teen daardie tyd was ek ook al so moeg van min slaap vir drie aande en die fisieke inspanning dat dit moeilik was om mooi te druk. Die dokter besluit toe hulle gaan ‘n episiotomy doen en help om die baba uit te kry. En op hierdie punt sal ek my man ewig dankbaar wees. Ek was moeg en toe die dokter se hulle gaan help het ek dit gelate aanvaar, nie eers verder gedink nie. Die dokter het al die groot spuit vol verdowingsmiddel gemaak om my dood te spuit toe kom nog ‘n kontraksie en my man sê: “Kom probeer weer, dis jou laaste kans, jy kan dit doen!” In my moegheid het ek nie eers daaraan gedink om weer te probeer nie. En met die volgende kontraksie is hy gebore! Wys jou wat ‘n bietjie ondersteuning kan doen! Die dokter het hom so mid-geboorte gehelp om om te draai. Baie occiput posterior babatjies draai tydens geboorte reg en dit is toe presies wat met ons ook gebeur het.
12 minute na 12 op Donderdag 9 Januarie is ons baba gebore!
“Dis ‘n seuntjie”, roep die dokter.
Dit was vir ons ‘n baie lekker verassing om eers met geboorte uit te vind!
En die pyn was onmiddelik weg. Onmiddelik. Ek belowe jou. Dis die wonderlikste van normaal kraam, die pyn is letterlik oombliklik weg. Hulle lê hom toe dadelik op my bors en hulle vryf hom droog, knip die naelstring en doen alles wat gedoen moet word net daar! Dit was vir my baie lekker en gerusstellend om dadelik vel-tot-vel kontak te kon doen.
Ek moes slegs 2 stekies kry. Dit was net eerstegraadse skeurtjies en beide inwendig so dit het gou genees. Ek het nie eers gevoel hoe die dokter hulle insit nie.
Ek sal dit 100% weer doen. Veral met dit wat ek nou weet. Op die ou einde was dit net ‘n uur en ‘n half, maksimum 2 ure se pyn. Ongeveer tussen 9 en 11. Dis al. Op daardie stadium is dit erg omdat mens weet nie hoe lank dit gaan wees nie, maar dis regtig waar dat net wanneer jy dink: “nee ek het nou uitgehou en uitgehou, ek kan nie meer nie,” is dit verby!
Geen geboortestorie is perfek nie, maar vrouens is baie sterker as wat hulle besef! Ek hoop jy kan net so ‘n bemagtigende geboorte beleef!
Liefde, Renate
PS: Daar is ‘n paar goed wat ek sou verander of ‘beter’ doen met my volgende baba se geboorte maar ek sal ‘n ander bloginskrywing maak oor alles wat ek geleer het. Hierdie een is klaar lank.