Wat is risiko spel?
Die woord risiko het ‘n negatiewe konnotasie, wat mammas se hare sommer dadelik laat regop staan. ‘n Goeie, meer positiewe woord is dalk waaghalsige spel?
Watookal jy dit noem, risiko of waaghalsige spel is waneer kinders hulle fisiese grense toets tydens vrye spel. As jy kinders dophou tydens ongestruktureerde, vrye spel, sal jy sien hulle soek opwinding. Hulle hardloop, spring, bons en eksperimenteer. Risiko spel is die naam wat gegee is vir hierdie soeke na opwinding (“thrill-seeking behaviour”) wat kinders toon tydens spel. Hulle gebruik hierdie opwinding om nuwe vaardighede aan te leer en dit is toe nie net fisiese vaardighede nie! Nee, risiko spel het ‘n invloed op jou kind se fisiese, emosionele en sosiale vaardighede.
Voorbeelde van waaghalsige spel
Waaghalsige of risiko spel is spel wat plaasvind by groot hoogtes, soos klimrame of bome; teen hoë spoed, soos hardloop, swaai, draai, tol of spring. Dis rowwe spel (rough and tumble play) soos stoei, spel met gereedskap, soos ‘n hamer, beitel of spel met elemente soos water.
Waaghalsige spel gebeur spesifiek tydens vrye spel, niemand gee die kind ‘n risiko om te neem nie. Dis ‘n persoonlike risikoanalisering wat elke kind doen, om te besluit of hy die beweging gaan doen of nie.
Nota: Daar is ‘n verskil tussen risiko en gevaar.
Klein deeltjies waaraan kleintjies kan verstik, skerp voorwerpe of ontblote proppe, dis nie risko’s nie en dis nie waarvan ek hier praat nie. Ons praat hier van kinders wat die vryheid het om hulle lyfies te gebruik in maniere waar daar ‘n moontlikheid is vir val/seerkry.
Ten diepste is risiko spel die pedagogiese geloof dat ‘n kleintjie in staat is daartoe om sy eie risikos te bepaal en om sy lyf tydens fisiese spel te gebruik soos hy wil, omdat hy sy lyf se vermoëns en grense ken. Tydens risiko spel speel ‘n kind op die grens van sy gemaksone sonder om bang hoef te wees vir ernstige besering. Kinders het ‘n baie sterk oorlewingsinstink, wat ons nie moet onderskat nie. Risikospel gee ‘n kind die geleetheid om besluite te maak oor hoe hy sy lyf kan gebruik met ‘n verantwoordelike ouer in die omtrek om gevolge mee te bespreek (en erge risiko’s uit te skakel).
Mariana Brussoni, ‘n proffesor aan die Universiteit van British Colombia, het selfs gevind dat kinders wat aan risiko spel deelneem, laer kanse het vir beserings. As jy ‘n kind los om self te klim, spring of balanseer, word dit veiliger omdat hulle leer HOE om te spring, balanseer of klim. Wanneer jy help, kan hulle nie hulle lyfies gebruik en aanpas hoe om te beweeg nie. Die beweging word vir hulle gedoen.
Hoekom is risiko spel so belangrik?
Dit bou selfvertroue.
Omdat daar ‘n element van onsekerheid betrokke is, kan kinders nie die uitkoms bepaal nie.
Risiko spel se uitkoms is baie keer oorwinnnig. Dit gee jou kind dus die kans om te sê: “Ek het dit gedoen! “ of “Ek kan,’ wat selfvertoue bou.
Dit leer kinders om hulle vrese te oorkom.
Om iets nuuts te probeer, hou vrese en onsekerhede in. Waaghalsige spel gee kinders die vaardighede om hierdie onsekerhede en vrese wat gepaardgaan met die probeer van nuwe dinge, te oorkom. En dis ‘n groter punt as wat ons besef. Amper alles in die lewe het ‘n element van onsekerheid, van risiko, van nie-weet nie, van probeer. Om mamma se hand te los en die laerskool-hekke binne te stap, om te probeer vir ‘n sportspan, om ‘n maatjie te nader, om jou hand in die klas op te steek om ‘n vraag te vra, om nee te sê vir groepsdruk, om teen die stroom te gaan, om ‘n praatjie te gee voor die klas, om aansoek te doen vir ‘n werk, om ‘n skuif te maak eendag (trek, nuwe werk), om beleggings te maak. Kan jy sien jou kind kan nie wegkom van risko’s en nuwe dinge nie?
Dit help jou kind met risiko-assessering en besluitneming.
Risikospel gee ‘n kind die geleetheid om besluite te maak oor hoe hy sy lyf kan gebruik. Dit help ‘n kind om sin te maak van die wêreld en om ‘n besluitnemer te word. Hierdie vermoë om risikos te analiseer en self (let wel, self, help nie mamma besluit vooraf of hy die boom mag klim of nie) te besluit watter risiko jy gemaklik is om te neem, help ‘n kind om later risikos te bestuur, veral in sy tienerjare as mamma nie meer daar is om vir hom te besluit nie. Hy leer van kleins af hoe om besluite te maak. Onthou dat kinders leer om besluite te maak, deur besluite te maak, nie deur instruksies te volg nie.
Dit bou veerkragtigheid.
Dis ‘n baie lekker gevoel om te roep “mamma, mamma kyk ek het in die boom geklim.” Maar risiko spel impliseer dat ‘n kleintjie ook kan faal.. en dit bou veerkragtigheid (die engels is resilience). Dit leer ‘n kleintjie probeer, misluk en weer probeer.
Dit leer jou kind aanpasbaarheid.
Soos ‘n kleintjie iets nie regkry nie, moet hy aanpassings maak om dit wel reg te kry. Die hoeveelheid kere wat ek my seuntjie al dopgehou het waar hy van iets probeer af klim.. en sukkel.. is so baie. Die voetjie trap die boomstomp mis, of die volgende trappie is net te laag om by te kom. En elke keer as ek wil naderhardloop om hom af te tel, moet ek myself herinner, wat leer hy as ek hom aftel? Niks. Erger nog, dis EK wat hom die geleentheid om te leer ontneem. Hou bietjie jou kleintjie dop en kyk hoe hy sy handjies skuif sodat sy voete kan bykom. Of hoe hy homself omdraai en op ‘n ander manier probeer.
Dit help kinders om hulle lyfies se grense te leerken
Hier gaan ek jou uitdaag. Jou werk is nie om die omgewing so veilig as moontlik te maak nie, maar so veilig as wat nodig is…
Ons almal dink; ‘ek het boomgeklim, ek het buite gespeel, ek gun dit ook vir my kinders’. Maar jy het ‘n sekere ouderdom in jou kop? “Hy’s nog te klein.. eendag.” Dit help nie op 7 laat jy hom alles toe nie. Ouderdomsgepaste risiko’s is belangrik van kleins af. Dis al hoe ‘n kleintjie kan bepaal wat hy kan en nie kan doen nie.
Praktiese voorbeeld
Weet jy wat is verstommend? Kleintjies vat amper nooit risiko’s wat hulle nie kan baasraak nie. Omdat hulle van kleins af die kans gegun word om besluite te maak, het hy niks om te bewys nie en ken hy sy eie vermoëns. Om die reel wat ek vandag op instagram geplaas het, te verfilm, het ek spesifiek gestap na ‘n plekkie waar ek weet hy altyd teen die draad uitklim. Op hierdie spesifieke dag was die boer besig om sy lande nat te maak en daar was dus ‘n leivoortjie vol water. My seuntjie het heeltyd op die wal geloop en klippies ingooi. Aan die eindpunt word die voor dieper en die wal vorm so effens van ‘n trappie/muurtjie. Dis waar die water instroom. Hy wou probeer afklim. Ek kon sien hy gaan dit nie maak nie en gaan inval as hy probeer. Ek hom egter gelos en dopgehou. Hy het op sy hurke gaan sit op die muurtjie en eers die een voet en toe die ander voet probeer in die voortjie sit. Hy kon dit nie regkry nie, hy het effens anders gedraai, weer probeer en dit weer nie reggekry nie. En toe staan hy op en hy loop en speel verder! Hy het sy lyfie getoets en agtergekom – “hierdie risiko kan ek nie neem nie. My beentjies is doodeenvoudig te kort om hier in te klim. Ek gaan val as ek my voetjies probeer insit.” En dit is ‘n ervaring wat hy kan bêre. Elke soorgelyke ervaring maak van hom ‘n meer kompetente besluitnemer. ‘n Meer bevoegde risiko-analiseerder. Dit maak dit vir hom makliker om te oordeel wat hy kan en nie kan nie en dit maak hom ‘n veiliger speler. Ek is so dankbaar ek het hom nie weggevat voor hy eers probeer het nie, want partykeer wil ek hom instinktiewelik keer om iets te doen waar ek weet hy gaan val of nie regkry nie. Maar dan misgun ek hom so baie.
Wat hou jou kind terug?
1. Jou eie vrese
Ons as ouers, en seker veral as mamma’s moet ons eie vrese oorkom. Ek kan so goed onthou hoe my ma altyd moes wegkyk as ons boomklim. Sy hou glad nie van hoogtes nie en dit was nie vir haar lekker om haar kinders hoog bo in die wolke te sien nie. (uit die aard van die saak was dit ons grootste plesier om so hoog as moontlik te klim en dan te roep “mamma, kyk!”, net om haar reaksie te sien.)
Ons praat hier van veilige risiko’s, nie lewensgevaarlike risiko’s nie. My proppe is toegedruk, my kombuismesse word hoog gebêre.
Vra jouself af, ‘Wat is die ergste wat kan gebeur?’ Hy kan afval. ‘Hoe ver kan hy val?’ ‘n Meter of twee tot op die gras? Is dit regtig die moeite werd om jou kind van ‘n leergeleentheid te ontneem omdat jy bang is hy gaan ‘n meter val?
En jy kan mos die risiko’s sif. As jou 4 jarige met ‘n hamer speel en vir pappa help om spykers in te kap, kan hy die hamer op sy toon laat val of sy vinger raak slaan (let wel nie met baie krag nie, want hy kan net so hard slaan as wat sy eie armpies kan slaan). Nie die grootste beserings wat kan plaasvind nie, maar baie ruimte vir leer en ontdek. As hy egter pappa wil help met die sirkelsaag, waar een verkeerde beweging sy arm kan afsaag, is jy mos volwasse genoeg om dit te keer.
Ek wil jou aanmoedig om veilige risiko’s in jou kind se spel te inkorporeer. Laat hom ‘n fort bou met planke en lakens. En bo-op klim. Laat jou ouer kind met sy fiets bo-oor ‘n dun plankie op ‘n klip ry. Laat jou kleintjie in die boom klim. Jy staan mos onder. Laat jou kind oor die modderpoel spring. Laat jou kinders vir pappa help in die motorhuis.
Jy sal verstom staan oor hoe baie hulle kan doen en hoe slim hulle is met risiko-assessering.
Liefde, Renate