Vandag het ek gaan aanklop by Dr. Chantel Correira van der Bijl oftewel Bloemmomdoc om te gesels oor inentings. In die eerste jaar van my babatjie se lewe het dit vir my gevoel ons moet elke week aanmeld vir inentings. Ek het ‘n klompie van die meer algemene vrae wat ek al gehoor het vir Bloemmomdoc gevra en hier is haar antwoorde!
1. Is inentings regtig so belangrik? Daar is so baie?
Dit is ongelooflik belangrik. Daar is baie vaksien-voorkombare siektes daar buite wat ongelooflik gevaarlik is en langblywende newe-effekte kan los indien kinders of volwassenes dit kry. Baie navorsing is al op vaksiene gedoen, dit is juis hoekom daar so baie is! Hoe meer daar is, hoe meer verskillende infeksies voorkom ons.
2. Ek het my baba se spuite vergeet. Hoe lank ná my baba die spuite moes kry, kan ek steeds gaan?
Dit moet verkieslik met jou klinieksuster, huisdokter of pediater bespreek word, aangesien party spuite nie ná ‘n sekere ouderdom gegee kan word nie.
3. Wanneer moet ek vir my baba pynmedikasie gee?
Verkieslik moet geen pynmedikasie vir 4 ure voor en 4 ure ná die spuit gegee word nie. Dit kan die immuunrespons op die vaksien beïnvloed.
4. Is dit goed om sommer net (profilakties/voorkomend) pynmedikasie vir my baba te gee, voor hulle enige simptome wys?
Verkieslik nie. Soos in nr. 3 genoem, moet dit verkieslik nie in daardie tydsperiode gedoen word nie. Ek sou nie onnodig vir ‘n kleintjie profilaktiese pynmedikasie gee indien dit nie absoluut nodig is nie. Alle middels kan newe-effekte hê.
5. Hoekom kry party babas koors en ander babas het geen simptome ná inentings nie?
Elkeen reageer anders op spuite. Dieselfde met sekere siektes ook, elkeen kan anders reageer op dieselfde infeksie. As daar geen newe-effekte is nie, beteken dit nie dat die vaksien nie effektief was nie.
6. Moet ek gaan vir my baba se inentings as hy siek is?
As jou kind nie koors het nie, kan hy gaan vir sy spuite. Indien jy twyfel kan jy altyd die klinieksuster, huisdokter of pediater vra.
7. Hoekom moet my baba party van die inentings 2 of 3 keer kry? Kan ek wag tot hy ouer is en dan vir hom net een van die inentings gee (i.p.v. dat hy 3 moet kry)?
Met elke inenting, verhoog jy die effek van die immuunstelsel teen daardie spesifieke siekte. Hoe jonger die baba, hoe minder sal die immuunrespons wees, dus moet dit versterk word. Jy plaas die kleintjie in ‘n weerbare posisie as jy te lank wag met die inentings, aangesien hul blootgestel kan word aan die siekte in die tussen tyd.
8. Wat is die verskil tussen staat-en privaatinentings?
Daar is 2 skedules vir inentings in SA. Wat die ooreenkomstige inentings aanbetref is hulle die meeste van die tyd van dieselfde vervaardiger en het dieselfde effek op die ou einde. In ‘n ontwikkelende land soos SA, moes die regering sekere spuite prioritiseer om dit verniet aan ‘n groot deel van die bevolking te gee, dus moes hul kyk na hoe algemeen sommige siektes voorkom en wat die kostes van sekere spuite is. Dit is altyd voordelig om die ekstra privaatintentings te kry indien jy dit kan bekostig.
9. Enige ander belangrike opmerkings?
Dit is nie net belangrik om jou kinders se inentings op datum te kry nie, maar ook jou eie as volwassene. Dit is nóg meer voordelig in swangerskap en borsvoeding. Kyk op my blad waar ek onlangs meer inligting daaroor gegee het.
As jy nog vrae het, los hulle in die kommentaar of op my instagram en as ek hulle nie kan antwoord nie, vra ons vir Bloemmomdoc of soek tot ons iemand kry wat kan.
Liefde, Renate