Babatjies het nie ‘n vaste dag en nag slaaproetine in die baarmoeder nie. Hulle slaap wanneer hulle wil. Om die waarheid te sê partykeer slaap hulle meer gedurende die dag omdat jy heeltyd rondbeweeg en hulle sus. En dan net soos jy gaan neerlê in die aand om te gaan slaap, word hulle wakker en begin skop. Klink dit bekend?
So as hulle gebore word is babatjies bietjie deurmekaar oor wat is dag en wat is nag. En die eerste ruk maak dit nie so baie saak nie want hulle is omtrent net wakker om te voed, maak nie saak of dit dag of nag is nie. Maar vinnig, vinning begin hulle vir kort tydjies wakker word tussen voedings en die volgende slapie, en dan wil jy graag hê, hulle moet hulle langste strek in die aand slaap. Maak nie saak hoe oulik daai baba-laggies is nie, dit is frustrerend 2 uur in die nag as jy so hard probeer om vir baba weer aan die slaap te kry!
Ons wil so graag hê ons babatjies moet slaap dat ons hulle kamers pikdonker maak en tjoepstil bly terwyl hulle slaap. Maar…dis presies hoe die nag ook klink en lyk! Hoe kan jy dan van jou baba verwag om die twee te onderskei?
So hier volg ‘n paar wenke wat jy kan doen om vir jou baba te leer wanneer is dit dag en wanneer is dit nag.
In die dag
- Voed in ‘n verligte vertrek. As baba in die oggend wakker word, trek oop die gordyne, vat die baba sitkamer toe en voed in die lig.
- Hê interaksie na elke voeding voor hulle volgende slapie. Gesels met jou baba, speel met hulle toontjies, lees ‘n storie.
- Maak die omgewing raserig. Moenie bang wees vir algemene daggeluide nie. Sit die radio aan, stofsuig, stryk, laat die hond blaf. Dis nie nodig om soos ‘n dief in die nag rond te sluip en niks te doen nie omdat jy bang is jou baba word wakker nie. Die dag het geluide, dis normaal.
- Moenie jou baba se kamer waar hy slaap pikdonker maak nie. Maak seker daar kom ‘n klein bietjie lig in. Dit help hulle om te onderskei tussen die ligter dag en die donker nag.
- Vars lug. Een van die beste manier om jou baba se kirkadiese ritme in te stel is deur buite in die sonlig te wees. Vat jou baba uit tuin toe iewers deur die dag. Gaan sit en voed in die tuin. Gaan vir ‘n stappie. Wys vir haar die wêreld.
Voor die nag
Jy kan vroeg-vroeg met ‘n roetine begin wat anders is as voor ‘n gewone dagslapie. Ek is nie ‘n voorstander vir sg. ‘sleep training’ vir klein babatjies nie, veral nie waar hulle gelos word om te huil nie. ‘n Roetine is egter iets wat jy kan doen wat jou baba voorberei vir wat volgende gebeur nl. slaap. Naderhand assosieer hulle die roetine met slaap.
- Doen jou slaaproetine. Ons het altyd gebad, dan gevoed en dan geslaap. Gewoonlik val babatjies sommer so aan die bors aan die slaap. Draai dan vir baba lekker styf toe (swaddle) en laat baba slaap.
- Voed in ‘n donker of sagbeligte kamer.
- Hou dit stil(erig). Ons wil graag hê baba moet afwen en rustig word vir die nag. Niemand kan ontspan met ‘n flitsende TV of vreeslike geraas nie. Daar word altyd aanbeveel dat ons ‘n uur of twee voor ons gaan slaap van ons fone of rekenaars afklim. Dis dieselfde vir baba. Navorsing het bewys dat selfs ‘n TV wat in die agtergrond aan is, net voor hulle moet gaan slaap, dit vir babas moeiliker maak om aan die slaap te raak.
In die nag
- Moenie die groot lig aansit vir ‘n voeding nie. As jou baba in die nag wakker word, probeer dit so donker en stil as moontlik hou. Sit dalk ‘n klein bedlampie aan, voed, ruil jou baba se doek en sit vir baba terug in die bed.
- Moenie gesels en speel nie. Voed en ruil jou baba se doek. Dis al.
Die basiese beginsel is dat jy in die dag die omgewing lig en raserig wil maak en in die nag donker en stil. So maklik soos dit.
Ek hoop dit help vir daai babatjies wat hulle dae en nagte omruil!
Liefde, Renate