Ek het Babaverkenningsvoeding (Baby led Weaning) met my baba gedoen, omdat ek van die fisiese voordele (soos beter fynmotoriese vaardighede, hand-oog koördinasie ens.) gehou het. Ek hou ook daarvan dat dit oor die algemeen minder fiemies veroorsaak. (Ek ‘n hele blogpost oor Baby led Weaning.) Ek was wel soms versigtig om dit vir mense te sê omdat ek gevoel het dis nuwerwets en ‘bougie’. Dit was asof purees die ou ding is en hierdie nuwe mammas met hulle BLW het mense hulle oë laat rol. Buitendien word babakos word vandag nog so slim geadverteer dat mens voel jy mis uit as jy dit nie vir jou baba gee nie.
Toe luister ek ‘n praatjie van ‘n Britse ortodontis en dit was vir my so interessant dat ek dit net met julle moes deel.
Waar het purees begin?
Voor die industriële rewolusie was mammas by die huis, hulle het hulle babas geborsvoed en vastekos is eers aan babas gegee wanneer hulle dit kon baasraak. Hulle het saam met die gesin geëet en dieselfde kos as die gesin geëet. Dink aan ‘n ma in die 1700’s. Sy het hoogs waarkynlik 6 na 8 na 10 kinders gehad. Sy moes wasgoed met die hand was, dalk die koei melk, die groente plant, oes, skil, kosmaak, kleremaak, ensovoorts. Sy was ‘n besige tannie. Veels te besig om elke ete 30 minute langs haar nuutste baba te sit en hom te probeer voer. Om nie te praat van om babakos deur ‘n sif te moet fyndruk nie. Dit was doodeenvoudig te tydrowend om ‘n baba se kos te so fyn te probeer maak. Die kos was dalk ‘n bietjie kleiner gesny of sagter gekook, maar dit was steeds baie dieselfde as wat die gesin geëet het en altyd tuisgemaak. Daarom is daar gewag totdat babatjies self belangstelling begin toon het in die kos en die hand-oog koördinasie gehad om (grotendeels) self te eet. Natuurlik was daar pap en fyn kos wat ‘n ouer kind dalk help voer het, maar kleintjies is aan ‘n baie wye verskeidenheid teksture blootgestel.
Tydens die industriele rewolusie het moeders vir die eerste keer buite die huis begin werk, in so ‘n mate dat hulle nie meer kon borsvoed nie. Dit is in hierdie tyd dat beide formula melk en babapurees begin opslae maak het. Omdat mammas nou vroeër vir hulle babas moes kos gee, het hulle kos benodig wat ‘n jonger en jonger kleintjie wel kan eet. Voordat kleintjies self reg was om te eet (en – sou ons later uitvind – voor hulle spysverteringsstelsel reg was vir vaste kos) is babas hierdie die purity-tipe kos wat ons vandag ken, gevoer.
Aanvanklik is dit uit noodsaak gedoen (die kleintjies was honger en moes eet), maar later het die baba-kos maatskappye se bemarking so effektief geword dat teen die 1950’s, babas vir die eerste keer kos gevoer is op so vroeg as 4 weke! Eers later het navorsers agtergekom watter skade ons aan kleintjies se magies maak as ons so vroeg begin.
Mondontwikkeling: Toeka tot nou
Mense het sterker monde en kake gehad ‘n 100 jaar terug met minder ortodontiese probleme en meer prominente kakebene. Deesdae moet almal amper hulle verstandtande uithaal omdat hul monde as’t ware te klein is vir die verstandtande. Vergelyk ‘n bietjie ‘n foto van die 1960’s met nou. Kan jy sien hoe sterk ontwikkel hulle kakebene was? Kan dit wees dat die manier hoe ons eet, hierdie verswakking in ons monde veroorsaak het? Klink my so.
Wat het ‘n invloed op mondontwikkeling?
Ons weet dat borsvoeding baie goed is vir ‘n baba se tand-mond-en kaakontwikkeling. ‘n Baba moet hard werk om die melk uit te kry en so oefen hy sy spiertjies.
Dit is hoekom dit uiters belangrik is om ‘n bottel te koop met die regte grootte vloei. As jy ‘n bottel met te sterk vloei koop, loop die melk sommer uit die bottel uit, in baba se mond in. Jy wil hê dat jou baba steeds hard moet werk om die melk uit die bottel te kry.
Ons weet ook dat daar ‘n verskil is tussen suig (wat klein babatjies doen om melk te kry, die engels is suckling) en sluk. Die volwasse sluk patroon lyk heeltemal anders as ‘n die baba se suig-en slukpatroon. En dit is iets wat ‘n baba moet oefen soos hy ouer word. Maar purees het baie dieselfde slukaksie as suig, dit oefen glad nie die volwasse slukpatroon nie. Vloeistof word steeds na agter geslurp.
Daar is nie een groot rede wat veroorsaak dat babas swak mond-en kaakontwikkeling en meer ortodontiese probleme vandag het nie, maar klomp bydraende faktore, onder andere:
- Babas borsvoed nie meer nie of borsvoed baie kort.
- Babas hou baie lank aan om hierdie onvolwasse suigpatroon te gebruik (infant suckling pattern) deur middel van bottels en fopspene. Kyk gou om jou rond. Wat dink jy is die gemiddelde ouderdom wat babas ophou uit ‘n bottel drink? Of ophou met ‘n fopspeen? 2? 3? Meeste babas wat ek ken drink nog bottels in die nag of of gebruik fopspene terwyl hulle slaap op drie, selfs drie-en ‘n half. Daarinteen, leer ‘n baba wat uit ‘n oop koppie uit drink die volwasse slukpatroon aan. En tandartse beveel aan dat jy dit vanaf 6 maande kan gebruik!
- Babas eet te vroeg en vir te lank purees met dieselfde onvolwasse slukpatroon. ‘n Babatjie wat met kos begin, begin dadelik oefen aan die volwasseslukpatroon tewyl ‘n babatjie wat purees eet steeds suig in plaas van kou en sluk.
Verstommend, né?
‘n Paar wenke wat ek aan gedink het vir goeie mondontwikkeling:
- Borsvoed
- As jy formule kies, maak seker jou bottel is die regte grootte.
- Begin jou kleintjie vroeg aan ‘n oop koppie blootstel. Vermy ‘sippy cups’.
- Verminder die tyd wat jou baba aan ‘n bottel en fopspeen suig.
- Skakel relatief vinnig oor na vingerkos.
Ek hoop dit was vir julle so interessant soos wat dit vir my was.
Renate
Yolande says
Dankie vir die goeie inligting. Ek vind dit baie interessant. Kan nie glo hulle babas al op 4 weke begin kos gee nie. Ek is verseker n lui mama- nie kans gesien vir als puree nie😜
renate.arbs says
Dan is ek ook lui! Dit maak maaltye soveel meer plesierig, ek kry ook kans om te eet!