“Co-sleeping” is ‘n uiters kontroversiële onderwerp. Partymense bestempel dit as “sleg” of “onverantwoordelik” terwyl ander weer sê dis “natuurlik” en “voordelig”.
Ek wil my verstuit en sê dat alle ma’s, of hulle nou vir of teen ‘co-sleeping’ is, hulle babas op een of ander tyd al by hulle in die bed getel het. En meeste mammas voel een of ander tyd skuldig daaroor. Frases soos “Jy bederf hom!” “Is jy nie bang jy rol oor hom nie?” en “Hou gouer hulle leer om alleen te slaap, hoe beter” word gereeld gehoor. Miskien kan hierdie artikel jou help om te verstaan dat jy nie hoef skuldig te voel nie.
Om saam met jou baba of baie na aan jou baba te slaap is ‘n eeue oue ding. Omtrent alle nie-Westerse samelewings doen dit vandag nog. In die Westerse samelewing was dit standaardpraktyk tot 500 jaar terug. Hierdie slaapreëlings lyk nie vir alle families en kulture dieselfde nie. Party families tel die baba by hulle in die bed of op hulle matjie waar hulle slaap. Ander plaas die baba se bassinet of wiegie teenaan die bed of minder as ‘n armlengte weg. Deesdae kry mens sulke bed-verlengers wat jy aan die bed kan hak waar baba in slaap.
Vandag se veranderende slaapreelings in die Westerse samelewing het begin by die katolieke kerk (hier is ‘n artikel oor die geskiedins van slaap in die westerse wêreld). Sigmond Freud het verder daartoe bygedra. Hy het ‘n teorie gehad dat babas skade opdoen as hulle in die huweliksbed ingebring word (ek rol maar net my oë) Nog later het die vergroting van Westerse huise dit mode gemaak om vir elke kind hulle eie kamer te gee.
Vandag is meeste gesaghebbende bronne van opinie dat dit die beste is as ‘n baba en sy ouers die eerste 6 maande ‘n kamer deel. Maar dis nie die kamer wat beskermend is vir baba nie. Dis die interaksie wat tussen die ma en baba gebeur.
Dr Mc Kenna, ‘n biologiese antropoloog, redeneer dat as meeste diere en meeste samelewings die praktyk waar ouers en babas naby aan mekaar slaap beoefen, daar hoogs waarskynlik ‘n biologiese voordeel is. Uit die aard van die saak was dit oor meeste eeue veiliger om jou kleintjie so na as moontlik aan jou te hê, maar die voordeel is nie vandag uitgeput nie. Dis steeds veiliger as jou pasgebore baba naby aan jou slaap! Hoekom?
Gapings in babas se asemhaling is normaal by baie klein babatjies. Maar ‘n baba kan deur sy ma ‘beïnvloed’ word om reëlmatig asem te haal. Navorsing het bevind dat ouers en babas ‘n fisiologiese invloed op mekaar het wanneer hulle naby aan mekaar slaap. Ouers reguleer pasgebore babatjies se harttempo, asemhaling, temperatuur, suurstofvlakke en selfs breinaktiwiteit. Borsvoedende mammas en babas wat by mekaar slaap, neig ook daarna om dieselfde slaap-en droomsiklusse te hê.
Dr. McKenna sê hierdie oor-en weer beinvloedery tussen ouers en ‘n pasgebore baba dui daar op dat ‘n baba se groei veronderstel is om in hierdie biologiese sisteem, m.a.w. naby aan ‘n volwasse persoon te gebeur. Veral in die pasgebore stadium waar ‘n baba fisiologies nog onvolwasse is.
Nog voordele: Dit maak borsvoeding makliker. ‘n Ma hoef nie op te staan en in ‘n ander kamer haar baba te gaan haal om te voed nie. Dit kan help dat babas nie te vroeg die bors los nie en mamma en baba hoef nie volledig wakker te word om te voed nie.
Om naby aan jou baba te wees beteken jy kan vinnig help as daar nood is. As jy naby aan jou baba slaap, is die kanse baie groter dat jy gaan wakker word as jou baba ‘n geluidjie maak. Dit veroorsaak dat daar meer gereeld seker gemaak word dat alles nog reg is. Dit is dalk nie so algemeen nie, maar jy is by jou baba as sy aan haar melk verstik, as daar dalk ‘n vuur uitbreek of enigiets dergliks. Borsvoeding en die feit dat jy meer gereeld inloer op jou baba verlaag die risiko vir wiegiedood. In Japan is dit die norm om te “co-sleep. Japan se wiegiedood syfers is ook die laagste in die wêreld.
Die 2 hoof argumente teen sg. ‘co-sleeping’ is
- Veiligheid
- Dit maak jou baba afhanklik.
Terwyl veiligheid ‘n risiko is, KAN jy veilig met jou baba ‘n bed deel. Om met jou baba ‘n bed te deel kan gevaarlik wees as jy of pappa gedrink het of as jy om ‘n waterbed slaap, sodat baba nie homself kan opdruk nie. Drank verlaag jou sensoriese bewustheid, wat veroorsaak dat jy nie so bewus van jou baba is nie. Hier en hier is goeie artikels wat meer in diepte gaan oor veilige slaap, as jy kies om ‘n bed met jou baba te deel.
Afhanklikheid. Ai, as ek ooit een ding aan jou kan oordra is dit die volgende: Afhanklikheid bou onafhanklikheid. Ek het dit al 10 keer gesê en sal dit nog ‘n 1000 keer sê. Dit is biologies, ontwikkelingsgewys normaal dat ‘n baba afhanklik is van sy ouers. En soos jy vroeër gelees het, dis fisiologies voordelig vir ‘n kleintjie om afhanklik van sy ma te wees. Navorsing het gevind dat ‘n hoewel ‘n baba wat nie saam met sy ouers slaap nie, vinniger op sy eie aan die slaap kan raak en deurslaap,(Lees, huil-dit-uit slaapopleiding) ‘co-sleepers’, vinniger onafhanklik is! Ja, kinder wat ge-‘co-sleep’ het, kon meer op hulle self staatmaak. Hulle kon vroeër hulleself aantrek, tandeborsel en het meer sosiale onafhanklikheid getoon. (bv. hulle het vinniger maats gemaak.)
My eie keuses oor ‘Co-Sleeping’.
Vir die eerste week of so het my seuntjie tussen ons in ‘n mandjie/bassinet geslaap. Daarna het ek hom in sy kot gesit en die kot met sy oop kant tot teen aan die bed geskuif. My seuntjie het aan die begin elke drie ure in die nag wakker geword om te voed, maar begin slegter slaap in die na-nag. Teen 4 uur was elke 45 minute na ‘n uur wakker. En daai laaste ure was ek altyd pootuit. Hy het ook dan langer gevat om aan die slaap te raak. Dan het ek hom altyd in die bed getel. Dit was dan baie makliker om hom net te vryf of aan die bors te sit as hy wakker word. Ek hoef dan nie eers op te staan nie.
Ek het gekies om altyd die aand begin deur my baba eers in sy eie bed te laap slaap. Dit het dit vir my en my man makliker gemaak om in die bed te klim. Ek het hom gevoed en in sy eie bedjie laat slaap tot hy weer wakker geword het, dan voed ek hom weer en as hy rustig slaap lê ek hom weer in sy eie bedjie neer. As hy huilerig was of lank wou voed het ek hom by ons getel. Ek het net gevind dat ons hom soms wakker maak deur by hom in te kruip en dat dit vir my makliker was om die nag te begin, elkeen in sy eie bed.
Hoe lank moet ek co-sleep?
Solank as wat dit vir jou werk! As jy en baba mekaar begin pla, skuif vir baba. My seuntjie het by ons in die kamer geslaap tot omtrent 6 of 7 maande toe kom ek agter ons maak hom elke aand wakker as ons kom slaap. Van toe af is sy kot in sy eie kamer en toe word hy nie meer wakker as ons inkruip nie. Ek het hom egter nog by ons in die bed getel as hy deur die nag wakker geword het. Na ‘n rukkie (hier op 15 maande) het ek weereens begin agterkom hy slaap sleg by ons in die bed. Hy bly wakker, rol rond en vat lank om weer aan die slaap te raak. Hy slaap nou beter in sy eie kot. Ek het sy kot intussen al weer teruggeskuif na ons kamer in omdat dit winter is (dan hoef ek nie so koud te kry as hy my roep in die aande nie.) So dit hang af, wanneer ook al jy gemaklik voel daarmee om vir baba uit te skuif of wanneer julle mekaar begin pla.
Opsommendergewys
Om naby aan jou baba te slaap (co-sleeping) of selfs om met jou baba ‘n bed te deel (bedsharing) is normaal, voordelig (solank dit veilig gedoen word) en word wêreldwyd toegepas. Jy sal vinnig agterkom watter manier van ‘co-sleeping’ vir jou die lekkerste werk. Dit sluit aan by laasweek se bloginskrywing. Solank baba veilig is, doen wat werk!
Lekker slaap, Mamma!
Liefde,
Renate