Dag 1 – 3
Het jy geweet jou baba se suigrefleks is op sy sterkste net na geboorte? Dis waarom ons baie keer praat van “the golden hour”. Ons wil hê ‘n babatjie moet binne die eerste uur na geboorte by sy mamma wees, verkieslik besig met vel-tot-vel kontak, sodat hy kan begin drink. In party hospitale is dit standaardpraktyk om ‘n babatjie dadelik bo-op sy ma se bors te plaas na geboorte, maar as dit nie is nie, vra die susters of jy asseblief direk na geboorte vel-tot-vel kontak kan toepas.
Die eerste ‘melk’ wat uitkom word kolostrum genoem. Dis ‘n ryk, dik, geel vloeistof vol proteïne en nutriente. Het jy geweet as jou baba gebore word is sy magie so klein, hy kan kan net tussen 5 en 7 ml met elke voeding hou? Hoe wonderlik is alles nie geskape dat aan die begin as baba se magie nog klein is, ons liggame so ‘n ryk vloeistof produseer dat 5ml daarvan genoeg is!
Om daardie selfde hoeveelheid nutriente en energie deur formulemelk in te kry, moet ‘n baba omtrent 25ml drink. Dus moet jy fisies baba se magie rek om hom genoeg kos te gee. Elke dag kan jou baba meer en meer vloeistof inneem, soos sy magie groei.
Tot en met twee derdes van kolostrum is witbloedselle, wat infeksie beveg. Borsvoeding is jou baba se eerste (en tot op hede enigste) verdedigingsmeganisme teen siektes.
Een van die mees algemene oorsake van fisiologiese geelsug in pasgebore babatjies is wanneer mekonium (baba se eerste stoelgang) nog nie deur die dermkanaal is nie. Die heel beste manier om jou baba te help om badkamer toe te gaan – borsvoed! Kolostrum is ‘n natuurlike lakseermiddel wat jou baba se eerste stoelgange aan die gang sit.
Wat kan ek verwag van Dag 1 – 3
- Teer borste en tepels. Jou borste is nog nie gewoond aan ‘n baba wat daaraan drink nie, dit gaan ‘n rukkie duur voor hulle gewoond genoeg is om nie meer seer te kry met elke voeding nie.
- Die heel eerste keer as jou baba aan die bors gesit word gaan nie seer wees nie, maar teen die einde van dag een gaan dit werklik seer wees. Soveel so dat jy dalk op jou tande gaan moet kners as jou baba daai eerste sluk vat. Sodra hulle lekker vas aan die bors is en ritmies suig is dit gewoonlik nie so seer nie. Maar dit word beter. Voor jy jou oë uitvee is dit verby. As jy mooi na jou borste kyk, behoort dit al teen die einde van week een omtrent glad nie meer seer te wees nie. Ek sê net sodat jy weet, want ek ken soveel mammas wat sê, hulle wou nie aanhou borsvoed nie want dit was seer. Maar as jy weet dit word so gou beter, sal jy dalk kan uithou!
Beste raad vir dag 1-3
- Moenie teveel room en salf opsit nie. Room en salf bevogtig jou tepel wat die vel net nog sagter maak en dit makliker laat bars en skeurtjies kry. Jy wil juis hê die vel moet bietjie harder word.
- Die beste ding wat jy kan aansmeer is borsmelk. Na elke voeding, vat so ‘n paar druppels borsmelk en smeer dit aan jou tepels.
- Laat jou borste winddroog soveel soos wat jy kan. Na jy gevoed het en borsmelk aangesmeer het, moenie dadelik jou bra weer aantrek nie. Laat toe dat jou borste mooi droog word voor jy weer aantrek. Weereens, jy wil hê jou tepels se vel moet bietjie harder word. As jy heeltyd ’n nat bors toemaak met klere kry dit nooit kans om uit te droog nie en word die kanse vir skeurtjies en barste soveel groter.
- As jy sukkel, vra vir hulp by ’n laktasiekonsultant wat kan help met baba se vassuig op die bors (‘latch‘ in Engels)
- Voed gereeld. Verby is die dae wat moeders aangeraai is om elke vier ure te voed. Die beste is om op aanvraag te voed. As jy dors is, gaan drink jy water, jy kyk nie na die horlosie en dwing jouself om eers weer half twaalf ’n slukkie te vat nie. En babas se magies is nog baie klein en verteer melk vinnig, dus is dit belangrik dat hulle gereeld voed.
Maar hoe weet ek my baba is honger? Jou baba sal jou wys, jy moet net weet waarvoor om te kyk! En dis belangrik om te kyk, want as jou baba eers so honger is dat hy histeries huil, wil hulle baie keer nie voed nie. Hulle is so ontsteld dat dit moeilik is om hulle te kry om te fokus en te drink.
Hongertekens:
Hongertekens word opgedeel in 3 kategorieё. Vroeë, middel en laat hongertekens.
Vroeёtekens
- Oop-en toe maak van hulle mondjies
- Kyk rond; soek na die bors (rooting)
- Lek hulle lippies
Middeltekens
- Suig aan hulle vuisies, duim, klere of enigiets wat hulle in hulle mond kan kry.
- Hulle begin strek
- Hulle begin beweginkies maak.
Laattekens:
- Huil
- Word rooi in hulle gesiggies
- Opgewerkte, angstige bewegings
Dag 4 + vorentoe
Stadig maar seker verander jou borsmelk van kolostrum na oorgangsmelk na volwassemelk. Volwassemelk is dunner en witter as kolostrum. Dit gebeur gewoonlik rondom dag 3 en ons sê baie keer sommer “jou melk kom in“.
Wat gebeur as jou ’melk inkom‘?
- Jou borste word ferm en vol ( ons noem dit stu)
- Melk lek, veral in die nag.
- Omdat jou borste oorvol is, kan dit tot effense ongemak lei.
Beste raad vir dag 4 + vorentoe:
- Borsvoed gereeld en op aanvraag. Hoe meer jy jou baba se leiding volg, hoe vinniger gaan jou melkvloei stabiliseer. Jou borste pas baie vinnig aan by jou baba se behoeftes.
- Moenie uitmelk nie. As jy uitmelk sê jy vir jou borste “o gonna, baba het meer melk nodig“. Dan produseer jou ligaam meer melk, wat lei tot oorvol borste en dan melk jy weer uit. Dit lei op sy beurt daartoe dat jy weer meer melk produseer en so begin ‘n bose kringloop. As jou borste so oorvol is dat jy regtig nie kan nie, pomp ‘n klein bietjie in ‘n waslap uit, net tot die ergste ongemak verby is.
- Maak seker al jou melkbuisies word leeggemaak met elke voeding. Jy kan die melkbuisies in jou borste voel en jou borste behoort sagter te word soos jy voed. As jy iewers in jou bors nog ‘n harde, voller buisie voel, masseer dit uit terwyl baba voed. Hoekom sê ek so? Mastitis is inflammasie van die borsweefsel en gebeur wanneer een van die melkbuisies in jou bors nie leeg gedrink word nie en dan verstop en ontsteek. Dit is baie baie baie seer!
- Onthou om jou borste te roteer. Jy sal hoogs waarskynlik kan voel watter bors die volste is, maar om dit makliker te maak, sit ‘n haarrekkie om die arm waar jou baba borsvoed. As jou baba klaar gedrink is, skuif die rekkie oor na die bors waaruit hy nie gedrink het nie (of net ‘n bietjie gedrink het). So sal jy altyd weet uit watter bors jou baba volgende moet drink.
- Hou op stres of jy genoeg melk het! Jy het. Voed jou baba, jou baba sal huil as hy honger is. Een van die grootste redes hoekom ma’s ophou borsvoed is omdat hulle onseker is of hulle genoeg melk produseer. As jy jou baba voed elke keer as hy honger is, gaan jy genoeg melk hê. Ons lywe is gemaak daarvoor. As vrouens nie genoeg melk kon produseer nie, sou ons duisende jare terug al uitgesterf het. (As jy deel is van die piepklein persentasie van mammas wat wel nie kan borsvoed nie, sal jy dit gou genoeg agterkom).
- Hou aan om jou borste ten minste een maal ‘n dag te laat winddroog word. Dit voorkom sproei en krake.
Wat is die beste posisie vir jou baba tydens borsvoeding?
- Maag teen maag. Draai jou baba sodat sy naeltjie na jou toe wys tydens borsvoeding
- Bring jou baba na die bors toe. Moenie probeer om jou bors af te bring tot by jou baba nie.
- Haal jou baba uit sy kombersies uit. As jou baba nog klein is, trek jou hemp uit en hou jou baba net in ‘n doek. Sodoende kry julle goeie vel-tot-vel kontak.
- Maak ’n C met jou hand om jou bors vas te hou, nie ’n skêr-vorm met jou wys en middel vinger nie.
As jy hierdie wenke vergeet, probeer dink aan hoe jy eet. Jy kyk vir jou kos, jou naeltjie wys na jou kos toe. Jy bring die lepel na jou mond toe, jy sak nie af tot by die lepel nie. Jy tel jou toebroodjie met ‘n C- vorm op, jy vat nie jou wys en voorvinger om jou broodjie op te tel soos ‘n skêr nie. En laastens, jy sit nie met jou hande toegewikkel in ‘n kombers nie. Jy gebruik jou hande om te eet.
Wat is jou beste raad vir borsvoeding?
Liefde,
Renate