4-6 maande is so ‘n prettige ouderdom! Julle is uit die 4de trimester uit, jy en baba verstaan mekaar beter en jou baba leer elke dag iets nuuts! Boonop begin jy op 6 maande met vastekos. Hier is ‘n blogpost daaroor!
Wat gebeur in hierdie tyd?
- Babatjies begin al hoe meer beheer oor hulle bewegings kry. Hulle oefen om hulle bewegings te kan gebruik om ‘n einddoel te bereik. “Ek swaai my arms om mamma se hare te propeer vasgryp.” Hoe meer hulle oefen, hoe meer beheer kry hulle oor hulle lyfies tot hulle later weet presies watter beweging om te maak om te kry wat hulle wil hê.
- Hulle leer dat hulle ‘n invloed op die omgewing het. Ons kan hierdie willekeurige beweging aanhelp deur ‘n speelding (verkieslik iets wat raas as jy daaraan raak soos ‘n ratel) binne bereik van hulle voete of hande te sit. As hulle dan die ratel raakskop, en hy raas begin hulle agterkom dat dit hulle bewegings is, wat die geraas veroorsaak. “As ek my hande swaai, tref ek die ratel en hy maak ‘n geluid.”
- Hulle begin hulle hande en vingers, voete en tone ontdek. Pasgebore babas se vuisies is nog groot gedeeltes van die dag toe. En as hulle bewegings maak is dit gewoonlik hulle vuiste wat hulle rondswaai. Nou begin babatjies hulle vingers en tone gebruik om die wêreld en speelgoed te ontdek. Dis vir my so oulik hoe hulle aan die begin hulle voete en hande ewe veel gebruik. As daar ‘n speeding by hulle voete lê, sal hulle hulle bes probeer om die speeelding met hulle tone op te tel.
- Hulle begin kommunikeer met gesigsuitdrukkings, klanke en bewegings, eerder as net huil. Hulle begin jou ook na-aap. Hou bietjie jou baba op jou skoot en steek jou tong uit. Hulle sal jou prober na-maak. Kyk hoe ver het jou baba gekom! Hulle het nie eers besef dat dit hulle is wat hulle eie armpies swaai nie en nou kan hulle brein al die konneksie maak om ‘n beweging wat hulle sien, te dupliseer met hulle eie lyfies.
- Hulle sig het met rasse skrede verbeter en jy kan gerus meer gedetaileerde speelgoed gebruik. Hulle volg elke beweging wat jy maak en word al hoe meer geinteresseerd in ander mense. Hulle glimlag nou vir almal wie se oog hulle vang.
Speeltyd idees.
Die heel beste speelding vir jou baba is jy! Dit jy wat hom gesigsuitdrukkings leer, dis vir jou wie hy probeer na-aap en dis jy wat sy grootste motivering is om op sy magie tyd te spandeer. So gebruik jouself!
- Gesels met jou baba!
- Lees, lees, lees! ‘n Goeie wenk is om jou baba na jou toe te draai as jy vir hulle lees sodat hulle jou gesigsuitdrukking en die boek gelyk kan sien.
- Repeterende liedjies waar jy bewegings kan bysit soos “wielie wielie walie’ is groot pret.
- Speel peek-a-boe. Kleintjies word nie gebore met voorwerpbestendigheid nie (object permanence). Dit is die wete dat iets steeds bestaan selfs al kan jy dit nie sien nie. Voorwerpbestendigheid is eers ten volle ontwikkel teen ongeveer 18 maande. Dis hoekom jou baba huil as hy agterkom dat jy nie meer in die kamer is nie. Hy besef nie jy is net buite die deur nie! Peek-a- boo is ‘n lekker speletjie wat aan voorwerpbestendigheid werk. Jy kan ook ‘n speelding soos ‘n beertjie met ‘n kombersie toemaak en sê; “Waar is die beertjie? Waar is die beertjie? Daar is die beertjie!” (soos wat jy die kombersie afhaal)
Aktiwiteite vir fisiese ontwikkeling:
- ‘n Joga bal. Sit jou baba op ‘n joga bal en hou haar heupies vas soos jy haar liggies rondbeweeg op die bal, sodat sy haar maagspiertjies kan oefen. Jy kan ook jou baba op haar magie op die bal sit en vorentoe en agtertoe op die bal rol. As jou baba nie daarvan hou nie, stop.
- Magie tyd. Het jy geweet dat die mylpale vir rol en kruip aangeskuif het in die laaste 2 dekades. 20 jaar terug het meeste babas vroeër gekruip en gerol. En dis omdat babas nou baie meer tyd op hulle rûe spandeer en nie op hul magies nie. Kinders slaap op hul rûe, lê in stootwaentjies, rockers en bumbo stoeltjies. Dit alles verminder drasties die tyd wat hulle het om hulle spiertjies te gebruik en oefen. Om jou baba soveel as moontlik tyd op haar magie te gee, is steeds een van die beste ontwikkelingsaktiwiteite wat jy kan doen. Nie net versterk dit al haar spiertjies nie, dit gee haar kans om te oefen om te rol en lê die basis vir kruip later.
Idees vir magietyd.
- Gaan lê saam met jou babatjie op haar maag. Lê voor haar en gesels of wys vir haar speelgoed.
- Sit ‘n spieël voor jou babatjie. Sy sal haar ‘nuwe maatjie’ baie geniet.
- As jou kleintjie nie mal is oor magietyd nie, probeer ‘n kussing of opgerolde handdoek onder haar armpies sit.
- Probeer om tye in enige tipe ‘houer’ soos ‘n bumbo, swaai of jumping jack tot ‘n minimum te beperk
3. Rol: Hou aan om jou baba aan te moedig om te rol. Jy hoef ook nie net ‘n ratel te gebuik nie. Gebruik jou gesig! Hou jou gesig bo jou baba en skuif dan jou gesig kant toe om langs jou baba te lê. Kyk of hy na jou toe rol. Jy kan hom help deur sy heupies na jou toe te draai.
4. Sit: Babatjies begin ook al hoe harder probeer om regop te sit. Om te kan regop sit moet ‘n baba eers sy koppie kan regop hou en sterk maagspiertjies hê. Dis hoekom magietyd so belangrik is.
Sit jou baba tussen jou bene met speelgoedjies voor haar sodat jou bene haar help om regop te sit. Later, soos sy vorder, kan jy probeer om haar alleen te laat sit met jou hand op haar rug vir ondersteuning. Aan die begin val hulle nog baie om. Sit ‘n borsvoed kussing agter hulle ruggies om te keer dat hulle teen die vloer val. As jy nie een het nie, vat sommer ‘n ou broek en stop hom op en sit dit soos ‘n rol agter hulle.
Geniet jou baba, jy is die beste ma!
Moenie bang wees om enige vrae wat jy het, te vra nie. Hier of op Instagram!
Liefde, Renate