Swangerskap is so ‘n ongelooflike proses, ek kan amper nie glo hoe ons lywe geskape is nie.
Voor ek swanger geword het was dit vir my lekker om blogposts oor swangerskap te lees want dan beantwoord dit ‘n klomp vrae waaroor mens wonder. Ek hoop hierdie is sommer ‘n lekker blogpost vir ander jong meisies wat nog nie swanger is nie/en of swangerskap beplan, wat meer wil weet oor wat om te verwag. (dit gaan hoogs waarskynlik bietjie vervelig wees vir veteraan-mammas)
1. Hoe het jy geweet jy is swanger? En wat doen mens eerste as jy weet jy is swanger?
My borste is teer en sensitief en dis gewoonlik die eerste teken vir my. Ek dink dis ook goed om jou lyf te leerken en te weet wat is die simptome wat jy rondom ovulasie kry, watter simptome kry jy rondom menstruasie ens. Dit maak dit makliker om agter te kom as iets anders is (en natuurlik om swanger te word!)
Ek sou dadelik as ek uitvind ek is swanger alkohol en kaffiene en skadelike velprodukte of rook of watookal uitnsy en suiker verminder. Ek sou eintlik aanbeveel jy doen dit die oomblik as julle probeer om swanger te raak, maar as jy dit nie gedoen het nie, nou is die tyd!
Baie mense maak dadelik ‘n afspraak by ‘n ginekoloog/vroedvrou, maar daar is regtig niks om te sien nie en niks wat die dokter vir jou kan doen nie, behalwe om vir jou te sê: ”geluk, jy is reg, jy is swanger” nie, so dis eintlik onnodig. Ek het eers op 12 weke my eerste sonar gehad.
2. Hoekom vind julle nie baba se geslag uit nie? Hoe maak julle dan met name?
Ons het met ons eerste seuntjie dit ‘n verrassing gehou tot geboorte en dit was regtig vir my lekker. Niks is meer deesdae ‘n geheim nie. Dis vir my lekker om iets te hou vir geboorte, dis so ‘n spesiale oomblik as ons uitvind wie hierdie mensie is, terwyl jy hom / haar vir die eerste keer in jou arms hou. Dis vir my lekker om net die lewetjie binne in my te koester sonder om ‘n persoonlikheid of verwagtinge daaraan te koppel. As mense weet wat die geslag is, is alles wat die baba doen of seuntjie of dogtertjie. “oe kyk hoe sterk skop hy, mens kan sien dis ‘n seuntjie’ Agg jy dra soos mens tipies met ‘n dogtertjie dra, so klein en fyn’. ‘n Ander onverwagse pluspunt is die lieflike klere wat mens kry. Wit, grys en neutraal. Dan kan ek dit hou vir elke baba. Boonop gee mense soms die onpraktiesste geskenke as hulle die geslag ken. ‘n Pienk tutu met die woorde ‘Pappa se prinses’ of ‘n boerepakkie vir ‘n seuntjie. Hulle is piepklein en slaap heeldag! Niemand het tyd of lus om ‘n ongemaklike klere pakkie aan en uit te trek, waarin die baba in elk geval nie kan slaap nie. Mense vermy dan die tipiese klerestelletjie wat jy net vir 1 foto dra en noooit weer nie. Dis moeilik om in woorde om te sit, maar dis maar net ons besluit en ek geniet dit regtig om eers met geboorte uit te vind.
Ons dink maar ‘n seuntjie en ‘n dogtertjie naam uit en besluit dan na die geboorte. Maar om eerlik te wees ons stel dit tot op die nippertjie uit. Ons was laas al amper ontslaan toe is ons nog nie seker oor die naam nie. En het ons nie laas nie en ook nie hierdie keer ‘n dogtertjienaam nie, ons sê heeltyd vir onsself: “toemaar ons sal in die hospitaal besluit.” Ons doen familiename met die seuns so dit is vir my baie makliker as om ‘n dogtertjienaam uit te kies.
3.Hoe verskil jou 1ste swangerskap van jou 2de een?
Beide swangerskappe was vir my tot dusver baie dieselfde. Ek was nie met een van my 2 swangerskappe naar nie. Die enigste simptome wat ek in beide my 1ste trimesters gehad het is moegheid (teen 10 uur die oggend wil ek al weer ‘n slapie vat!) en teer borste. Ek het wel met hierdie swangerskap die 1ste week of 2 kopsere gehad, maar dit was vinnig verby. Tot dusver dra ek ook relatief dieselfde.
4.Wanneer het jy die baba begin voel skop?
Baba hier tussen 18 en 19 weke vir die eerste keer voel skop. Ek het al gehoor dat ‘n mens vinniger jou babatjie voel skop met ‘n 2de swangerskap, maar dit was nie vir my so nie. Ek het op my notas gaan kyk vir my eerste swangerskap en ek het hom ook die eerste maal op 18 weke voel skop!
5. Watter simptome het jy?
Ek kan glad nie kla nie, ek weet baie mammas het dit baie swaar, maar ek was glad nie naar nie en het glad nie ‘cravings’ nie. (tot my spyt, ek hoop elke keer as ek swanger is ek kan my man 10 uur die nag uitstuur vir ‘n garage pie of iets dergliks, maar heelaas.)
Daar was ook baie vrae oor watter cravings normaal is. Enige ‘craving’ vir iets nie-eetbaars soos klippe, grond en weet nie wat alles nie, word PICA genoem en is nie normaal nie. Dit is gewoonlik beduidend op ‘n tekort aan een of ander vitamien of mineraal.
6. Borsvoed jy nog? Was dit maklik om swanger te raak? Moes jy speen?
Ek het so net na ‘n jaar opgehou borsvoed so ek het nie probleme gehad met speen tydens swangerskap of sukkel om swanger te raak agv borsvoeding nie. Ons het die 1ste keer swanger geword met ons oudste seuntjie, maar met hierdie 2de swangerskap was daar ‘n bietjie meer struikelblokke. My man was ‘n maand of twee nie by die huis nie (praat van tydsberekening!) en ‘n paar ander komplikasies, maar ons is baie geseënd om relatief maklik en vinnig swanger te raak. Ek weet dit is nie almal se storie nie.
7. Hoe voel dit om swanger te wees met ‘n kleuter om na om te sien?
Omdat mens gewoonlik lekker moeg is in die eerste trimester, het ek verwag die swangerskap gaan moeiliker wees met ‘n kleuter om na om te sien. Maar toe onthou ek, met my eerste swangerskap het ek gewerk so ek kon in elk geval nie net enige tyd van die dag slaap nie! Ek het wel omtrent elke middagslapie of elke 2de dag se middagslapie saam met my seuntjie gevat. Die huis het ‘n bietjie stilgestaan en die skottelgoed was nie altyd skoon nie, maar dis die lewe, reg?
Dit was regtig nie vir my moeiliker met ‘n kleuter nie, maar dalk as jy naar of mislik voel gaan dit nie so lekker wees nie. Kleuters is net baie besig so ek moet heeltyd keer as hy op my wil spring of as hy bo-oor my klouter, sodat hy nie op my maag trap nie.
Alhoewel mens dalk meer uitgeput is, het ‘n tweede swangerskap ‘n ander tipe opgewondenheid omdat jy vir jou eerste kind ‘n boetie of sussie gee. Dis lekker om te dink aan die plesier wat die ouer kind, uit ‘n nuwe babatjie gaan kry.
8. Hoe maak jy seker jy het ‘n gesonde swangerskap?
Hoe gesonder jou lyf is voor swangerskap, hoe gesonder gaan jou lyf wees in swangerskap. Dit help nie jy begin ‘n swangerskap met ‘n lyf wat reeds sekere nutriente kort nie, want jy wil mos nou vir baba ook gee! Oefen, eet gesond, vermy alkohol, kaffiene, allerhande kleurstowwe en suiker. Ek dink ook om net staat te maak op ‘n swangerskapvitamiene (prenatal) is nie eintlik voldoende nie. Dit is alles sinteties en die real McKoy is soveel beter. Ek sal eerder my yster in vleis en my Vitamien C in lemoene ensovoorts kry as in ‘n vitamienpil. Ek sê nie moenie ‘n vitamienpil drink nie, maar dit help nie jy eet McDonalds en Coke elke dag en dan troos jy jouself en sê: “toemaar darem kry ek my (sintetiese) vitamiene in nie.” Ek het een keer iemand gehoor wat gesê het: “Sal jy vir jou een maand oue babatjie elke dag ‘n glas Coke gee? Of ‘n pakkie jelliebabies?’ Nee, jy sal nie! Nou hoekom gee jy dit vir haar as sy nog nie eers gebore is nie?“ En dit maak vir my baie sin. Ek probeer vir my baba die beste huisvesting en voeding gee wat ek kan en dit beteken ek kyk na myself.
Natuurlik is daar niks wat ‘n gesonde, komplikasielose swangerskap kan waarborg nie, maar jy kan jou lyf die beste kans gee!
9. Hoe het jy dit reggekry om dit so lank weg te steek?
Weereens in ‘n wêreld waar niks meer privaat is nie, is dit vir my lekker om sekere goed vir ‘n kort rukkie geheim te hou. ‘n Mens wys mos maar eintlik glad nie die eerste 3 maande nie en ons bly ver van ons familie af en wou eers die nuus met hulle deel rondom Kersfees, voor ons ander mense sê. Ek is gelukkig om relatief klein te dra en verder het ek net gesorg dat ek nie stywe klere dra nie. Hier van 18-20 weke, het ek begin wys so ek sou dit nie veel langer kon wegsteek nie.
Laatweet as julle mooi, relatief tradisionele dogtertjiename het! Ons aanvaar hulp, Haha.
Sterkte as julle ook swanger is of dit deel van julle beplanning is! Dis ‘n lieflike tyd wat tog so vinnig verby gaan!
Liefde,
Renate