In Suid-Afrika word minder as ‘n derde van babas tot op 6 maande eksklusief geborsvoed. In gegoede areas soos Johannesburg en Pretoria is hierdie syfer op plekke laer as 10%.
Letterlik plus minus 97% van alle vroue kan borsvoed. Tog kies soveel mammas om dit nie te doen. Hoekom?
“Hy slaap nie deur nie, want hy’s honger. Gee net byvoeding!” “Ek het opgehou want borsvoeding het in elk geval net voordele vir die eerste 3 weke.” “Ek wil op ‘n dieët gaan om die babagewig te verloor, so ek moet ophou borsvoed.”
Die hoeveelheid vals inligting en mites rondom borsvoeding is skrikwekkend. Al hierdie verkeerde inligting lei daartoe dat mammas nooit borsvoed nie of ophou borsvoed omdat hulle nie die belangrikheid van borsvoeding insien nie. Met soveel (soms teenstrydige) inligting is dit partykeer moeilik om ‘n besluit te maak.
Ek het in my gemeenskapsdiensjaar ‘n vier dae lange kursus oor borsvoeding bygewoon. Ek was stomgeslaan oor hoe perfek geskape ons lywe is en hoe wonderlik borsvoeding is. Ek wil graag met jou deel wat ek weet.
Borsvoeding is so spesiaal en ek wil nie hê jy moet dit nie kies nie, omdat jy nie al die inligting het nie. Ek hoop om jou met inligting, wenke en truuks te help sodat jy nie net ‘n ingeligte besluit kan maak nie, maar ook ‘n makliker, stresvryer borsvoedingsreis kan hê.
Daar is soveel inligting om te deel, ek het dit goed gedink om ‘n klein reeks te begin. (en moenie bekommer nie ek beplan ook om te skryf oor wat jy kan doen as jy regtig nie kan borsvoed nie) Om dit makliker te maak om te onthou en later weer die inligting op te soek gaan ek vandag spesifiek fokus op die voordele van borsvoeding.
Voordele vir baba
Borsvoeding verskaf aan jou klein babatjie alles wat hy nodig het vir oorlewing! En daarmee bedoel ek LETTERLIK alles! Nie net voedingsgewys nie maar ook ontwikkelingsgewys.
Ons almal weet voedingsgewys verskaf borsmelk die perfekte voeding aan jou baba sodat hy kan groei en floreer, dit bevat al die nutriente en vitamines. Yster, kalsium noem dit op. Wel goed maar formulemelk doen dit ook, Renate?
Maar borsmelk is lewendig!! Letterlik lewendig. Formulemelk is altyd dieselfde terwyl borsmelk konstant verander om by jou baba se behoeftes te pas.
- As dit baie warm is, verhoog borsmelk se waterinhoud om jou baba se dors te les. As dit weer koeler is kry jou baba lekker voedsame, dik melk. Dink daaraan soos ‘n lekker glas yskoue koeldrank op ‘n snikheet dag in Upington en ‘n dik, ryk, stomende bakkie sop met ‘n varsgebakte broodjie op ‘n reёnerige dag in die Kaap. Jy sal dit nie andersom wil he nie, sal jy?
- Die hormone in borsmelk verander deur die verloop van die dag om jou baba te help onderskei tussen dag en nag.
Kortisol – die hormoon wat wakkerheid of bewustheid (in Engels ‘alertness‘) reguleer is drie maal hoёr in die oggendmelk as in die aandmelk.
Melatonien – wat slaap reguleer (dit kan beskryf word as jou kirkadiese ritme hormoon) kan skaars gevind word in oggend- en dag melk, maar verhoog na die aand se kant toe en piek teen middernag. So dit sê fisies vir jou baba wanneer dit tyd is om te gaan slaap, te bly slaap en wanneer dit tyd is om op te staan. Dis veral handig vir ’n pasgebore baba. Hulle weet mos nooit wat is dag en wat is nag nie. Hulle het dan vir 9 maande geslaap net wanneer hulle wil!
Melk in die nag bevat meer van ‘n sekere tipe DNA-boublok wat gesonde slaap bevorder en dag-melk het weer hoёr konsentrasies aktiwiteitsbevorderende aminosure. Fassinerend né!
- Borsmelk het ’n kalmerende effek op jou baba – en op jou! Wanneer jy borsvoed, word oksitosien afgeskei wat pyn verminder en jou hartklop verlaag. Daar is niks soos borsvoeding om jou en baba te kalmeer na julle vir 10 minute in die verkeer huis toe gery het en baba bloumoord geskree het nie.
- Borsmelk verskaf anti-ligaampies wat jou baba help om siektes te beveg. As jy siek is maak jou borsmelk vir daardie siekte anti-liggaampies wat dan aan baba oorgedra word sodat hy nie sommer siek word nie. Ook as jou baba siek is maak jou borsmelk anti-liggaampies om jou baba te help om daardie siekte te beveg. Hoe jou borsmelk weet dat jou baba siek is, is vir my verstommed!
- Borsvoedende babas het laer kanse vir asma, allergieё, oorinfeksies, diarree en konstipasie.
- Borsvoeding word ook verbind met hoër intelligensie.
- Volgens die Amerikaanse Pediatriese Assossiasie (AAP) het borsvoedende babas ‘n laer kans vir wiegiedood.
- As ’n baba borsvoed is die kanse groot dat hy die regte hoeveelheid gewig gaan optel omdat hy homself nie ooreet aan borsmelk nie. Dit hou verband met ‘n laer risko vir obesiteit en diabetes later in jou baba se lewe
- Hoe meer jy ‘n pasgebore baba borsvoed, hoe laer is hulle kanse om geelsug te ontwikkel teen dag 6. Geelsug is ‘n baie algemene probleem in pasgebore babas.
- Borsvoeding help vir baba om sy fokus te oefen. Babas kan by geboorte net ongeveer 20-30cm voor hulle fokus. Die presiese afstand wat hulle ogies van jou gesig af is as hulle borsvoed! En babas word getrek na gesigte toe, hulle is mal daaroor om na jou gesig te kyk!
Nog ‘n paar meer voordiehandliggende en praktiese voordele van borsmelk is:
-Dis goedkoop
– Dis altyd die regte temperatuur
-Dis altyd beskikbaar (en vinnig beskikbaar 😊, jy hoef nie met ‘n skreeuende baba te wag tot die melk aangemaak is nie)
-Dis altyd vars
-Omdat jy nie bottels hoef te steriliseer of was nie, het jy meer tyd.
Maar daar is nie net fisiese voordele nie, borsvoedig bevorder ook die band tussen baba en moeder. Het jy geweet by geboorte sien ‘n baba net ongeveer 30 cm voor hom. Ongeveer die presiese afstand wat jou gesig van baba af is as hy voed!
Voordele vir mamma
Borsmelk is perfek ontwerp om aan jou baba se behoeftes te voldoen, maar het jy geweet dit hou voordele vir jou ook in?
- Dit help jou om vinniger te herstel na geboorte. Borsvoeding skei oksitosien af wat help om jou baarmoeder te laat saamtrek sodat hy vinniger na sy normale grootte terugkeer en verminder ook na-geboortelike bloeding.
- Navorsing wys dat borsvoedende babas op gemiddeld 45 minute meer slaap inkry as hulle formulemelk maatjies. Dit beteken meer slaap vir jou ook! En as jy nie dink 45 minute maak ‘n groot verskil nie, dink weer. Glo my, selfs 10 minute se ekstra slaap voel soos ‘n uur!
- As jy geborsvoed het het jy ’n kleiner kans om borskanker en ovariёle kanker op te doen later in jou lewe.
Ek hoop jy het iets geleer en dat jy geïnspireerd is om borsvoeding ‘n kans te gee!
Liefde,
Renate