Het jy geweet, die mens het, soos alle soogdiere, die inherente drang om nie hulleself te bevuil nie. Hier is ‘n goeie voorbeeld wat ons almal ken. Hoveel keer het jy al jou pasgebore seuntjie se doek geruil en net as jy sy doek afhaal, piepie hy? En het jy gehoor, “dis omdat hy die wind op hom voel” of iets anders? Dit is nie, dit is omdat hy so geskape is om nie homself te wil bevuil nie. Sodra mamma sy doek afhaal, voel hy dus meer gemaklik om te piepie.
Feit vir die dag: Kinders kan vroeër van die doeke afgehaal word as wat ons moderne, Westerse samelewing ons wil laat glo. Tot ‘n paar dekades terug IS babas vroeër van die doeke afgehaal. Mammas het lapdoeke gebruik en dit met die hand gewas. Niemand het die luukse, of lus gehad om ‘n 3 of 4 jarige se doeke te was nie. Selfs vandag nog, in nie-Westerse samelewings word babas baie vroeër van die doeke afgehaal. (dis makliker en lekkerder as wat jy dink om kind teen 1 en ‘n half van die doeke af te hê)
Ons huidige strategie
Ons gebruik doeke as ‘n toilet en dan probeer ons kleintjies afleer om hulle doek as ‘n toilet te gebruik op die ouderdom van 2 of 3.
2 of 3 is letterlik die ouderdom wat kleintjies die meeste weerstand gee teen ouerlike leiding! Hulle begin besef hulle is hulle eie mensie en kan hulle eie besluite maak. Die die ouderdom van eindelose “Nee’s” en hopeloos te veel “ek wil self’s”. Maar tog kies ons hierdie ouderdom om ons kinders iets wat ons vir 3 jaar in hulle ingeoefen het, te ontleer.
En daar is verskeie maniere van ‘potty train’. Die drie dag metode. Die ‘no-pants’ metode. Die plakkers en lekkers en ander vorms van belonings – metode. Noem dit op. Hulle almal hink egter op dieselfde basis. ‘n Kind moet eers kognitief kan verstaan, voor jy kan begin ‘potty train’. Hy moet besef ‘ek piepie in my doek, mamma wil hê ek moet eerder in die potjie piepie.”
Om badkamer toe te gaan is egter ‘n biologiese reaksie en hoef nie kognitief verstaan te word nie. Om die waarheid te sê, dit is makliker om ‘n kleintjie te leer om op sy potjie te piepie VOOR hy dit kognitief verstaan en kan besluit hy is nie lus nie. ( ek sal volgende week meer in diepte hieroor gaan)
Ek gaan vandag bietjie gesels oor die fisiologie van badkamer toe gaan en mites wat ek gereeld hoor. Volgende week sal ek my eie storie vertel en oor hoe ek my seuntjie van die doeke afgehaal het.
1. Sy moet eers kan praat.
Eerstens, daar is nie-verbale outistiese kindertjies, down’s sindroom babatjies of stom babatjies. Wil jy vir my sê hulle kan nooit van die doeke afgehaal word nie? Nee, hulle kan. Daar is baie ander maniere van wys dat ‘n baba moet gaan piepie as woorde.
Tweedens, wat was jou kind se eerste woord? Ek raai dit was iets soos ‘mamma’, ‘pappa’, dalk ‘baba’ ‘tata’ of ‘bal’. Hoekom? Want dis woorde wat hulle die meeste hoor. ‘n Baba leer om woorde te sê soos wat jy hom aan hierdie woorde blootstel. Sodra jy begin met die proses van jou baba blootstel aan die potjie of toilet, gebruik jy die woorde ‘piepie’ en ‘poepies’ baie meer. En dis wanneer jou kleintjie die woordeskat aanleer wat hy nodig het. Elke keer wat my seuntjie op die potjie gesit word, het ek gesê “piepie gou” of ‘Jy het gepiepie”. Baie gou koppel hulle die aksie aan die woord. Kort voor lank het my seuntjie elke keer gesê ‘piepie’ as hy reeds gepiepie het. En nie lank daarna nie kon hy sê ‘piepie’ voor hy moes gaan piepie. Met ander woorde, hou gouer jy begin, hou gouer leer jou kind die nodige woordeskat aan.
2. Sy moet eers 2/2,5/3 wees.
Ons stem nie eers saam op die ouderdom nie. Sommige ouers se kinders is teen 2 van die doeke af, terwyl ander weer sweer by die ouderdom 3. Hoekom verskil dit? Hoe kan ons dan met soveel sekerheid ‘n goue standaard voorhou vir ‘potty training’, as elke ma ‘n ander goue standaard het. Is dit nie dalk iets wat die mamma anders doen nie? As een mamma dit kan regkry op 2 en ‘n ander op 3, hoekom kan een mamma dit nie regkry op 18 of 20 maande nie. Daar is nie ‘n goue ouderdom nie. Dit gaan oor hoe jy dit aanpak.
3. Haar knypers moet ontwikkel.
Hoewel ek nie stry dat kinders hoe ouer hulle word, langer kan knyp nie, is dit nie wat ‘n baba nat of droog hou nie. As ‘n baba glad nie kan knyp nie, sou hulle heeltyd bietjies-bietjies piepie. Maar hulle doen nie. Jou 1- jarige piepie elke uur of dalk elke 2 ure, afgehangende van hoe baie vloeistof hy ingeneem het. Dit drup-drup nie uit nie. Hormone speel ‘n baie belangrike rol. Dieselfde hormoon wat maak dat jy in die nag droog bly, is in ‘n baba se lyfie ook. ADH of antidiuretiese hormoon is snags verhoog en keer dat jy moet gaan piepie. ADH verlaag die hoeveelheid water wat saam met jou uriene uitgeskei word. En wat doen jy eerste ding in die oggend? Jy gaan piepie, want jou ADH konsentrasie het gedaal. Dit is presies dieselfde met babas.
4. Sy’s nog nie reg nie.
Weereens om badkamer toe te gaan is ‘n biologiese funksie en kinders kan geleer word om in die potjie te gaan eerder as in ‘n doek. Daar is nie iets soos ‘sy is nog nie reg nie’. Dit is bloot die feit dat sy gewoond geraak het aan die sensasie van in haar doek badkamer toe gaan en boonop nou op ‘n ouderdom is wat sy haar eie wil wil afdwing.
Is daar enige van hierdie feite wat jou verbaas het?
VoetNota:
Daar is kindertjies wat met baie sukses en baie maklik van die doeke afgehaal word op 3 met bogenoemde metodes. Ek sien egter ‘n baie groot groep kinders wat sukkel. As ek ‘n R5 het vir elke mamma wat ek al hoor sê het, “My baba piepie mooi in sy potjie maar weier om te nr. 2. Hy wil dit net in sy doek doen,” was ek al baie ryker. Ek wil net graag ‘n ander manier voorstel, want ek belowe jou dis baie aangenamer om net vir 12 maande jou kind se doek om te ruil as vir 36 maande. Elke mamma kan kies, maar ek wil graag ons storie deel.