Babas en slaap. Sjoe dis seker een van die mees bespreekte onderwerpe tussen ‘n groepie nuwe ma’s. Ek dink nie daar is een ma wat nog nie gegoogle het ‘how to get my baby to sleep’ nie.
En saam met slaap kom ‘sleeptraining’. [Ek gaan deurgans maar die woord ‘sleeptraining’ gebruik, alhoewel dit Engels is en die taalpuris in my krap. Dis maar net die bekendste woord. Slaap-oefening, slaap-leer, klink net nie heeltemal so goed nie.]
‘Sleeptraing’ is ‘n multi-miljoen dollar industrie reken ek. Van wiegies wat sus en beweeg in die nag, tot badsoute, slaapmiddels, kombersies of sagtespeelgoed of ‘loveys’ wat spesifiek jou baba gaan help slaap (hmm), agtergrondklankmasjiene tot tannies wat jou help met hulle geheime resep vir slaap. Sg ‘sleep consultants’. En ons almal val daarvoor, want ons is net so moeg. Selfs die mees geharde anti-sleeptrainer (myself inkluis) kom op ‘n punt waar hulle sê, nee genoeg is genoeg. Bring vir my allllll die produkte en slaaptannies. R 3000 vir die konsultant se sessie en ‘leermateriaal’? “Gee vir my die bankbesonderhede. Ek betaal dadelik.” R700 vir ‘n klankmasjien? “Gee my 3.” Laventelolie vir die bad? “Kan ek dit in die nag onder sy neus ook smeer?” So desperaat raak ons. Ek kyk nou terug en lag, maar dit was definitief nie toe so snaaks nie.
En hoewel ek nie stry dat een (of ‘n kombinasie van al die bg.) jou baba kan help slaap nie, is dit alles plaasvervangers vir gereedskap wat jy reeds besit.
Fopspeen? Jy het die eerste en beste fopspeen, die een waarvolgens alle fopspene gemaak is. Jou bors! En is om fopspeen te suig nie presies dieselfde aksie as borsvoed of bottel drink nie?
Klankmasjien? Jou baba wat op jou bors of in jou arms met die ritmiese geklop van jou hart in sy oortjies aan die slaap raak. ‘n Bekende klank wat hy al van baarmoederdae af onthou.
“Gadgets’ wat kan wieg of beweeg? Jou arms wat jou baba aan die slaap sus.
Olies? Jou reuk! ‘n Baba kan van Dag 1 af sy ma se reuk herken! Dis waarom hy so veilig in jou arms voel!
Nou maak dit sin dat jou baba eintlik net by jou aan die slaap wil raak. Al die ander goed is gebou om jou te vervang. En wat as jy nie vervang hoef te word nie? Wat as dit normaal is vir ‘n klein babatjie om sy ma te benodig? Hoekom gebruik ons nie ons-self nie?
Want ons word oor en oor vertel van die goue reëls van baba-slaap:
- Jy mag nie jou baba aan die slaap voed nie, anders word hulle afhanklik.
- Hulle mag nie by jou in die bed slaap nie, en verseker ook nie middagslapies op jou vat nie, want anders kan hulle dit nooit sonder jou doen nie.
- Jou baba moet wakker in die kot gesit word, anders gaan hy nooit leer om homself aan die slaap te maak nie.
En ons weet al hierdie sinne is waar want ek en al my vriende is nou al in ons 20’s en borsvoed nog steeds aan om aan die slaap te raak en is mal daaroor op bo-op ons ma’s aan die slaap te raak?? Regtig? Nee!
Ons Westerse kultuur (eintlik het dit oorgespoel van Amerika af) is so behep met onafhankliheid. Ons babas moet so vroeg as moontlik in hulle eie kot, in hulle eie kamer slaap. Om hulle te kry om deur te slaap is die hoofdoel. Dit terwyl ander kulture dit glad nie doen nie. In die oosterse-en afrika kulture slaap kleintjies by hulle ma’s. In een studie het ‘n groep navorsers video’s van Amerikaanse ma’s en babas aan Keniaanse ma’s gewys. En die ma’s in Kenia was geskok oor hoe lank die Amerikaanse ma’s vat om hulle kleintjies te gaan optel as hulle huil. Want dit is nie natuurlik nie. Dis natuurlik om jou kleintjie se behoeftes te bevredig. Ons doen dit al eeue lank en alle ander soogdiere doen dit.
En hier is die kruks van babas en slaap. Dis normaal. Dis ontwikkelingstoepaslik vir ‘n baba om wakker te word in die nag, om sy ma nodig te hê om te slaap. Jy kry beter en jy kry slegter slapers. En jy hoef nie ‘n baba te ‘leer’ om te slaap nie. Hy kan slaap. En later sal hy sommer op sy eie jou nie meer nodig hê nie.
Ek het myself vas voorgeneem ek gaan die ‘eat-awake-sleep’ reseppie met my kleintjie doen. Dit was voor ek my seuntjie in my arms gehou het. En onthou ek het een of 10 keer probeer om hom van die bors af te haal terwyl hy nog drink sodat ek hom ‘wakker’ in sy kot kan sit. Ek het probeer om hom te los as hy wakker word sodat hy self weer kan rustig word. En in elk geval wakker gelê omdat nie ek of my man kan slaap met ‘n huilende baba nie. En huilend vir my man gesê; Hulle sê jy mag hom nie aan die slaap voed nie en jy moet 5 minute wag voor jy ingaan en en en, maar hy is dadelik tevrede as ek hom optel!” Toe sê my man vir my: “My vrou, doen wat werk!” Dis die mantra, as hy dadelik weer aan die slaap raak as jy hom optel, hoekom sal jy kosbare slaap opoffer om iets anders te doen? Doen wat werk.
En toe ek dit doen, kom ek agter:
- Om ‘n pasgebore baba wakker te hou terwyl hy borsvoed is kort duskant onmoontlik. Hy drink tot hy versadig is en raak dan rustig aan die slaap.
- Om my seuntjie toe te laat om soms ‘n middagslapie op my te neem is absoluut hemels.
- Om sy warm lyfie by my in die bed te tel as hy snags huil is, is so berustend. Ek kan rustig slaap want hy’s veilig by my.
En weet jy wat is die ergste. Dis alles reeds verby. My seuntjie borsvoed nie meer sodat ek net na hom kan staar nie. Hy verkies om slapies in sy eie kot te vat. En meeste nagte roep hy my nie om hom op te tel nie! En nou is ek oneindig dankbaar vir die bietjie meer as ‘n jaar wat ek dit wel kon doen.
Hierdie bloginskrywing is nie hier om jou af te raai om hulpmiddels te gebruik om jou baba te laat slaap nie. Dis nie om jou af te raai om jou baba is sy eie bedjie neer te lê nie. Of om te probeer om ‘n wakker tydjie in te werk tussen sy voeding en slapie nie. Of om dalk te wag en hoor of hy self weer aan die slaap gaan raak nie.
Hierdie blog is om jou te laatweet dat jou baba 100% normaal is en vinniger grootword as wat jy dink. Dis om jou te laat besef dat die Westerse wêreld nie die enigste antwoord het nie. Dis om jou gerus te stel dat jy nie jou baba vir ewig bederf deur hom soms (of gereeld) in jou bed te tel nie.
Dis om jou oë oop te maak dat jy reeds slaaphulpmiddels beskik en om dit te koop ‘n geldmaakstorie is. En dat jy dit in elk geval maar mag koop, want soos my wyse man gesê het; ‘Doen wat werk!’
Baie liefde en sterkte,
Renate
Annette says
Wat van “slaapafrigting”? ‘n Baba word baie, baie gou groot en voor jy jou oë uitvee, het jou baba jou nie meer nodig vir melk, slaap en speel nie. Ek stem saam: doen wat werk en geniet die kleintyd.
renate.arbs says
Dis ‘n goeie opsie! Na ek die artikel geskryf het, het die WAT laatweet hulle gebruik die woord ‘slaapopleiding’!