Party dae begin sommer sleg. Hy staan kermend op. Hy huil oor alles. Hy wil heeltyd in die arms wees. Ek raas oor alles, raak geirreteerd oor die kleinste goedjies en hoe meer ek op my eie wil wees, hoe meer klou hy. Klink bekend?
Ek het nou al agtergekom ek kan ‘n dag maak of breek, nie my kleuter nie. Dis asof hulle aanvoel wanneer hulle ma iesiegrimmig is.
Dis die dae wanneer ek kort van draad is, wat hy op sy moeilikste is. En as ek myself uit my bui uit kan kry, voel hy ook beter en die hele dag draai plesierig uit. Maar dis nie altyd so maklik nie. As ek eers gefrustreed is, irreteer alles my en ek dink hy probeer op my nerwe werk. Dit word ‘n siklus van skree en kerm en raas en frustrasie. Maar ek gee die toon aan in die huis, my kalmte spoel oor na my kleintjie. So ek moet aan myself werk, nie aan my kleuter nie.
‘n Paar praktiese wenke oor hoe om die frustrasie-siklus te breek.
- Sit jou foon neer. Man, as ek eers besig is om ‘n video te kyk of iets op my foon te doen en hy kom karring aan my, word dit ‘n bose kringloop. Ek probeer iets vir hom gee om hom besig te hou sodat ek asseblief my video kan klaar kyk. Hy voel aan ek wil nie tyd saam met hom spandeer nie en karring meer en meer. Hoe belangrik is daai video, daai instagram post? Sit neer jou foon, sit hom op ‘airplaine mode’ en gaan sit op die vloer saam met jou kind. 10 minute se aandag verrig wondere. Regtig, ons slegste dae is wanneer ek die meeste op my foon is.
- Gaan buite toe, kry Vitamien D. Vra jouself of jy al vandag buite was? Daars is niks soos ‘n bietjie vars lug en sonlig om almal se bui te verbeter nie.
- Gaan slaap. As jou kleintjie ‘n middagslapie vat, gaan lê net vir ‘n halfuur saam met hom. Selfs 15 minute se skuinslê kan wondere verrig.
- Los alles. As jy gefrustreerd is oor die huis wat vuil is, die wasgoed wat nie gewas is nie, raak jy baie gefrustreed vir jou kleintjie wat jou aandag nodig het. Los dit, los dit, los dit. Probeer weer vanmiddag as jou kleintjie ‘n midagslapie agter die blad het en jy kan hom sonder frustrasie betrek by jou dagtakies.
- Eet. “Hangry” is ‘n werklikheid. Het jy ontbyt gemis vandag? Is jy versadig? Is jou kleintjie versadig? Maak ‘n goeie bordkos ‘n prioriteit, al moet jy Sondag, wanneer jou man by die huis is, ‘n paar etes maak wat jy kan vries en vinnig uithaal.
- Gesels met jou kind. Vertel hom wat hy goed en mooi doen en hoe lief jy vir hom is. Dit klink simpel, maar dis moeilik om met jou kind te raas as jy besig is om komplimente te gee.
- Verander jou houding. “Ek kry nooit tyd vir myself nie.” “Kan my man net huis toe kom en die kind vat, dat ek net 5 MINUTE vir myself kan hê!” “Ma-wees is ook so ‘n ondankbare werk. Niemand kom eers agter wat ek doen nie.” Ons loop rond met al hierdie frases in ons kop en werk onsself meer op. Gaan op jou knieë en sê dankie vir die voorreg wat jy het om kinders te kan grootmaak. Bid vir wysheid, onderskeidenheidsvermoë en geduld. Bid sommer saam met jou kleintjie. Gebed verrig wondere.
Dis nie altyd maklik nie, ek weet, maar ek het gevind dat my houding ‘n bepalende faktor is vir die geluk en frustrasievlakke in die huis. Deur my eie bui te beheer, verander ek die hele huis, insluitend my kinders se dag. Ek moet bieg, ons slegte dae is meer my skuld as my kleuter sin.
Sterkte,
Renate
Jeani says
So nodig gehad om hierdie vanaand te lees! Jy beskryf dit so raak en ek gaan beslis jou wenke toepas.
renate.arbs says
Ek kan altyd aan my eie houding werk, dis wat ek vir myself sê op ‘n slegte dag! Hoop die wenke werk vir jou!