Het jy geweet dis veiliger en beter vir jou baba om sonder skoene te speel?
1.Om jou kleintjie kaalvoet te laat loop, ontwikkel gesonde voetjies.
Soos wat jou baba oefen om te loop, leer sy brein die korrekte bewegingspatrone aan. Jou baba leer hoe sy spiere verkort en verleng en aanpassings maak op verskillende oppervlaktes. As hy, ongehinder deur skoene, kan loop, ontwikkel sy voetbrûe en hy kan die volle omvang van beweging wat sy voete en enkels het, aanleer.
Hierdie ontwikkeling lei tot sterker bene en voete, wat beserings op die langtermyn voorkom. Sterk voete en beentjies lei weet tot sterker heupies en rûe, wat postuur verbeter.
Daarby het skoene en kouse ‘n manier om vog en bakterieë naby die voet te hou, wat makliker swamme en altleetvoet laat groei.
2. Kaalvoetloop help met brein-en senuwee ontwikkeling
Die menslike sensoriese sisteem is die fondasie waarop alle ander sisteme bou, insluitend hoër kognitiewe (brein)ontwikkeling. Ons almal ken die 5 basiese sintuie, reuk, tas, smaak, sig en gehoor. Dis deur hierdie sisteme wat babatjies (en ons) sin maak van die wêreld om ons.
Maar twee ander sensoriese sisteme, wat minder bekend is, speel ‘n uiters belangrike rol soos wat kleintjies ontdek, groei en meer van die omgewing om hulle leer. Die proprioseptiewe en verstibulêre sisteme!
Propriosepsie is die vermoë om te besef hoe ons lywe beweeg en waar in die ruimte ons is. (bv. Jy hoef nie vir jou voete te kyk soos jy trappe klim nie, jy weet waar sit jy jou voete neer. Of as jy op een been staan en jy maak jou oë toe, weet jy steeds dat jy net op een been staan) Reseptors binne-in ons gewrigte, tendons en spiere, word geaktiveer deur drukking (m.a.w as ons gewigdra) en beweging, en stuur dan direkte seine vir ons brein oor hoe die lyf georienteer is.
Die vestibulêre sisteem is verantwoordelik vir balans en koördinasie soos wat ons beweeg en van posisie verander.
Hierdie twee sisteme is kardinaal vir ontwikkeling. Ons almal ken iemand wat heeltyd in die hoek van die tafel vasloop. Dis swak propriosepsie. En daai ou wat nie twee sekondes op een been kan staan nie. Dis deel van jou vestibulere sisteem.
Kaalvoetloop is een van die beste maniere om proprioseptiewe en vestibulêre ontwikkeling aan te help. Soos wat ‘n baba loop en beweeg, stuur die sole van die voet terugvoer na die brein. Hierdie terugvoer vorm padjies in die baba se brein en help so met breinontwikkeling.
3. Dit skep ‘n beter bewustheid van hulle omgewing
Terwyl hierdie taktiele, vestibulêre en proprioseptiewe terugvoer na die brein gestuur word, moet die brein leer om onnodige stimuli uit te skakel. Dit maak ‘n kleintjie meer bewus van hulle omgewing en wat om hulle aangaan. Dit help met kognitiewe bewustheid van waar hulle is en hoe hulle besig is om te beweeg. En dit verbeter weer konsentrasie!
Omdat kaalvoetlopende kinders gewoonlik ‘n hoër bewussyn van hulle omgewing het, kan hulle makliker ‘n skerp voorwerp sien en vermy.
4. Dit bevorder motoriese ontwikkeling
Het jy geweet die sole van ons voete het oor die twee miljoen senuwee-eindpunte? Dit is hoekom ons voete so kielierig is. Dink hoeveel inligting vanuit ons omgewing mis ons as ons nie kaalvoet kan loop nie. Hierdie inligting is van kardinale belang vir ‘n kleintjie se motoriese ontwikkeling. Dit is hierdie twee miljoen senuwee-eindpunte wat terugvoer verskaf sodat ‘n kleintjie kan leer balanseer en beweeg. Met elke beweging wat hulle uitvoer, word terugvoer gestuur. Met elke bietjie terugvoer, word die breinpadjies sterkter, vergroot ‘n baba se kontrole oor hulle voetjies en lyfie en word ‘n kleintjie se bewegings meer stabiel. Dit is dus veiliger vir jou kleintjie om kaalvoet te loop, klim en speel, omdat hulle groter en beter beheer oor hulle lyfies het. Selfs grootmense klim en balanseer baie beter sonder skoene.
Deur te klim, draai en hardloop op kaalvoetjies, leer ‘n kleintjie se brein hoe om op veranderde oppervlaktes te beweeg. Dit verbeter ‘n kleintjie se spiersterkte, balans, koordinasie, en ruimtelike bewustheid. Hulle klim boom en leer om hulle toontjies om die stam te vou om vas te kan hou. Hulle leer presies hoe om op voorwerpe soos klippe te trap, nie net om te kan balanseer nie, maar om so te trap dat dit nie seermaak nie.
5. Dit bou selfvertroue
Soos wat ‘n kleintjie meer stabiel en met balans in hulle omgewing omgaan, kry hulle meer selfvertroue. Hulle weet waar om te trap en hulle voetspiertjies kan aanpas by die omgewing. Dit veroorsaak dat hylle vrylik en sonder inhibisies kan rondloop.
6. Dit is selfs voordelig vir ‘n kleintjie (en jou) imuunsisteem.
Wat gebeur as my baba te veel skoene dra?
Kleintjies word telkemale in skoene gesit nog voordat hulle kan loop. En so inhibeer ons hulle ontwikkeling. As jou baba leer loop in skoene, is dit baie moeilik om die anatomies korrekte manier van loop aan te leer. Hulle voetjies kry nie die geleentheid om deur al die normale bewegings te gaan nie en hulle toontjies kan nie uitsprei soos hulle trap nie. Hulle kry sub-optimale proprioseptiewe terugvoer en verminderde vestibulêre terugvoer wat veroorsaak dat hulle spiertjies nie leer om te akkomodeer om sodoende te kan balanseer op veranderende oppervlaktes waarop hulle loop nie. Hierdie lei daartoe dat babatjies makliker val en meer vatbaar is vir voet-en been beserings. Selfs navorsing wys dat ons gesonder voete gehad het voor skoene ontwikkel is.
So, ek wil aan jou ‘n uitdaging stel. Kyk of jy hierdie week so min as moontlik vir jou kind skoene kan aantrek. Moedig hulle aan om oor boomstompe, op die gras, in die sand, en oor groot ronde klippe te loop.
Liefde, Renate
Ineke says
Hierdie is so interessant! Ek’t al gehoor dat kaalvoet beter is, maar nooit regtig verstaan hoekom nie – dankie vir al jou inligting!
Hoe maak mens in die winter? My seuntjie (nou 18 maande) het heel winter skoene gedra. 🙈 Ons huis en vloere is koud (matte is vir my te moeilik om skoon te hou met die hondjies).
My tweede seuntjie gaan volgende winter 1 jaar oud wees, wat rondom die tyd sal wees wat hy begin leer loop… Enige voorstelle of idees hoe sy voetjies steeds optimaal kan ontwikkel en nie ysblokkies is nie? Of is die koue ook maar deel daarvan? 🥶
renate.arbs says
Ons huis is ook ‘n yskas, ek hoor presies wat jy sê! My seuntjie was meestal in kousies, maar ek weet dit gly soms. Probeer kousies met daardie plastiekgoedjies op die voetsole, of lekker pantoffeltjies. Harde tekkie tipe skoene, maak dat hulle toontjies nie lekker kan uitsprei nie en het gewoonlik dik sole, wat maak dat hulle nie lekker kan voel waar hulle trap nie. ‘n Sagte pantoffeltjie/sagte skoentjie met ‘n dun sool is dus beter en behoort hom lekker warm te hou. Ek het heelwinter elke middag twee-uur as die wintersonnetjie op sy lekkerste is, ‘n sonhoekie in die tuin gekry waar my seuntjie kan speel sonder skoene! Moenie skuldig voel oor skoene in die winter nie, ons almal doen dit!