Ek wou vir een maand (dalk hou ek langer aan, wie weet) geen kos koop of kook wat enige kunsmatige byvoegmiddels (additives) bevat nie. Dus geen kleursel/geursel/stabiliseerders/emulsifiseerders ensovoorts nie. Elke bestanddeel moet iets eetbaars op sy eie wees.
Uhhm en toe bak ek op dag 2 vlakoekies! Ek het spesifiek die vanieljegeursel uitgelos want, wel, dit is presies wat dit sê, net geurmiddels. Maar vlapoeier!! Ek lys vir jou die bestanddele; “Cornstarch, salt, flavouring, colourants (E104, E124)”. Mooi gedoen, Renate!
In elk geval, ek is nie van stryk gebring nie, ek hou aan met my voorneme.
Maar laat ek vir jou sê, dit is moeiliker as wat ek gedink het om alles uit te sny. Daar is regtig min ‘ekstras’ wat jy kan koop wat nie iets by het nie. Jy is beperk tot rou vrugte, groente en vleis. C’est ca!
Ek het hierdie idee in my kop dat ons gesond eet. Ek kook kos, ons koop nie sommer wegneemetes nie of klaargaarkos nie. Ek geniet dit om kos te maak en te bak vir my gesin. Maar as ek mooi na alles kyk wat ek kook, sit ek eintlik baie onnodige, ongesonde goed by ons kos. As ek in elk geval die tyd gebruik om kos te maak, hoekom bederf ek dit deur ongesonde oneetbare nie-bestanddele by te sit?
En ek neem myself ’n bietjie kwalik omdat ek tenspyte van die oorweldigende bewyse teen die gebruik van byvoegmiddels, steeds nie erns daarmee gemaak het om dit uit te sny nie. Ek koop steeds speserymengsels, hoenderaftreksel (stock), brood, jellie, vla, joghurtjies, tertjies, versnapperings, hoender schnitzel, ribbetjies met sous, noem dit maar op. Elke keer as ek ‘n verjaarsdagkoek bak en ek kleur versiersuiker of ek sit vanieljegeursel by, kry my kinders ook kleur en geurmidddels in. Om watter rede? Ek kan netsowel nie die kleursel bysit nie, netsowel nie vanieljegeursel koop nie. Ek hou dit eerder vir die raar keer wat ons wel uiteet of iets koop wat in elk geval nie gesond is nie.
Hier is ‘n foto ‘n paar goed wat ek sover uitgegooi het.
Ek het onlangs die boek ‘French women don’t get fat” gelees en is weer geinspireer om gesond en seisoenaal te eet.
Ek het sommer ook weer gaan oplees oor kunsmatige voedselbyvoegmiddels en vertaal vir julle ’n stukkie uit ’n artikel oor die gebruik van kunsmatige byvoegmiddels.
”Baie navorsing hou voor dat kunsmatige kleursels, geursels, preserveermiddels en versoeters (non-nutritive sweeteners – soos die wat jy in zero gaskoeldrank kry), emulsifiseerders en ander byvoegmiddels geassosieer word met verhoogde psigiese gesondheidsprobleme, ADHD, kardiovaskulêre siektes, metaboliese probleme en selfs karsinogeniese effekte (kanker) besit. Kleursel veral is bewys om probleemgedrag in kinders te veroorsaak. In diere wys studies dat hierdie kleursels en byvoegmiddels sitotoksiese, neurotoksiese, genotoksiese en karsinogeniese effekte het. M.a.w. dit is skadelik vir jou brein, alle selle, jou gene en veroorsaak kanker.”
Punt is, daar is regtig niks gesond aan E22, E457 en al die ander middels wat winkels byvoeg om dinge langer te laat hou, helderder te laat lyk of beter te laat proe nie.
So ja, ek is vasbeslote om soveel as moontlik byvoegmiddels uit ons kos uit te sny! Ek besef ‘n mens kan nie heeltemal skoon leef nie. Daar is hormone, plastiek, pesdoders en noem dit op in ons water en grond, so ook op ons kos en klere. Boonop gaan die kinders kleursels, geursels, suiker en wat nog alles by maatjies, oumas en tannies eet. Ek besef dit en ek weet ‘n mens kan nie alles vryspring nie. Maar ek hoef nie by te dra tot die hoeveelheid gemors wat hulle eet nie. Ek wil, waar ek kan, die lading toksiese, nie eetbare, onverteerbare stowwe verminder. Ek wil dit tog maklik vir hulle lyfies maak om te konsentreer, speel en leef. Ek wil nie hulle nuwe dermpies verwoes nie. Daar is eintlik geen rede vir my om dit te koop nie. Hoekom koop ek die lekkers? Omdat ek voel ek bederf hulle? Dit is ‘n baie groter bederf om gesond en allergievry groot te word as om blou fizzers te eet.
So ja, ek wil graag so skoon as moontlik uit en sien eintlik vreeslik uit om alternatiewe maniere te kry om dinge te kleur en geur!
Ek gaan probeer om die blog op te dateer met alles wat ons maak, maar ek raai meeste van my opdaterings gaan op IG wees!
Baie liefde
Renate.
Leave a Reply