Dit is welbekend dat daar ‘n korrelasie is tussen aggresiewe gedrag en die media of rekenaarspeletjies wat tieners hulleself mee besig hou.
Meer blootstelling aan gewelddadige media veroorsaak hoër aggresiewe gedrag in tieners.
Maar wat van in kleuterskole?
‘n Voorste kenner in kinderaggressie, Dr. Jamie Ostrov, het saam met ‘n kollega, Dr. Douglas Gentile, ‘n studie oor aggressie in kleuterskole gedoen. Hulle wou graag kyk wat is die effek van die DVD’s wat kinders kyk, op hulle gedrag. Hulle hipotese was voor die hand liggend. Kinders wat meer geweldadige films kyk, sal meer aggresiewe gedrag toon en kinders wat meer opvoedkundige programme soos Disney en Nickelodeon kyk behoort nie net minder aggressiewe gedrag te toon nie, maar ook hoër te wees in wat ons pro-sosiale gedrag noem (bv. Hulpvaardigheid, mededeelsaamheid en samehorigheid)
Hierdie studie is in ‘n kleuterskool in Minesota, Amerika, gedoen. Die kinders was almal van ‘n goeie buurt, van welgestelde families. (m.a.w. hulle gedrag kan nie op hulle omstandighede blameer word nie)
Die navorsers het die kinders tydens speeltyd dopgehou en die hoeveelheid aggressiewe interaksies neergekryf.
Die navorsers het aggressie in drie groep opgedeel;
- Fisiese aggressie – bv, stamp ‘n maatjie, gryp ‘n speelding ens.
- Verhoudingsaggressie – bv ‘n Kleintjie wat vir ‘n ander een sê: “Jy mag nie saam met ons speel nie/by ons sit nie.” Of om maats wat wil saamspeel te ignoreer of leuens oor ander maatjies te vertel. Enigiets wat die verhouding tussen maatjies aanval
- Verbale aggressie – bv. “Bly stil.” “Jy’s dom” “Niemand hou van jou nie”
Dit wat ons almal verwag het, was toe ook met die eerste oogopslag waar. Na die kinders geweldadige films gekyk het (dink aan Star Wars, Power Rangers) het hulle meer fisiese aggressie teenoor maats getoon.
Maar ‘n verstommende bevinding het na vore gekom.
Hoe meer sg. Opvoedkundige programme die kinders gekyk het, hoe meer verhoudingsaggressie het die kinders getoon.
Hulle was meer baasspelerig, geniepsig, mislik, kontrolerend en manipulerend. En nie net ‘n bietjie nie. Die korrelasie tussen hierdie tipe aggressie en opvoedkundige TV programme was hoër as die korrelasie tussen gewelddadige media en fisiese aggressie!
Die navorsers was stomgeslaan. Hoekom sou dit wees? Hulle het toe hierdie meer opvoedkundige programme op PBS, Nickelodean en Disney Channel gaan kyk. En wat het hulle gevind? In baie van hierdie programme word verhoudings-en verbale aggressie gemoduleer. Die film sal byvoorbeeld 30 minute spandeer om konflik tussen karakters op te bou, maar net ‘n paar minute om dit op te los. Of die films het ‘n “lessie” aan die einde van die film, maar deur die hele film word verhoudingsaggressie of verbale aggressie gemoduleer. Dink byvoorbeeld aan ‘n storie waar ‘n kindjie of hondjie of watookal geboelie of uitgestoot word by die skool. Deur die hele film is daar interkasies waar maatjies vir mekaar lelike goed sê en dan aan die einde dan maak hulle vrede of die bullie leer ‘n les of watookal. Maar die probleem is, voorskoolse kinders is te klein om so lank te wag vir ‘n les. Hulle kan nie inligting aan die einde van ‘n film konnekteer met dit wat aan die begin gebeur het nie. Daar gaan te veel tyd verby tussen die gedrag en ‘n les. Inteendeel, kleintjies leer net die gedrag wat gewys word.
Die navorsers het hierdie studie op ‘n paar plekke herhaal, om seker te maak dit was nie sommer net perongeluk nie. En orals het hulle dieselfde resultate gekry. Kinderprogramme veroorsaak verbale-en verhoudingsaggressie tussen kleuters! Hierdie kinderrpogramme het selfs fisiese aggressie tussen die kleuters vermeerder, en amper tot so ‘n groot mate as wat gewelddadige programme dit doen!
‘n Dr. Cynthia Sceibe het toe kinderprogramme gaan analiseer. Sy en haar groep navorsers het kinderprogramme gekyk en neergeskryf elke keer as ‘n karakter iemand anders ‘n lelike naam noem, geniepsig is, of hulle afmaak. ‘n Astronomiese 96% van kinderprogramme was vol verbale en verhoudingsaggressie. ‘n Gemmidelde 7.7 aggresiewe of mislike interkasies het plaasgevind per halfuur program. Selfs programme wat spesifiek bemark word as dat hulle prososiale gedrag uitbeeld, was nie sonder aggressie nie. Amper 67% van hierdie prososiale programme het aggressie in gehad.
Dink aan ‘n sin uit SpongeBob Squarepants “How do you sleep at night, knowing you’re a complete failure.” Maar dalk het hierdie programme ‘n doel? Vir elke lelike interaksie sal hulle seker ‘n gevolg hê of ‘n les dat om lelik met ‘n maatjie te praat, ‘n ander maatjie seermaak? Wel, uit die 2628 geniepsige opmerkings wat in die programme waargeneem is, is die opmerking net 50 keer aangespreek – en nie een keer in ‘n program wat as ‘opvoedkundig’ bestempel is nie. 84% van die tyd is die opmerking met ‘n gelag of geen reaksie beantwoord nie. (Jy kan jou indink dat 1 ‘vergewe mekaar’ interaksie aan die einde nie genoeg is nie. Die gedrag wat die meeste gemoduleer word is – geniepsigheid.)
Die navorsers het toe hierdie hipotese by hulle eie huise, met hulle eie kinders gaan toets en tot dieselfde gevolgtrekking gekom. Hierdie programme veroorsaak geniepsigheid. Nou hoef jy nie meer te wonder waar jou kind geleer het om vir sy boetie te skree “shut up” nie.
In ‘n wêreld waar ons as ouers soveel hulpbronne tot ons beskikking het en “gentle parenting’ aan die orde van die dag is, hoe is dit dat boelie so algemeen is? Aanlyn en verbale boelie is so hoog soos nooit tevore nie. Mens sou dink dat ons, wat so vroeg al praat oor deel en beurte maak en ander maats se gevoelens, ‘n beter werk sou doen as ons voorouers wat eers geslaan en dan gevra het wat gebeur het. Duidelik nie.
Onthou dat kinders leer deur modellering. Wat modeleer die programme wat jou kleintjie kyk?