Hierdie lysie is ‘n baie basiese lysie, met speelgoed wat geskik is vir enige geslag, tussen 0-2 jaar oud. Mens kan vrek baie ander speelgoed ook koop en later meer geslagsspesifieke speelgoed soos kombuisies vir dogtertjies of ‘n stel ‘gereedskap’ vir seuntjies. (natuurlik kan dit andersom ook!) Hierdie lysie is dus glad nie volledig nie, maar dit is genoeg en kan dien as ‘n lekker beginpunt vir ‘n nuwe mamma! Ek weet mens kan maklik oorweldig voel en voor jy jou oë uitvee staan jou hele huis vol speelgoed! Meeste van die speelgoed op my lysie is duursaam, so dis dalk lekker om op ‘n baba register te sit of vir ‘n ouma aan te stuur wat brand om geskenkies te koop.
{Wees egter gewaarsku, jou mengbakke, maatlepeltjies, spatula’s en houtlepels gaan hoogswaarskynlik die meeste aftrek kry. Dit, en die boks waarin jy die speelgoed gekoop het.}
Ek gaan meestal hout en meer duursame speelgoedjies deel. Ek het definitief ‘n minimalistiese styl en geniet dit om minder, maar goeie speelgoed te hê.
Waarvoor ek uitkyk in speelgoed?:
- Dit word gemaak van hout of ander duursame en natuurlike materiaal soos katoen of wol. Dit hou langer, is beter vir die planeet en gesonder vir jou baba.(maak seker dis nie-toksiese verf of ink). Om aan plastiek te suig is regtig vir niemand goed nie.
- Dit het meer as een doel. (open-ended) Ek wil hê my kinders moet hulle verbeelding kan gebruik en hulle moet met die speelding speel, nie die speelding met hulle nie. Daar is regtig baie min voordele aan battery-aangedrewe speelgoed waar jy een knoppie druk en die speelding sing en dans vir jou.
- Dit kan vir verskeie ouderdomme gebruik word. ‘n Rateltjie word voor ‘n pasgebore baba se koppie geswaai om sy ogies te oefen. Later kan die babatjie sy greep oefen deur hom op te tel en later dien dit as aanmoediging om te kruip.
Ek vermy:
- Plastiek, ‘flimsy’ speelgoed wat net my huis volstaan.
- Battery-aangedrewe speelgoed met geluide en flitsende ligte.
PS: Geen van hierdie skakels is “affiliated links” nie. Ek maak niks nie, ek deel maar net wat vir my mooi en prakties is.
Ek het probeer om die speelgoed in ouderdomme te rangskik, beginnende by ‘n pasgebore baba en dan al hoe ouer. (bv, vir jou 0-4 maande oue babatjie gaan jy omtrent net speelding 1-3 nodig hê.)
- Jy kan nooit, ooit verkeerd gaan met boekies nie en ek is amper seker jy kan ook nie te veel boekies hê nie. Van dag 1 af kan jy vir baba lees. Ek is mal oor die hardeband-en bladsy boekies, want papierboekies verniel en skeur so maklik.
- ‘n Mooi ratel is ‘n baie lekker speelding. As dit van hout en goeie kwaliteit is, kan jy dit vir al jou kinders gebruik en later aangee vir jou kleinkinders. Ek het nou nog ‘n hout rateltjie wat my ma met my oudste sussie se geboorte gekoop het. Hy is amper 30 jaar oud en so goed soos nuut! Tiger Lily of Grow Baby is eg Suid-Afrikaanse make en het vreeslike fraai houtrateltjies.
Kleintjies speel amper glad nie met speelgoed op hierdie ouderdom nie, mamma en pappa se gesig en stem is die mooiste en beste om na te kyk!
- Sagte speelgoed. Ons het ook so ‘n oulike klein skapie gehad met ‘n klokkie aan, wat jy lekker bo ‘n baba se koppie kan swaai. Ek het daarvan gehou om iets sags ook te hê, sodat teen die tyd wat jou kleintjie die ouderdom bereik wat hulle dit kan optel (+- 3 of 4 maande), dit nie hard is as dit op hulle gesiggies val nie.
- Diertjies. Daar is houtdiertjies op die mark, waarvoor ek my voortande sal gee, maar hulle is baie duur. Andersins sommer ‘n pakkie plaasdiertjies by Crazy Store, Westpak of so ‘n winkel. Diertjies is baie goed vir spraak omdat dieregeluidjies deel vorm van meeste kinders se vroeë woordeskat. Later, speel hulle daarmee in die tuin, tussen die gras en onder die blare as deel van verbeeldingspel.
- ‘n Karretjie of iets wat hulle kan stoot of agter hulle aantrek. Dit is lekker vir ‘n seuntjie of ‘n dogtertjie. Grow baby het weerens mooies. Hierdie speelding by Clicks is mooi of selfs Vega toys oor takealot.
- Blokkies. Dit is baie goed vir ontwikkeling en aan die begin gaan hulle net daarheen kruip, dit optel en in hulle mond sit. Later bou hulle torings en huisies! Hout is altyd ‘n mooi en duursame opsie, maar ons het oorge-erfde plastiekblokkies ook.
- Balle. Kleintjies wil goed gooi en dis belangrik dat hulle goed gooi. Ons het klomp verskillende balle. Sagtes wat ek self gemaak en gestop het, tennisballe, klein balletjies, groter balle en selfs ‘n joga bal.
- ‘n Speelding waar jy vorms in kan pak. Hierdie een is so mooi en van hout, maar ek moet bieg ek het ‘n plastiek een.
- ‘n Speelding waar jy verskillende groottes ringe op ‘n stokkie pak of bakkies in mekaar pak. In Engels noem jy dit stacking toys. Hier is ‘n voorbeeld. ‘n Vriendin van my se pa het sommer vir my een gemaak van oorskiet hout.
- ‘n Skopfietsie of swart motorfietsie. Dit sorg vir ure se pret en jy kan dit met groot vreugde aanskaf van ongeveer 18 maande af.
Plekke met mooi speelgoed vir geskenkidees.
- Good Shepard Toys – die mooiste diertjies en Bybel-geinspireerde speelgoed.
- Grow baby – fokus baie op nuwe babatjies, ratels, houtkarretjies ens.
- June n June Handmade. Baie oulike speelgoed, meer geskik vir kleuters. Dink pegboard of meer spesifieke ontwikkelingsspeelgoed.
- Oakling and me
Jou styl mag van myne verskil, maar ek hoop jy het dalk ‘n paar idees gekry, selfs al is dit net vir ‘n vriendin se ooievaarstee.
Liefde
Renate