Jy is by ‘n braai en jou kleuter speel met jou buurvrou se seuntjie. Ewe skielik vat die ander kleintjie jou kleuter se karretjie en terwyl jy verstom staar, byt jou kleuter die maatjie. Sommer net so. Jy sak jou kop in skaamte en dink, wat het ek verkeerd gedoen?
Niks, dis normaal! Die nie lekker of oulik nie maar dis normaal. Omtrent alle kleuters gaan deur ‘n fase waar hulle byt of slaan of knyp. Dit is ‘n manier van kommunikeer.
Hoekom byt/slaan kleuters?
Daar is twee hoof-redes uit my ervaring.
- Kleuters byt/knyp/slaan omdat hulle het nog nie die emosionele vaardighede om sekere situasies te hanteer nie en uiting wil gee aan hulle frustrasie of woede
- Kleuters byt/slaan as deel van eksperimentering. Hulle toets die grense of kyk watter reaksie dit ontlok.
Ander redes:
- Hulle na-aap ander kinders
- Hulle benodige oraal-motoriese stimulasie (bv. babas wat tande kry)
- Om jou aandag te kry
- Groot lewensveranderinge (bv. Trek, nuwe baba in die huis)
Dis belangrik om alle tipes byt of slaan dieselfde te hanteer. Of jou kind nou speel-speel slaan, uit aggresie, frustrasie, verveeldheid, of selfs net om jou uit te lok, slaan is slaan. Ons wil ook graag so min as moontlik aandag aan byt of enige negatiewe gedrag gee. Onthou dat negatiewe aandag, steeds aandag is.
Wat moet jy liewer vermy?
- Vermy ‘n groot reaksie: NEE! Stop, Jy mag nie aan mamma slaan nie!! Sies!”
Ken jy daar die speelgoed met die liggies en geluide? Daardie tipe wat as jou kleintjie eers agtergekom het dit raas en flits as ek die knoppie druk, hy dit aanhoudend doen? As jy so ‘n groot reaksie het, is jy daai speelding, mamma! Die kleintjie leer, elke keer as ek byt, kry ek ‘n enorme reaksie uit mamma uit. Om die waarheid te sê, hy kom agter, ‘dis die beste manier om mamma se aandag te trek’.
- Moenie op die kind se gevoel probeer speel nie. Moenie sê: “Mamma kry so seer as jy byt.” Of nog erger. “Jy maak liewe Jesus se hartjie so seer as jy dit doen.” Of “Jy gaan glad nie maats hê as jy aanhou byt nie.”
Wat moet jy doen?
- Hou jou reaksie neutraal. “Byt is seer.”
- Stel die “nee” positief. In plaas van om te sê: “Nee jy mag nie byt nie,” sê eerder “Tandjies is vir kos kou”. Het jy al ervaar as jy vir jou 1-jarige sê: “Moenie gooi nie, dat hulle direk daarna gooi? Dit werk stukke beter om die nee op ‘n positiewe manier te stel.
- Verstaan die gevoel. “Mamma kan sien jy is kwaad/hartseer/verveeld/opgewonde.”
- Gee ‘n alternatief as hulle ouer is. ‘Jy kan vir mamma roep.”
- Trek die kleuter se aandag af. Dit werk vir jonger en ouer kleuters, maar veral vir jonger kleuters. As jy laasweek se blog gelees het sal weet dit help nie om die hondjies oor en oor te slaan as sy die stoel stukkend kou nie, jy trek bloot haar aandag af. Dieselfde geld vir ‘n kleuter
My kleintjie het gebyt om ‘n reaksie uit te lok. Ek het in dieselfde gat getrap en gesê. “NEE! Eina sies ons byt nie. Dis baie seer. Sê jammer vir mamma. Sê jammer!” Dan kyk hulle jou netso en doen dit weer. Tot ek naderhand geleer het dat dit regtig beter werk om die reseppie te volg.
Die reseppie klink so as jou baba nog klein is: dink 9-18 maande en uit opgewondeheid of vir stimulasie byt.
Kleintjie byt. Mamma sê: “Byt is seer. Tandjies is vir kos kou. Hier, vat jou karretjie”. So min as moontlik aandag word aan die verkeerde gedrag gegee, en die baba se aandag word onmiddelik afgetrek.
As hulle heel klein is kan jy dit verkort ook. As jou baba op jou heup/skoot is; sê “Tandjies is vir kos kou” en sit die baba neer of loop ‘n treë weg. So leer hulle dat daar nie aandag gegee word aan hierdie tipe gedrag nie.
As jou kleintjie bietjie ouer is en uit woede of frustrasie byt, kan jy die reseppie bietjie langer maak.
Kleintjie byt. Mamma sê: “Byt is seer. Mamma kan sien jy voel hartseer/gefrustreerd/kwaad, maar tandjies is vir kos kou. As die maatjie weer so maak, mag jy vir mamma roep. Kyk hier is jou pop.”
Volg die reseppie vir ‘n week of twee en laat weet hoe dit gaan.
Sterkte, Renate