Ek het op 6 maande my seuntjie vir die eerste keer op die potjie gesit. Party mammas begin van geboorte af, maar 6 maande is ‘n lekker ouderdom omdat babas self kan regop sit en dis wanneer jy begin met vastekos! En kom ons wens eerlik¸ borsmelkdoeke is ‘n plesier. Dis wanneer hulle begin vastekos eet wat dit ‘n hele paar trappies onaangenamer word.
Ons het eerste begin met nr.2. Omtrent alle mammas weet wanneer hulle babas besig is om hulle doeke vuil te maak. Hulle gesiggies word rooi en jy kan sien hulle druk! So in plaas van om my seuntjie dop te hou soos hy sy doek vuilmaak, sit ek hom bloot op sy potjie.
Soos hulle meer en meer vastekos eet, sal jy naderhand sien hulle kom in ‘n roetine met hulle opelyf. Na ek ruk het ek geweet hy moet gewoonlik nr. 2 na ontbyt. So in plaas van om te wag tot hy begin druk, het ons ontbyt opgeruim en afgedek en dan het ek hom op die potjie gesit. Dan lees ek vir hom ‘n boek of bou blokkies tot hy klaar is. Teen ongeveer 12 maande het hy selde, indien ooit sy doek vuil gemaak. Ek het sy roetine geken en hom net altyd op die potjie gesit as ek verwag of kan sien dat hy moet nr. 2.
Toe ons gemaklik was met nr 2, het ons begin met piepies.
Die maklikste piepies om te ‘vang’ is in die oggend as hulle wakker word en na slapies. Soos ek in my vorige blog genoem het, het kleintjies net soos ons, verhoogte ADH vlakke terwyl hulle slaap. Sodra hulle wakker word, val hulle ADH vlakke en hulle moet piepie (nes ons). So sodra my seuntjie wakker geword het in die oggend – potjie toe. Sodra hy opstaan van sy middagslapie – potjie toe.
Weereens het ek hom dopgehou en begin agterkom wanneer hy piepie. Byvoorbeeld – hy word wakker en piepie in die potjie. En dan na ontbyt sit hy weer op die potjie (nr 2 en gewoonlik ‘n piepie ook) en dan let ek op, wanneer is sy doek weer nat? Hier rondom 9 uur. Dan gaan slaap hy. Na sy slapie piepie hy weer in sy potjie. En dan iewers voor middagete is daar weer ‘n nat doek. Nog ‘n middagslapie, piepie op die potjie en dan is daar in die middag weer ‘n nat doek. So het ek maar net eers dopgehou wanneer hy piepie. Ek het opgelet om en by hoe laat? Hoe lank na hy iets gedrink het piepie hy gewoonlik? En toe het ek hom op daardie tye op die potjie gesit. Stadig maar seker het ons meer piepies gevang tot daar omrent net een piepie ‘n dag in sy doek was. En verbasend genoeg, ongeveer op 15, 16 maande het hy begin sê, “piepie, mamma, piepie”. Dit was nie meer nodig vir my om hom so dop te hou nie, want hy het begin sê as hy moes gaan. Op +- 18 maande het hy glad nie meer ‘n doek nodig gehad nie, nie dag of nag nie.
Wenke
- Begin vroeër en haal die druk van ‘potty training’ af. Om die waarheid te sê ek is nie eers mal oor die woord ‘potty training’ nie. Jy hoef nie ‘n kind leer om badkamer toe te gaan nie. Jy moet hom bloot dophou en sy roetine aanleer.
- Na jy begin het (in ons geval 6 maande), probeer ‘n doek sien as ‘n iets waarop jy kan terugval, nie die toilet nie. M.a.w as jy winkel toe, kerk toe of na vriende toe gaan, waar jy nie vinnig vir baba op die potjie kan sit nie, sit jy ‘n doek aan. Maar andersins? Daar is regtig geen rede om jou baba nie op die potjie te tel nie.
- Hou jou kind dop vir ‘n paar dae. Wat is sy patroon? Wanneer gaan hy gewoonlik badkamer toe? Wanneer piepie hy gewoonlik? Watter tekens wys hy voor hy gaan piepie/ poepies? Vat hy aan sy doek? Skuif hy ongemaklik rond?
- Begin met nr. 2. Dis regtig nie moeilik nie, dis net ‘n kopskuif. In plaas van om jou baba dop te hou wat sy doek vuil maak, sit hom op die potjie! Dis ‘n baie natuurliker posisie om in badkamer toe te gaan en help hulle om makliker te gaan. As jy een ding doen, sit jou kind op die potjie as jy sien hy druk! Dis nie moeilik nie en elke doek wat jy nie hoef te ruil nie is ‘n wen. Ongelukkig raak babas gewoond aan die sensasie van in hulle doek badkamer toe gaan en dis hoekom hulle dan weier om in die potjie te gaan en slegs in ‘n doek wil gaan.
- Die maklikste piepies om te vang is die eerste oggendpiepie en direk na middagslapies.
- En as jy daai piepies en nr 2 vang is jy klaar ‘n ver ent weg? Ek bedoel net die feit dat jy nie meer vuil doeke hoef skoon te maak nie?!)
- Hê ‘n neutrale reaksie. Badkamer toe gaan is natuurlik, net soos asemhaal. Geen mamma prys haar kind vir asemhaling nie, maar ons het helse reaksies op ‘n poepie in ‘n potjie. Ek seker jyt dit al gehoor. “Oe baie mooi, goed gedoen, dis ‘n baie mooi poepie, hiers vir jou ‘n sweetie, plakker ect” Soveel so dat kinders rondloop en dit vir pappa of ouma wil gaan wys. Net so, moet jy ook nie raas nie. Sodra ons raas of prys plaas ons druk op die kind. Hy wil vir mamma plesier (want onthou sy prys hom) so nou probeer hy sy bes om te piepie, al het hy nie ‘n piepie nie. Hy ervaar ook spanning as hy perongeluk in sy doek gepiepie het want 1. Hy kry nie prys by mamma nie en 2. Hy word mee geraas. Onthou om badkamer toe te gaan is natuurlik. Jy kan bepaal waar jou kind dit doen, in sy potjie of in sy doek.
Nog ‘n paar gedagtes
- Ek belowe dis makliker as wat jy dink. Jy ruil elke nou en dan jou baba se doek om, jy kan hom op die potjie sit as jy weet hy moet gaan. Dis 456 keer meer moeite om ‘n doek te ruil. Jy moet hulle hele boudjies, bene en alles afvee. Op ‘n potjie is daar omtrent niks om af te vee nie.
- 6 maande is ‘n lekker tyd om te begin omdat dit gewoonlik is wanneer babas beide begin sit en vastekos eet.
- Jy hoef egter nie so vroeg te begin nie. Ek sal egter voorstel, maak nie saak of jy jou kind vroeër of eers op 3 wil potty train nie, dat jy jou kleintjie aan ‘n potjie blootstel teen ongeveer 1 jaar.
- Dit is makliker as jy ‘n tuisblymamma is of dalk halfdag werk, maar jy kan steeds jou kleintjie blootstel aan ‘n potjie wanneer jy tuis is. Sit hom oor naweke op die potjie of wanneer ookal jy tyd het. Die doel is om hulle gewoond te maak dat die potjie ‘n plek is waar ek badkamer toe gaan, VOOR hulle slegs gewoond is aan in die doek gaan en voor hulle die “ek wil self” stadium betree.”
- As jy sekere piepies of poepies mis, wie gee om?
- Moenie bang wees om hulle vir ‘n dag of 6 sonder ‘n doek te laat rondloop as julle byvoorbeeld in die tuin speel nie. Jy kan baie makliker sien wanneer hulle badkamer toe gaan en hulle roetine aanleer. Dis ook baie makliker vir hulle om so tussendeur die spelery op die potjie te klim. Aan die begin het ek altyd die potjie byderhand gehou as ons speel. Dit is ook ‘n visuele herinnering om op die potjie te gaan.
Algemene wenke vir “potty training” op enige ouderdom.
- Moenie vrae vra nie, gee ‘n stelling. As jy byvoorbeeld vra; “Wil jy gaan piepie?” nooi jy net jou kleintjie uit om te sê nee. En glo my hy gaan sê nee. Sê eerder: “Kom ons gaan piepie gou” of wees selfs meer spesifiek. Met my seuntjie werk dit baie goed om te sê: “Piepie asseblief vir mamma hierdie boom nat,” of “sit gou hier dan piepie jy vir mamma in die toilet.”
- Laat jou seuntjie saam met pappa in die tuin gaan piepie. Vat jou dogtertjie saam as jy badkamer toe gaan en sit haar op die potjie langs jou. (en jou seuntjie)
- Leer hulle die woordeskat aan. “Hoor, mamma piepie,” of “Daarsy jy het gepiepie.” Dit help hulle om die aksie by die woord te voeg en later self te kan sê wat hulle wil doen.
Laastens soos my man sê, “Dit vat nie ‘n spesiale mamma of ‘n spesiale baba om vroeg van die doeke af te wees nie. Dit vat net ‘n kopskuif.”
Liefde, Renate