Ons wonder baie oor wanneer ons babas sekere mylpale moet bereik en wat ons kan doen om dit aan te moedig. Hoe vroeg begin ek met ‘stimulasie’ en waarmee begin ek?
Vandag wil ek gesels oor die eerste paar weke met jou nuwe, pasgebore baba!
As mense inligting skryf oor stimulasie deel hulle die ouderdomme gewoonlik op in 0-3 maande, 3-6 maande ensovoorts. Ek voel die eerste 3 maande is ‘n geweldige sprong. Jou baba begin van ‘n pasgebore baba wat niks anders doen as huil, eet, en slaap nie, na ‘n 3 maande oue dingetjie wat geluidjies maak en glimlag. Dis ‘n helse verskil.
So kom ons fokus op die eerste ongeveer 3 weke.
Die begin
Jou baba was vir 9 maande in die veiligste, knusste plekkie en hy het nooit enige ongeantwoorde behoeftes gehad nie. Om die waarheid te sê, hy het nie eers geweet hy het behoeftes nie. Hy was nooit te warm of te koud nie, hy was permanent gesus deur sy ma se bewegings en hartklop hier naby hom. Hy was nooit honger nie, want hy het ‘n konstante stroom van voeding gehad.
En toe. Ewe skielik na geboorte is daar helder ligte en harde klanke. Daar is onaangename aanrakings. Suster prik sy voet om sy bloedglukose te toets. Hy kry sy heel eerste inentings al op Dag 1. Hy kry koud as sy ma hom uittrek vir bad, warm in die bad en weer yskoud voor hy aangetrek word. Hy word wakker, en kom agter hy is alleen en honger en boonop het hy winde wat sukkel om uit kom. Baie vir so ‘n klein mensie, né?
Soos jy kan agterkom is dit ‘n groot sprong van die baarmoeder na die buitewêreld. Net soos jy as nuwe ma jou voete moet vind, het jou baba ook baie om aan gewoond te raak. Primêr wil ons ‘n sterk band tussen mamma en baba kweek sodat baba kan leer die wêreld is mooi en veilig. Die beste ‘stimulasie’ vir jou baba is JY! Jou stem, jou aanraking, jou reuk, jou gesig.
Baba se ontwikkeling direk na geboorte.
Jou baba word gebore met al vyf sintuie, sekere sintuie is nog net onderontwikkeld. As ons na baba se sintuie kyk, sê dit eintlik presies vir ons wat om te doen.
MItes, Mites, Mites
Kom ons gesels bietjie oor 3 Mites wat ek so baie hoor in verband met pasgebore babas
Jy gaan jou baba bederf as jy hom te veel optel
Nee! Hoe meer jy jou baba optel as hy huil en dadelik aan sy behoeftes voldoen, hoe vinniger leer hy dat die wereld ‘n veilige plek is. Hy leer om te vertrou want hy kan voel hoe daar na sy behoeftes omgesien word. Jy gee vir hom die vaardighede om later in sy lewe, wel weg van sy ma af te kan funksioneer omdat hy weet dat jy daar is.
Begin soos jy wil eindig
Hierdie sin ken julle dalk beter in Engels. “Start as you mean to go on” Dit verwys byvoorbeeld daarna dat as jy nie later wil hê jou baba moet op jou aan die slaap raak nie, moenie nou die gewoonte inoefen nie. Ek vertaan nie, hoe hierdie enigsins op ‘n nuwe babatjie van toepassing is nie. Ek wil nie hê my baba moet later in sy lewe net melk drink nie, dit beteken nie ek begin met vastekos nie. Ek wil ook nie hê my kind moet skool toe gaan met ‘n fopspeen in sy mond nie, tog gee 9 uit 10 ma’s vir hulle babas fopspene. Hoekom? Want dis ouderdomstoepaslik. Sekere vaardighede leer babas later aan. Dieselfde met afhanklikheid van ‘n ma. Mens verwag van ‘n klein babatjie om afhanklik van sy ma te wees. Dis normaal. Jy is al wat hy tot dusver ken. Jy is waar hy veilig en geliefd voel en die eerste paar weke is baie belangrik vir die ontwikkeling van ‘n sterk band tussen ma en baba. So wees daar vir jou baba en ek herhaal weer, dit lê ‘n goeie fondasie vir later in ‘n kleintjie se lewe. Hoe beter sy band met jou NOU is, hoe makliker kan hy later met tye sonder jou regkom.
Kry jou baba op ‘n skedule!
Regtig? Dis baie, baie, baie ou raad. Honger babas moet gevoed word. Hulle het baie klein magies en hulle bloedglukose kan baie vinnig daal. Moeë babas moet toegelaat word om te slaap. Vergeet van skedules. Leer jou baba ken, sy hongertekens en die seine wat hy gee as hy begin moeg raak. Niemand van ons is elke dag op ‘n streng skedule nie. Wat nog te sê ‘n klein babatjie?
Opsommendergewys
- Hou jou baba baie vas. Vergeet van skedules en self aan die slaap raak. Doen lekker baie vel-to-vel kontak. Veral aan die begin.
NS: Dit beteken nie jy moet jou baba heeltyd vashou nie. As hy klaar gevoed, sy doek geruil het en mamma het met hom gesels, ‘swaddle’ hom en lê hom neer terwyl hy slaap. Ek probeer net vir jou vertel dat daar nie reëls is nie. Daar is nie iets soos te veel voed of te veel vashou nie.
- Voed jou baba op aanvraag. Dis belangrik vir jou baba om optimaal te kan groei en dis belangrik vir jou melkproduksie om te stabiliseer. Meeste babas verloor ‘n bietjie gewig na geboorte so ‘n voedingsskedule is ‘n nee-nee.
- Gesels met jou baba tydens sy wakker tye. Vertel hom wat jy besig is om te doen, hoe mooi hy is en hoe lief jy hom het.
Vir jouself:
- Vat ten minste een dagslapie.
- Drink baie water.
- Ontspan! Jy’s die beste ma vir jou kleintjie.
- Geniet jou baba en volg jou instink. As jy hom wil optel of bo-op jou aan die slaap wil laat raak, doen dit! As jy hom in sy eie bedjie wil laat lê, wonderlik! Dis jou baba!
Doen wat JOU baba tevrede en gelukkig maak en sy behoeftes beantwoord!
Liefde,
Renate