Ek weet nie of jou man en kind dieselfde is nie, maar een van die hoofaktiwiteite wat my man en my seuntjie doen, is stoei. Of een of ander vorm van rowwe spel (rough-and tumble play). My seuntjie word in die lug opgegooi, in die rondte geswaai, rondgejaag of plat gedruk en gekielie.
Ek speel ook so met hom, maar sy pa is by verre meer geneig om dit te doen. Ek het baie herinneringe waar my pa ons platdruk en kielie of ons almal hom gelyk probeer platstoei, wat ek van my eie kleintyd koester.
Soms wil mens vermaan en sê, dis te rof, of onnodig, maar rowwe spel is eintlik ‘n baie belangrike deel van ontwikkeling. Veral seuntjies is geneig om rowwer te wees in hulle spel. Hulle stamp en stoot en stoei en speel ‘running red rovers’ en bok-in-die-hok, hulle hou speel-speel gevegte en rol-bo-oor mekaar.
As ons kyk na die diereryk, behoort hierdie instink glad nie vir ons verrassend te wees nie. Kyk maar na jong leeu welpies, baba hondjies of selfs bokkies. Hulle speel almal so stoei-stoei met mekaar.
Dis maklik om te sien hoe, veral kleintjies tussen 2 en 5, rowwe spel geniet. Hulle skaterlag van opgewondenheid.
En hoekom is dit so belangrik?
Rowwe spel vorm sosiale, fisiese en kognitiewe gedrag.
- Selfs tydens hierdie opgewondenheid moet kleintjies ‘n sekere mate van terughou toepas vir die speletjie om aan te gaan. Hulle moet genoeg rofheid toepas vir die speletjie om interessant en opwindend te wees, maar min genoeg sodat hulle nie seermaak nie. En so leer jou klientjie wat is spelerige aggressie en wat is te veel aggressie. Hy leer wat kan ek doen tydens spel en wat maak te seer om te doen.
- Rowwe spel verskaf onmiddelike terugvoer in ‘n sosiale konteks. Kinders leer vroeg wat aanvaarbaar en onaanvaarbaar is as hulle deel van die groepsaktiwiteit wil bly. Dit is ‘n baie belangrike sosiale vaardigheid.
- Hulle leer gesigsuitdrukkings en sosiale tekens verstaan. Nie almal het dieselfde grense vir rowwe spel nie. Hoe hard kan ek my sussie kielie voor sy nie meer wil speel nie? En my boetie? En pappa? Dit help hulle om die grense van hulle gedrag met verskillende maats te bepaal. Dit maak hulle konsidererend tot ander se behoeftes en leer hulle empatie.
- Hierdie aanpassings wat hulle moet maak om almal te akkomodeer of om deel van die spel te bly, leer hulle probleemoplossing. Wat moet ek doen as iemand anders begin huil? Hoe moet ek maak as ek steeds deel van die speletjie wil bly?
- Hulle leer hulle lyfies se grense ken en internaliseer dit. Dis alles goed en wel om die teoretiese ‘reëls’ van speel te ken, maar jou lyf moes dit al ervaar het. Sodoende leer jy hoe ver jou lyf kan strek en beweeg. Wat kan jy hanteer? Wat kan pappa of die boetie of sussie waarmee jy speel, hanteer? Wat is werklike pyn of wat het my net laat skrik?
- Dit leer hulle om die tekens van spel raak te sien. Dit laat hulle toe om iemand te nooi vir speel. Ons almal weet dadelik as ‘n hond wil speel, hulle het sekere mannerismes wat hulle openbaar. Hulle sal hulle kop laat sak, vorentoe en agtertoe beweeg, hulle stert swaai of op en af spring. En ons almal sien dit as ‘n teken vir ‘ek wil speel.’ En dit is dieselfde met kinders. As pappa my duik, of spelerig aan my stamp, leer hulle dit is ‘n teken vir ‘n speletjie. Naand, as pappa om die hoek loer en wegbeweeg, weet ek, ek moet vir pappa jaag. Kinders wat fisiese spel verstaan is meer genieg om ander kinders te nooi om te speel.
- Rowwe, fisiese spel is by uitstek sosiale, kompeterende gedrag. Dit werk net as twee mense saamspeel en verg dus goeie verstaan van jou opponent(e) om die spel aan die gang te hou. Jy moet kan luister, die ander persoon se punt insien, beurte maak, deel en aanpas. Dit leer ‘n kind om homself te handhaaf in ‘n kompeterende omgewing. As ‘n kind altyd, en oorkompeterend is, gaan niemand met hom wil speel nie. Insgelyks is ‘n outjie met geen kompetisie in hom nie, ‘n vervelige speelmaat en boonop leer hy nooit om vir homself op te staan nie.
- Spelerige aggressie leer kinders om met mekaar oor die weg te kom. Dit leer hulle basiese sosiale reëls, wat alter oordra na sport en ander reël-en taalgebaseerde aktiwiteite. Dit is gee en neem, omdat ‘n kind kompeterendheid en samewerking moet afspeel teen mekaar.
Ons moet versigtig wees om ‘aggresiewe, rowwe spel’ as verkeerd af te maak. Dit leer kinders self-kontrole en emosionele regulering Veral seuntjies, wat op ‘n gemmideld meer aggresief is as dogtertjies, leer om hulle aggressie te beheer. Kinders wat sukkel om die reëls van rowwe spel te verstaan is meer geneig om later aggressief en sosiaal wanaangepas te wees.
Rowwe spel saam met ‘n ouer.
En in jou eie huis, as ouer, is jy die perfekte speelmaat vir jou kind. Jy kan as volwassene die kindjie lei en help om al hierdie vaardighede aan te leer in ‘n veilige omgewing. En jy hoef nie daaroor te dink nie. Al hierdie goed wat ek genoem het, is ingebou in rowwe spel. Dis instinktiewelik. Jy hoef nie te dink “ahh, ek wil my seun leer om nie ander seer te maak nie”, as hy jou byt, trek jy automaties jou arm terug en dis al wat nodig is.
Laatens, het jy geweet kinders wat gesien word as populêr op skool, se ouers het gewoonlik meer saam met hulle fisiese, rowwe spel gespeel?
Lekker stoei!
Liefde, Renate