deur Annette Schoeman, ma van 5 + 1 gidshondbaba
Yentl was sewe weke oud toe sy by ons opgedaag het. Dit was Vrydag 30 April. Sy was nog bitter klein, maar dapper. Sedert haar geboorte op Saterdag 13 Maart 2021 was sy onder die sorg van Storm (haar mamma) en die personeel van die Gidshondvereniging van Suid-Afrika in Johannesburg. Sy is een van elf kleintjies en om haar van haar boeties en sussies te onderskei, is sy met ‘n pienk kol op haar linkeragterpoot gemerk.
Sy was nie ‘n dag hier by ons nie, toe ek besef het dat mensbabas en gidshondjies baie dieselfde is.
Gidshondbabas word geteel om baie slim en leergierig te wees. Soos meeste Labradors, is Yentl ook liefdevol, spelerig en gretig om te plesier. Om haar groot te maak sodat sy op 15 maande gereed is om weeksdae ’koshuis’ en ‘universiteit’ toe te gaan, verg toewyding en tyd. Gedurende die formele opleiding by die Gidshondverening, wat vir nagenoeg 6 tot 10 maande sal duur, gaan Yentl net naweke huis toe kom. Wanneer sy ‘graad vang’ op twee jaar oud, begin sy ‘werk’ as die gids vir ‘n blinde persoon.
Die opmerking wat ek telkens hoor, wanneer familie, vriende, bure of vreemdelinge hoor dat ons as vrywilligers aangebied het om ‘n babagidshond groot te maak, is: “Jy gaan haar so liefkry, dat jy haar nie gaan wil afgee nie!” My antwoord is dan: “Ek het reeds vier keer ‘n baba verskriklik liefgekry, hulle koshuis en universiteit toe sien gaan en dan beleef ek hoe hulle die huis heeltemal verlaat om te gaan werk. Wanneer Yentl aan die einde van 2022 die huis verlaat, verlaat my vyfde mensbaba ook die huis. Ek is gereed daarvoor.”
Anders as met mensbabas, is Yentl met ‘n handleiding huis toe gestuur. Die belangrikste werk wat ek (en die res van die gesin het), is om vir Yentl aan verskillende omstandighede bloot te stel (haar te ‘sosialiseer’) en haar basiese dissipline te leer. Dit beteken sy moet baie aandag kry en elke week iets nuuts byleer: sy moet gewoond gemaak word aan haar halsband; geleer word om te sit en om te bly lê; flink links van my loop sonder om aan die leiband te trek; rustig bly as sy karry; weet waar om haar draaie te loop; kalm bly as ‘n deur hard toeklap, motors verbyjaag en nuuskierige mense om haar saamdrom; saamgevat word winkel toe, kerk toe, met vakansie, orals… Ons mag nie aan haar slaan nie, nie op haar skree nie en haar nie frustreer nie, maar ons moet haar steeds geduld aanleer, gewoond maak daaraan om met tye alleen te wees en les bes, nie aan alles te kou nie.
Die goue reël is om konsekwent te wees. As die verwagting is dat sy nie op meubels moet spring nie, mag sy nooit op beddens getel word nie, nie eers partykeer vir net ‘n kort ou rukkie nie. As sy geduldig moet kan wag, mag ek nie dádelik vir haar soggens kos gee nie – veral nie as sy opspring en blaf nie. As die opdrag is dat sy nie mag bedel nie, mag niemand, nêrens en nooit vir haar kos van die tafel af voer nie.
Binne een dag het Yentl geleer sit; binne twee dae het sy nog ‘n rits goed baasgeraak (en ek het die video om dit te bewys); binne ‘n week het Yentl geleer dat sy eers soggens kos kry, as ek vir myself ‘n koppie tee gemaak het of die asblik uitgesit het. Yentl is stroopsoet in die kar (en raak gou aan die slaap as sy die gedreun van die dieselenjin hoor). Sy het al ‘n hele aanddiens in die kerk op haar kombersie gelê (al moet ek bieg dat die been waaraan sy met mening gekou het, haar die hele uur besig gehou het).
Die ander noodsaaklike bestanddeel vir die grootmaak van ‘n babagidshond, is oplettendheid. Hoe mooier ek haar dophou en die tekens lees, hoe beter kan ek haar leer wat van haar verwag word. ‘n Babahond moet gereeld uitgevat word tuin toe as mens plassies in die huis wil vermy. Dit beteken ek moet elke nou en dan opstaan en saam met haar buite toe gaan. Ek kan ook nie net vir Yentl by die deur uitstoot en omdraai nie. Ek moet tydsaam saam met haar in die tuin rondstap en seker maak sy maak haar blasie leeg, voordat sy weer in die huis inhol. Deur elke keer daar te wees om haar te prys as sy hierdie mylpaal bereik, maak ‘n groot verskil. As sy dan soms ‘n plassie in die kombuis maak terwyl ek kosmaak, raas ons nie, want sy is nog klein en dit is eintlik ek wat moes oplet.
Die derde wenk is om ‘n hondjie se aandag af te trek as sy iets doen wat lastig is. Yentl se tandjies is rasperskerp en sy kan seer byt. Toe sy net hier by ons aangekom het, kon ons nie beweeg of stilstaan nie, want sy het ons aan die hak of tone gebyt. Dit was ‘n gemors, want ons kon haar nie piets nie en ook nie met haar raas nie! Ek het dit nie laat blyk nie, maar ek was moedeloos. Ek het nie geglo die strategie wat in die handleiding voorgestel is, sal werk nie. Yentl was meedoënloos en rats. Keer mens hier, dan byt sy daar. Spring jy weg, dan spring sy agterna. Tog, binne drie dae het sy nie meer na my voete en hande gebyt nie, want ek het die resep gevolg. Sy het steeds met mening my twee huisgenote gebyt en dit het oorreding geverg om hulle te oortuig dat dit nie Yentl was wat die probleem is nie, maar hulle! As sy húlle steeds byt en mý nie, is dit iets wat hulle doen (of nie doen nie), wat haar laat aanhou met die lawwe eina-speletjie. En die strategie? Vat haar stewig om haar lyfie, draai haar heeltemal weg van jou af en na ‘n speelding toe en as sy daaraan begin kou, prys haar. Ek moes dit keer-op-keer doen, vir ‘n paar dae – viola! Nou byt Yentl net nuweling (soos ons studente wat naweke huis toe kom), totdat hulle ook leer om haar aandag af te trek en haar te prys as sy eerder haar speelgoed karnuffel.
Wanneer Yentl wel byterig raak en haar speelgoed nie haar aandag aftrek nie, kan ek vir seker weet sy is vodde! Dan tel ek haar in haar bed-cum-speelhok, gee haar teddie vir haar en vryf haar ruggie ‘n paar keer. Sy weet al dat dit dan slaaptyd is en word ‘n uur later wakker – ‘n uitgeruste, soet baba. Wat beter werk, is as ek fyner oplet en haar laat slaap vóórdat sy oormoeg raak. Klein hondjies het baie slaap nodig. Wanneer hulle op hulle wakkerste en lafste lyk, is hulle die moegste. Daarteenoor is hulle rustig en gehoorsaam wanneer hulle uitgerus is. Daarmee sê ek nie dat hulle nie regtig lekker kan speel nie – trouens, hulle is mal daaroor! Dis wanneer speel, uitmekaarval word, dat mens weet hulle moes al geslaap het!
Ten spyte van konsekwent wees, fyn oplet en aandag aftrek, bly Yentl ‘n babahond. Ons kan nie te veel van haar verwag nie. Dit is nog ‘n lang pad voordat sy ‘n bruikbare gidshond sal wees. Ons hou dus byvoorbeeld die kamerdeure toe, sodat sy nie blitsvinnig ‘n pantoffel steel en in die tuin opkou nie. Nodeloos om te sê, ons het al skade opgetel en daar sal nog skade wees. Dit is deel van die pakket en mens moet daarvoor begroot (letterlik/finansieel en spreekwoordelik).
Ons het gekies om vir amper twee jaar elke dag die opleiding van Yentl te behartig en ook een keer per week die opleidingsklasse by te woon – waar dit gou sal blyk as ons nie tuis ons kant bring nie. As Yentl se tien sibbe aan ‘n leiband kan loop sonder om te beur en te blaf en as hulle geduldig kan wag wanneer dit van hulle verwag word en Yentl kan nie, wie se skuld sal dit wees?
Dit kos die Gidshondvereniging derduisende rande om een hond op te lei. Kwesbare mense is afhanklik van hierdie diens. Ek kan nie bekostig om vir Yentl te verwaarloos, te bederf of te verwoes nie. Net soos Yentl, word babas nie self groot nie en ook nie self stout nie. Dit is ‘n voltydse vreugde en verantwoordelikheid om ‘n (Konings)kind die lewe in te stuur, wat ‘n aanwins vir die samelewing is – en bo alles Genade!