Ek is ‘n voorstander van borsvoeding en dink meeste mammas kan met die regte ondersteuning ten minste ‘n rukkie borsvoed.
Borsvoeding is objektiewelik die beste vloeistof wat jou baba kan inneem, maar dit is nie vir almal beskore nie. Ek sal elke mamma aanmoedig om ten minste borsvoeding ‘n kans te gee, maar baie indien nie meeste mammas gebruik een of ander tyd formule of bottelvoeding. ‘n Klein persentasie mammas kan doodeenvoudig nie borsvoed nie, moet terug gaan werk toe of borsvoeding meng so in met hulle geestesgesondheid dat dit beter is om te stop. Party babas word deur pappa of ouma groot gemaak.
Ek gaan spesifiek praat oor hoe jy die manier hoe jy bottelvoed so na as moontlik aan borsvoeding kan hou.
Eerstens!
Ek sal elke mamma sterk aanraai om ten minste 1 week te borsvoed. Al gee jy in die hospitaal reeds byvoeding. Al is jy heel teen borsvoeding gekant, gee ten minste vir jou baba kolustrum (een van my vorige bloginskrywings verduidelik presies hoekom kolustrum regtig vloeibare goud is. Kyk hier) Dis nie net tydens ons pandemie een van die beste goed wat jy vir baba kan doen nie, dit is voordelig vir jou ook. As jy een van die mammas is wat graag wil borsvoed, maar sukkel, weet dit: Enige bietjie borsvoeding is fantasties. As jy dit regkry om vir een week of een maand te borsvoed, dit help.
As jy oorskuif bottelvoeding toe, neem die volgende wenke met jou saam.
- Onthou vel-tot vel kontak. Net omdat jy nie borsvoed nie, beteken nie jy of baba hoef uit te mis op die voordele van vel-tot-vel kontak nie. Trek jou hemp en baba se kruippakkie uit en hou vir baba styf teen jou lyf sodat sy steeds vel-tot-vel kontak kan kry. Dit geld vir pappa of wie ookal ‘n pasgebore baba se primêre versorger is.
- Maak oogkontak. Jou bors en jou oë is die presiese afstand van mekaar af, waarop ‘n nuwe baba kan fokus. As jy dus vir baba in jou arms hou en voed, kan baba ook sy fokus oefen en jou gesig sien, net soos met borsvoeding.
- Moenie dat baba alleen drink nie. Moenie die bottel net vir baba gee en loop nie. Het jy geweet dat borsvoeding nie net vir baba kos gee nie, maar ook aan emosionele behoeftes voldoen? Na ‘n lang dag met baie dinge wat gebeur het of nuwe ervarings waardeur baba moes gaan, help borsvoeding om baba te kalmeer en weer kalm en rustig kan word. Jou bottel-baba het dieselfde behoeftes. Tel vir baba op en maak seker jy gee aandag en nie net voedsel nie. Om jou baba naby jou te hou, reguleer sy temperatuur, hartklop, asemhaling en stresvlakke. Jou baba dalk op 5 of 6 maande die bottel self vashou of jy kan dit teen ‘n kussing laat leun sodat hulle self kan drink, maar dan verloor hulle die voordeel van regulering.
- Gesels met baba. Dit sluit aan by punt nommer 3, maar maak voeding ‘n bindings-en leerervaring. Interaksie is belangrik vir jou baba.
- Laat baba toe om voedings te lei. Moenie ‘n bottel probeer klaarmaak nie. As baba die bottel uitspoeg of sy koppie wegdraai, is hy klaar. Oorvoeding met bottels gebeur baie maklik omdat mammas die laaste bietjie melk in die bottel sien en dink dat baba dit moet klaar drink.
- Maak seker jy gebruik die regte grootte/ouderdom tieties op die bottels. Bottels se vloei verskil, met ander woorde die melk kom makliker of moeiliker uit. Borsvoeding help om ‘n baba se mond en kaak-spiere te ontwikkel, wat later weer ‘n invloed het op spraakontwikkeling, omdat hulle lekker hard moet suig om melk uit te kry. As jy te groot botteltiete koop, vloei die melk te maklik en baba hoef glad nie te werk nie. Hierdie geld ook daarvoor as jy uitmelk en borsmelk vir baba in ‘n bottel gee.
- Voed baba op aanvraag. Formulemelk babas drink gewoonlik minder gereeld omdat borsmelk vinniger verteer, maar dit beteken nie dat hulle op skedule gevoed moet word. Alle babas moet eet wanneer hulle honger is.
Meer algemene wenke:
- Daar is nie iets soos ‘n perfekte babaformule nie. Elke babatjie verskil, sommige het refluks, ander is allergies vir laktose of soja. Werk saam met jou pediater of ander mammas wat al hierdeur is, om die melk te kry wat vir jou baba werk.
- Moenie jou ouer baba/kleuter bed toe stuur met ‘n bottel nie. Baie babas gaan slaap met milo en nesquick en lê heelnag met die suiker in hulle mond. Dit veroorsaak lelike tandbederf. Selfs al is daar formulemelk in die bottel is dit nie ‘n goeie idee om heelnag daaraan te lê en drink nie.
- Tandartse beveel aan dat jy baba tussen 12 en 18 maande van die bottel af speen. Jy kan soos wat jy vastekos aan jou baba blootstel begin om ‘n oop koppie vir baba te gee. Om uit ‘n oop koppie te drink is die heel beste vir normale tand- mond- en spraakontwikkeling.
Sterkte mamma!
Liefde, Renate