Van al die dinge op aarde, is swangerskap en geboorte seker een van die ongelooflikste. Dis ‘n proses van wonderwerke. Konsepsie, die groei wat ‘n babatjie binne in die baarmoeder ondergaan, tesame met al die veranderings in ‘n mamma se lyf totdat dit uiteindelik uitloop op geboorte. Alles is wonderbaarlik geskape om perfek saam te werk.
Hoe presies ons Hemelse Vader geboorte ontwerp het, en hoe perfek ons lywe en anatomie daarvoor gemaak is, is verstommend.
Hoe begin geboorte?
Alles begin die babatjie, wat nou ten volle ontwikkel, hormone en biochemiese merkers vrystel wat sy moeder laatweet dat hy gereed is vir die wêreld. Navorsers is steeds nie seker presies hoe die baba en die moeder met mekaar kommunikeer om geboorte te laat begin nie, miskien is dit deel van die wonder daarvan. Hulle weet wel dat sekere biochemiese merkers van die baba, oksitosien en prostoglandienafskeiding in die moeder veroorsaak, wat die dryfveer agter geboorte is. Long surfaktant is ‘n protein wat eers heel aan die einde in ‘n ongebore baba ontwikkel, en veroorsaak dat hulle longetjies nie platval as hulle, hulle eerste asemteug neem nie. Hierdie long surfaktant blyk ook ‘n rol te speel om die bal aan die rol te sit. Sodra dit genoegsaam ontwikkel het om baba self te laat asemhaal, stuur dit ook seine na die moeder. Met ander woorde dit wil voorkom dat sodra baba ten volle ontwikkel is en gereed is vir die wêreld, die geboorteproses begin. Perfek, is dit nie?
En so begin die geboorteproses.
Die hormoon prostoglandien help om die serviks te versag en ontsluit. Oksitisien is weer grootliks verantwoordelik vir kontraksies. Kontraksies begin stadig en ongereeld. Meeste eerste maal mammas bly lank in hierdie fase. Met elke volgende geboorte word hierdie fase korter. Dit voel partykeer of hierdie kontraksies geen doel het nie omdat dit voel of niks gebeur nie, maar hierdie fase berei as’t ware jou lyf voor vir geboorte. Jou baarmoederwand trek saam en ontspan. Baba se koppie of in sommige gevalle sy boudjies plaas druk uit op die serviks, sodat dit kan versag.
Met elke kontraksie ontsluit die serviks verder en skuif baba verder af in die geboortekanaal.
Stadig maar seker word kontaksies meer gereeld, hou vir langer aan en neem toe in intensiteit. Wanneer kontraksies lekker sterk en gereeld is, ontsluit jy teen ‘n vinniger tempo. Teen die tyd dat jou lyf volledig ontsluit is, neem ‘n allesoorheersende gevoel om te druk ‘n moeder oor. Soos wat ‘n moeder druk, word baba gebore. Geboorte gebeur ook nie net met jou baba nie. Nee hy’s is ‘n aktiewe deelnemer. Hy skop met sy voetjies teen die baarmoederwand om te help om hom uit te kry.
‘n Paar belangrike dinge gebeur tydens hierdie proses. In utero is ‘n baba se longetjies vol vog. Tydens geboorte word ‘n groep hormone deur baba afgeskei genaamd chatecholamine. Hierdie hormone veroorsaak die die vog in baba se longe vinniger opgeneem word en meer van die surfaktant op sy longetjies afgeskei word. Soos wat baba afbeweeg deur die geboortekanaal word die laaste bietjie vog uit die longetjies gedruk, sodat teen die tyd wat baba gebore is, sy longetjies skoon genoeg is vir maklike asemhaling.
Tweedens kry baba belangrike bakterieë in. ‘n Baba se spysverteringstelsel is nog onvolwasse en sy sy immunstelsel swak. Tydens geboorte word baba blootgestel aan sy moeder se mikrobioom waar hy voordelige bakterieë inneem om sy eie mikrobioom te help bou. Antiliggaampies word ook tydens geboorte aan die baba oorgedra. Dieselfde hormoon wat help met asemhaling, chatelomines verhoog ook die produksie van witbloedselle (wat siektes help beveg) Babas wat hierdie bakterieë ingekry het is minder vatbaar vir allergieë, asma en obisiteit later in hulle lewe, het studies gevind.
‘n Babatjie is so perfek geskap vir geboorte. ‘n Baba se skedelbeentjies is sag en nog nie volledig vasgeheg aan mekaar nie. Dit is sodat die beentjies bo-oor mekaar kan beweeg tydens geboorte om deur die geboortekanaal te pas. Dit maak dus nie saak hoe groot jou baba se koppie is nie, want kyk hoe wonderlik is jou baba geskape.
Stadig word baba se koppie gebore en as sy koppie eers uit is, volg die res van sy lyfie maklik. 30% van jou baba se bloed is nog in jou plasenta. Na jou baba gebore is, wag dokters tot die bloed ophou pomp deur die naelstring om seker te maak by kry sy bloed, voor hulle hom afknip. En dan is baba op mamma se bors. Julle het dit gedoen! Jy en baba saam het hard gewerk om geboorte te gee en gebore te word.
Die hormoon oksitosien, wat tydens geboorte afgeskei word, word ook die bindingshormoon genoem. Ons het reeds gehoor dat oksitisien kontraksies laat gebeur, maar oksitosien speel net so groot rol na geboorte soos tydens geboorte. Na geboorte help oksitosien om die nuwe mamma se stresvlakke te verlaag, Dit help jou om vinniger met baba te bind. Oksitisien veroorsaak ook dat melk afgeskei word sodat baba kan drink om te oorleef. Terwyl baba aan jou bors drink word selfs meer oksitisien afgeskei, wat weer jou baarmoeder help saamtrek om dit te help terugkeer na sy normale grootte. Hierdie baarmoeder kontraksies na geboorte help om nageboortelike bloeding te verminder. Hoe verstommend is die proses van geboorte nie! Elke hormoon wat afgeskei word, elke proses wat gebeur, het ‘n belangrike doel!
Ek hoop hierdie stukkie kan jou die mooi van geboorte laat verstaan.
Liefde, Renate
Monique says
Wow. Dankie Renate.
renate.arbs says
Ek is so bly as iemand dit waardevol vind! Dit maak dit vir my lekker om te skryf!