Elke baba rol, sit en loop een of ander tyd. Party vroeër, ander later, maar geen baba mis hierdie mylpale nie. Kruip is egter ‘n ander storie. Ons almal ken ma’s wat sê “oe my seuntjie het nooit gekruip nie, sommer direk van sit af begin loop” of “my dogtertjie het net op haar boude rondgeskuif.”
Is dit normaal dat sommige babas doodeenvoudig net nie kruip nie?
Nee, dit is nie. Alle normaalontwikkelende babas kan kruip!
Hoekom kruip party babas dan nie?
Hulle is net nie geleer hoe nie. Sommige kere is daar iets wat verhinder dat baba kruip soos byvoorbeeld swak nek-en kop of romp beheer. (swak maag-en rugspiertjies) of onvoldoende tyd of geleentheid om te oefen. As gevolg van swak spiertjies is dit dan partykeer makliker om te boudskuifel of ‘n ander manier van beweeg te kry.
Kamma-kruip
Babas kruip of beweeg op verskeie maniere behalwe die tradisionele manier van kruip. Ons noem dit sommer ‘kamma-kruip’. Dit is omdat nie een van hierdie maniere al die voordele van tradisionele kruip inhou nie.
- Krap kruip. Hierdie is gewoonlik nog deel van die leerproses van kruip, wanneer babas agtertoe stoot met hulle arms en agtertoe kruip of ipv vorentoe
- Kommando kruip. Wanneer babas op hulle magies vorentoe seil.
- Beer kruip. Dit is wanneer ‘n baba nie met sy kniegies op die grond kruip nie, maar met sy voetjies op die grond en sy boude in die lug.
- Boudskuifel. Babatjies sit op hulle boudjies en gebruik hop-bewegings om hulle self vorentoe te laat beweeg.
Baie babas begin deur een van hierdie metodes te gebruik om te beweeg soos hulle leer om te kruip en beweeg dan aan na die tradisionele manier van kruip. Wat ons egter nie wil hê nie, is dat ‘n baba in hierdie manier van kruip vashak nie. Ons sal graag wil sien dat jou baba al die voordele wat kruip bied kan benut.
Hoekom is kruip so voordelig?
- Kruip is die eerste en langste tyd wat jou baba gewig dra op hulle hande, arms en skouers. Geen ander aktiwiteit doen dit so effektief en lank soos kruip nie. Hierdie gewig wat baba op sy arms plaas het ‘n paar funksies.
- Dit ontwikkel hulle handbrûe. As jy met jou pinkie aan jou duim raak sien jy so ‘n keep in jou hand. Dis een van jou handbrûe. Daar is baie brûe in jou hand. Die gewig wat baba op sy handjies plaas tydens kruip, ontwikkel hierdie handbrûe.
- Dit verbeter skouerstabiliteit. Onvoldoende skouerstabiliteit het ‘n direkte verband met probleme met fyn-motoriese takies. Hierdie versterkte skouerstabiliteit en goed ontwikkelde handbrûe help om ‘n stabiele basis te vorm vir takies soos eet, skryf, ryg, self aantrek en inkleur.
- Kruip help om ‘n baba se bal-en potjie gewrigte te vorm. Bal-en potjie gewrigte (skouers en heupe) is nog swak by geboorte. Kruip help om die heupgewrig te versterk en op-en inwaarts te beweeg ter voorbereiding vir loop.
- Kruip versterk baba se bolyf en maag- en rugspiere wat help met ander groot motoriese take.
- Dit leer kleintjies ruimtelike en liggaamlike bewustheid. Soos jou kleintjie onderdeur ‘n stoel en bo-oor ‘n kussing kruip, leer hy waar sy lyfie begin en eindig. Hy stamp sy kop as hy opkom onder die stoel en leer: “oe daar’s my kop, dis nog deel van my lyfie.”
- Dit help met diepte persepsie.
- Soos wat jou baba oor verskeie oppervlaktes kruip kry hy sensoriese en proprioseptiewe terugvoer (propriosepsie is wat veroorsaak dat jy in die donker kan loop sonder om te val – dis hoe jou lyf weet waar hy is in die ruimte). Jou baba leer dus om dele van haar lyfie te gebruik sonder om daarna te kyk. Hierdie ‘blinde’ koördinasie is belangrik vir alle tipe beweging lateraan. (dink maar aan enige sportsoort)
- Kruip ontwikkel bilaterale integrasie. Bilaterale integrasie verwys na die twee dele van die lyf wat saam gebruik word in ‘n gekoördineerde manier. Dink byvoorbeeld aan huppel, galop, hardloop en ander fyner vaardighede soos teken of kosmaak.
- Die oorkruis beweging van kruip bevorder kognitiewe ontwikkeling. Jou corpus callosum lê tussen jou twee breinhemisfere. Kruip stimuleer die corpus callosum wat kommunikasie tussen die 2 breinhemisfere fasiliteer.
- Kruip bevorder motoriese beplanning/probleemoplossing. Kleintjies is heeltyd besig om te beplan waarheen en hoe hulle oor en om objekte gaan kruip.
- Kruip help met midlynkruising. Kinders wat sukkel met midlynkruising sal byvoorbeeld hulle hande ruil as hulle in die middel van die bladsy kom terwyl hulle skryf.
- Dit help met visie. Kinders moet leer om hulle fokus te verskuif van regs na links en verder en nader. Hierdie fokusverskuiwing is die boublokke vir lees eendag.
- Kruip help met hand-oog koördinasie.
- Kruip bevorder balans, wat weer belangrik is vir loop later.
Hoe kan ek ‘n omgewing skep waar my baba kan leer kruip?
- Gee vir baba baie tyd op die vloer. Verminder baba se tyd in enige baba-toestelle. Loopringe, Bumbo-stoeltjies, stootwaentjies. ‘n Baba wat vasgekluister is in ‘n toestel kan nie die omgewing ontdek, sy koppie met sy armpies begin opdruk en sy spiertjies oefen nie.
- ‘Tummy time’. Om vir baba op sy magie te sit is so goed vir onwikkeling. En jy kan vroeg-vroeg al begin. Jy kan speelgoed langs of voor hom sit. Dis ook hoe kleintjies leer rol.
- Moenie te veel ondersteuning gee nie. In ‘n Bumbo-stoel of te styf gepak met kussings word geen van baba se spiere ingespan om hom regop te hou nie. Laat toe dat jou baba sy eie spiertjies ook gebruik.
- Gun jou baba die geleetheid om sit en staan en beweeg op sy eie te ontdek. Jy wil dalk help en instruksies gee, maar wag ‘n paar sekondes en kyk wat baba self met sy lyfie regkry.
Wenke om jou baba te help om te kruip:
- As baba op sy magie lê en opdruk met sy handjies, help hom om sy kniegies onder sy lyfie in te sit sodat hy hande-viervoet staan. Laat hom vorentoe en agtertoe wieg. Jy kan ook ‘n opgerolde handdoek onder sy lyfie sit sodat hy daaroor staan.
- Speel saam met jou baba op die vloer. Jou baba kan die kruipposisie inneem deur bo-oor jou been te lê. As jy op die vloer lê, is babas geneig om teen jou op te kruip met hulle bolyfies. Dit versterk hulle spiertjies en gee hulle lekker baie motivering. Elke baba wil mos by sy mamma uitkom.
- Sit speelgoed weerskante van jou baba sodat hulle kant toe leun om die speelding te kry. Baie keer gaan hulle dan oor in die hande-viervoet posisie. Dit help hulle ook om hulle te leer om hulle bolyfies van hulle onderlyfies te dissosieer (apart van mekaar te gebruik).
- Hindernisbane. ‘n Baie goeie manier om vir baba te help om reg en sterker te kruip is om harde kussings en ander objekte in ‘n hindernisbaan te pak sodat baba daaroor moet kruip.
- Moenie bang wees om saam met jou baba te kruip nie. Jy kan jou arm onder sy lyfie insit en saam met hom, met jou lyf bo-oor syne kruip. So kry hy die gevoel vir die beweging.
Elke baba kan kruip en moenie dat iemand jou vertel, “sommige babas kruip doodeenvoudig nie.” Jy kan jou baba leer kruip!
Sterkte
Renate