Ons het vir lank gedink die visuele sisteem speel die belangrikste rol in kinders se vermoë om te lees. Speelgoed vir kinders het op ‘n jonger en jonger ouderdom, letters en syfers begin opkry. Hoe vroeër ons kinders letters kan herken, sien en opnoem, hoe beter gaan hulle lees, reg? Hoe vroeër ons aan akademiese geletterdheid werk, hoe beter gaan hulle akademies vaar, né?
Dis toe juis andersom. Daar is sekere boublokke wat in plek moet wees voor kinders kan leer om te lees, skryf en akademies presteer. En wanneer ons hierdie boublokke afskeep, kan ons maar oefen om te lees tot ons blou is, daar is altyd ‘n agterstand.
Ons het so gefokus geraak op vroeë akadmiese gelettertheid dat ons heeltemal vergeet het watter invloed ons bewegingssisteem op alle kognitiewe ontwikkeling het.
Ons weet nou dat die vestibulêre en ouditiewe sisteem die belangrikste rolle speel in lees.
Wat is die vestibulêre sisteem?
Jou vestibulêre sisteem is in jou kop en binne-oor gesetel en reageer op jou liggaam se bewegings in die ruimte, die verandering van jou kop se posisie en help om jou bewegings te koördineer. Dr. Melodie de Jager verduidelik dit so: “jou vestibulêre sisteem het te doen met rigting, volgorde en ritme.”
Jou vestibulêre sisteem is ‘n refleks, gebeur outomaties, en integreer inligting sonder dat jy kognitief bewus is daarvan.
Die binne-oor het 4 verskillende dele wat elk verantwoordelik is vir ‘n ander tipe beweging; vorentoe en agtertoe, op en af, kant tot kant en draai in die rondte.
Omdat jou vestibulêre sisteem in jou binne-oor sit, hou dit baie nou verband met gehoor (ouditiewe sisteem).
Maar wat het my vestibulêre sisteem te doen met lees/leer?
Lees het alles te doen met rigting, volgorde en ritme. Die letters moet van links na regs gelees word, dit moet in die regte volgorde gelees word en daar is ‘n sekere ritme daaraan betrokke. (daar is ‘n rus na elke woord. ‘n langer rus na elke sin ens.) Om te kan lees, moet ek eers die klank hoor en korrek interpreteer. Ons kan dus sien hoe belangrik die ore is. Ek moet ook weet die letter is lanks, bo-op of onder die ander een en die woordeskat hê om dit te kan verduidelik.
Al hierdie vaardighede moet in plek wees om te kan lees. As ek al hierdie veerdighede het, is dit kinderspeletjies om te leer hoe lyk ‘n a b of c.
As ons begin met akademiese speletjies begin ons verkeerd om.
Voordat ons begin dink aan lees, moet ons seker maak ‘n kind se vestibulêre sisteem is goed ontwikkel.
En jou vestibulêre sisteem ontwikkel deur beweging.
Onthou julle ‘n paar weke terug op instgram het ek gesê julle moet ‘n fort bou om met lees te help. Hoekom?
As ‘n kleintjie nie posisie in ruimte (m.a.w. op, deur, langs, bo-op, onder, tussen) met sy lyf beleef het nie, kan hy dit nie oordra na posisie in ruimte op ‘n papier nie. Kinders moet onder die bed, in klein hoekies, tussen stoele in ‘n fort, bo-op, onder en agter voorwerpe inkruip om posisie in ruimte te ervaar. Dan kan hulle dit oordra na ‘n platvlak soos papier. Die ‘a’ is langs die ‘k’. Die ‘e’ is tussen die ‘l’ en ‘k’.
Die akkomodasie van ‘n kind se lyf in verskillende grootte ruimtes is ook ‘n voorvaardigheid vir lees en gebeur in die oor (m.a.w. vestibulêre sisteem). Hoekom benodig ek akkomodasie in verskillende ruimtes? Want afstand is belangrik tydens lees. “Die kat eet.” Hierdie sin se spasies is belangrik. Anders lees jy “Diek ate et”.
Ander vaardighede wat tydens speel geoefen word is byvoorbeeld kruising van die midlyn,wat nodig is vir my om glad en effektief te lees en skryf.
Hoe help beweging my kind stilsit en lees?
Ouers is baie keer bang te veel beweging maak hulle kinders hiperaktief. Dis andersom. Die vestibulêre sisteem het beweging nodig om te ontwikkel. ‘n Goed ontwikkelde vestibulêre sisteem beheer dan beweging en maak dat kinders stil en regop kan sit, gereed vir leer.
Ons het vroeër genoem dat jou vestibulêre sisteem inligting integreer sonder dat jy bewus is daarvan. ‘n Kind met ‘n goed ontwikkelde vestibulêre sisteem, weet waar is sy lyf in die ruimte, waar is sy pen, sy boek en bank ten opsigte van homself en tot mekaar en integreer die rigting, ritme en volgorde van sy letters sonder om daaroor te dink. Hy hoef dus net te fokus op die juffrou en die letters voor hom. Dink gou aan hoeveel goed moet ‘n kind aandag gee as hy daardie goed nie outomaties doen nie. Hy moet fokus om sy lyfie regop en stil te hou. Hy moet probeer uitredenaar waar die letters tot mekaar staan en waar hy spasies en ruskanse moet insit. Daar is nie regtig baie aandag oor om te fokus op wat spel die letters m-a-t nie.
Nou wat is dus belangrik vir my kind?
As hierdie hele bloginskrywing vir jou te akademies laat voel en jou laat stres, wil ek jou gerusstel. Jou kleintjie weet self hoe om te ontwikkel. Navorsing het gewys dat kinders regoor die wereld dieselfde speletjies speel! Sonder dat iemand hulle wys, leer of voorsê. Hulle hardloop rond, speel blinde mol, swaai, tol in die rondte, spring op beddens, bou forte of huisies, huppel en draai. Dis omdat kinders ‘n inhirente drang het om te leer en self bewus is van hulle behoeftes. Al wat jy moet doen is om hulle toe te laat!
Onthou dat speel die boublok van lees en akademiese geletterdheid is en laat dus jou kleuter toe om sy selfgedrewe behoefte om te leer, te bevredig. Kruip, speel, hardloop, stoei en rol is julle huiswerk vir die jaar! En ek is seker julle doen dit reeds.
Liefde, Renate