Die besluit om vir jou kind ‘n fopspeen te gee, of nie te gee nie, is baie persoonlik. Ek het wel agtergekom meeste mammas dink nie daaroor nie en gee dit net omdat dit beskikbaar is. Dis nog ‘n baba-item en lyk baie fraai, so hoekom nie?
Alle babatjies word gebore met ‘n sterk drang om te suig. Dis een van hulle eerste reflekse – en belangrik ook – hoe anders sou hulle kon eet? Baie babas suig hulle vingers of duim, selfs voor geboorte al. Om te suig het ‘n kalmerende effek op babatjies en baie babatjies is op hulle gelukkigste as hulle aan iets kan suig.
Maar is dit veilig?
Ek wil vir jou die voor-en- nadele van fopspene uitwys sodat jy ‘n ingeligte besluit maak.
Voordele
- Dit kan ‘n huilende baba kalmeer. Dit kan dien as ‘n handige manier om baba se aandag af te trek, na ‘n inenting of as baba geval het of seergekry het, wat maak dat baba korter huil.
- Dit kan baba help om aan die slaap te raak. Om aan iets te suig kan baba help om te self-reguleer en laat hulle makliker aan die slaap raak.
- Laer risiko vir wiegiedood. Sekere studies het bewys dat om aan ‘n fopspeen te suig tydens slapies, verlaag ‘n baba se kanse vir wiegiedood.
- Dit kan dalk makliker wees om af te leer as duimsuig omdat jy kan beheer wanneer jy die fopspeen weg vat, maar nie ‘n duim nie. (Nota: of jy kleintjie ‘n keel gaan opsit as jy die fopspeen wegvat is ‘n ander saak)
Nadele
- Fopspene kan inmeng met borsvoeding en melkproduksie. Aan die begin moet ‘n baba baie gereeld aan die bors drink sodat jou lyf genoeg melk kan produseer. As jy die heeltyd die fopspeen in baba se mond druk, drink baba nie genoeg aan die bors nie en kan dit veroorsaak dat jy nie genoeg melk produseer nie en baba nie genoeg inkry nie.
- Dit kan tepel-deurmekaarheid veroorsaak. Fospene is ‘n ander vorm as jou tepel en as jy beide vir baba gee voordat borsvoeding goed op dreef is, kan dit inmeng met voeding.
- Baba’s raak afhanklik van die fospeen. Dis dan onmoontlik vir jou baba om te slaap sonder die fopspeen en as hulle in nag wakker word en die fopspeen het uitgeval, gaan jy moet opstaan om hom terug te sit.
- Fopspene verhoog ‘n baba se kanse op oorinfeksie, veral van na 6 maande af. Dit is ook hoekom die Amerikaanse Pediatriese Assosiasie (AAP) voorstel dat babas na 6 maande ophou met ‘n fopspeen.
- Fopspene raak ‘n krukmiddel vir ouers. Dit is so ‘n maklike ding om na te gryp en naderhand druk jy die fopspeen in jou baba se mond as hulle net piep sê. Dit kan ‘n baba, en later ‘n kleuter veroorsaak wat net tevrede is met ‘n fopspeen in haar mond en geen ander manier het om haarself te reguleer nie.
- Verlengde gebruik van ‘n fopspeen kan tand- en kaak probleme veroorsaak. Die vorm van die mond en byt kan met tyd verander.
- Sekere studies het ‘n verband tussen die gebruik van ‘n fospseen en obesiteit later in ‘n baba se lewe gevind.
Moets en moenies vir fospene.
Fopspene klink soos die maklikste ding ooit. Baba huil, druk fospeen in sy mond, maklik! Wel dis nie heeltemal waar nie. ‘n Fopspeen is nie altyd die regte antwoord as baba huil nie. Suig is ‘n refleks en dit maak ‘n fopspeen ‘n maklike ding om te misbruik. Hiers ‘n paar wenke vir hoe om dit reg te gebruik.
- Wag eers! Begin eers met ‘n fospeen as jou baba ongeveer 3 of 4 weke oud is. Borsvoeding is in die beste van scenarios ‘n leerkurwe en dis beter dat jy en baba aan borsvoeding gewoond raak voor jy ‘n fopspeen ook nog in die prentjie inbring.
- Moenie eerste na ‘n fospeen gryp as jou baba huil nie. Dalk is hulle honger, hulle doek is vuil, hulle kort ‘n klein bietjie aandag, hulle kry te warm, koud ens. As jy altyd eerste na die fopspeen gryp mis jy dalk die werklike probleem.
- Moet nooit ‘n fopspeen gebruik om ‘n voeding uit te stel of oor te slaan nie. ‘n Honger baba moet liefs gouer eerder as later gevoed word.
- Probeer om nie ‘n fopspeen te gebruik in die plek van aandag nie. Partykeer het jou baba aandag en sosialisering nodig en dis baie maklik om liewer die fospeen in sy mond te druk as om aan hom aandag te gee.
- As jy steeds ‘n fopspeen gebruik na 6 maande, beperk die gebruik tot slaaptye. Ons wil hê baba moet in sy wakker tye leer praat en met ‘n fopspeen in die mond is dit maar moeilik.
- Help vir baba om ander maniere van self-regulering aan te leer. As jou kleintjie leer stap en ontdek is val sy voorland. Soos hy ouer word gaan hy ook belangstel in dinge wat jy nie vir hom gaan gee nie. Messe, skêre, glasbakkies, rekenaarkoorde, noem dit op. As jy heeltyd as hy val of nie sy sin kry nie, vir hom sy fopspeen gee, leer hy nie self sy emosies beheer nie.
- Dis makliker om vroeër eerder as later baba se fopspeen weg te vat. Probeer om tussen 12 en 18 maande die fospeen te los, voor hulle nog presies verstaan wat aangaan. As jy dit te lank los, skop hulle gewoonlik teë en jy kan nie net die fopspeen wegsteek en hoop hulle vergeet nie. Hulle weet presies wat hulle soek en huil gewoonlik tot hulle dit kry!
Laatweet my of jy besluit het om ‘n fopspeen te gebruik,aldan nie, en waarom?
Liefde,
Renate.