Elke ma het fotos waar haar kleintjie se gesiggie vol kos gesmeer is! Dis seker een van die mees opwindende tye in jou nuwe baba se lewe! As daar een ding is wat ek weer en weer sal doen, is dit baby led weaning. Dit was by ver die mees belonende en prettige reis wat ek en my baba saam onderneem het!
Daar is 2 maniere van vastekosblootstelling
Die meer tradisionele purees en dan ‘Baby led-weaning’ (BLW). Ek noem Baby-led weaning, Baba Verkeningsvoeding (BVV) in Afrikaans. Dit is ‘n mooi byskrywende term omdat jy baba toelaat om self kos te verken. Die verskillende smake, teksture en geure.
Daar is nie regtig navorsing wat bewys dat dit beter is om vir babas purees te voer nie. Om die waarheid te sê, dis nuwer as wat jy dink. Dit het eintlik begin omdat ons jonger en jonger babas begin kos gee het, en sulke jong babatjies nie kon vingerkos eet nie. (Lees hier) Op 4 maande is babas nog nie reg vir vastekos nie, daarom is dit nodig om hulle met ‘n lepel te voer. Ken jy daai klassieke prentjie met die ma wat die pap in die baba se mond sit en dan die pap weer met die lepel teen die baba se ken opskraap soos die baba dit uitspoeg?
Hoekom is babas nie by geboorte gereed vir vastekos nie?
Wanneer babas gebore word, het hulle nog ‘n onvolwasse spysverteringsisteem. Om dit in leke taal te verduidelik; daar is ‘n beskermende lagie rondom ouer kinders en volwassenes se maag wat keer dat sekere mikrobes en molekules van jou derms en na jou bloedstroom toe beweeg. In babatjies is hierdie lagie nog nie gevorm nie, Hulle het ‘n sg. oop spysverteringssisteem (‘open gut’). En hierdie oop sisteem is daar vir ‘n goeie rede. Dit veroorsaak dat antiligaampies van mamma se borsmelk na baba se bloedstroom kan beweeg om hom te beskerm teen siektes. Maar dit beteken ook jou baba se magie deurlaatbaar is vir patogene en groot molekules, wat infeksies en allergieë kan veroorsaak. Babas het doodeenvoudig nog nie die ensieme om kos te kan verteer nie.
Wanneer is my baba gereed vir vastekos?
‘n Goeie algemene reël is 6 Maande. Alle babas ontwikkel egter nie teen dieselfde spoed nie en jou baba is dalk eers op 7 maande gereed, of jy sien dat jou baba hier van 5 en ‘n half maande tekens wys dat hy reg is vir vaste kos. Dit is egter raadsaam om te wag tot so na as moontlik aan 6 maande. Die wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) beveel ook aan dat babas eers vanaf 6 maande vastekos kry. Moet dit egter nie druk nie, as jou baba teen 6 maande nie reg is nie, wag nog!
Hier is ‘n paar tekens waarvoor jy kan uitkyk:
- Baba kan self regop sit en het goeie nek-en kopbeheer. Dis belangrik dat baba self of met minimale ondersteuning kan regop sit voor jy begin met vastekos. Sal jy verstik as jy lê en eet? Babas ook. Ons wil hê die pad van die mond na die maag moet mooi oop en in ‘n reguit lyn wees.
- Babas moet geinteresseerd wees in kos. Ek onthou tot omtrent net voor my seuntjie 6 maande oud geword het, kon ek en my man eet net wat ons wil. Ons kon voor my seuntjie sjokelade en roomys en koek eet. Hy het nie ‘n oog geknip nie. Maar ewe skielik op ‘n dag sal jy sien jou baba begin die kos uit jou hand wil neem as jy eet. Hy begin kyk hoe jy eet en met sy handjies gryp en die kos dan na sy mond toe bring. En vinnig vinnig is jy waar ons nou is. Ons kan GLAD nie iets voor my seuntjie eet wat ons nie wil hê hy moet eet nie. Hy steek sy handjie uit en Ta – ta- ta. Dis hoekom ek en my man nou middernagfeeste hou!
- Jou baba moes die tong-uitdruk refleks verloor het. (tong-thrust reflex) Babas word gebore met ‘n tong-uitdruk refleks om te keer dat hulle verstik. Wanneer enige objek in hulle mond gesit word steek hulle refleksief hulle tongetjie uit om te keer dat hulle verstik. Jy kan self sien hoekom die refleks geintegreer moet wees voordat babas kan begin self eet.
Wat is ‘Baby-Led Weaning?
Baby led weaning is ‘n term vir die manier van vastekosblootstelling waar babatjies toegelaat en aangemoedig word om self vingerkos te eet.
Babas word toegelaat om self kos te ontdek en verken, die verskillende teksture en smake en self te kies wat hulle wil eet en hoeveel. As babas eers aan hulle kos vat, voor hulle dit eet is dit vir hulle makliker om dit later te identifiseer. Onthou hoe meer sintuie jy inspan, hoe makliker leer ‘n baba!
Tydens baba-verkenningsvoeding word sagte kos in omtrent vinger grootte stukkies gesny en voor baba gesit.
Voordele van Baby-Led Weaning?
- Help baba om self te reguleer hoeveel hy eet. BLW is op die basis geskoei dat baba self reguleer hoeveel hy inneem en kan ophou as hy nie meer honger is nie, wat later gesonder gewig en eetgewoontes tot gevolg het.
- Help met die ontwikkeling van fyn-motoriese vaardighede en in-hand manipulasie. Hou bietjie jou baba dop soos hy ouer word. Ek het gelees dat BVV babas se fyn-motoriese vaardighede kan verbeter, maar was verstom om dit voor my eie oë te sien afspeel. Die eerste keer wat jy vir baba kos gee vat hy daai stukkie wortel met die hele hand en hoe hy die kos vasvat, so gaan dit mond toe. M.a.w toe as hy die stukkie te diep in sy handjie vasgevat het, dan is daar nie baie kos wat by sy vuisie uitsteek om te eet nie. Maar dit was seker ‘n maand toe begin hy kos vasvat met sy wysvinger en duim (pincer grasp) en begin hy kos in sy hand rondskuif sodat daar nog kos by sy vuisie uisteek om af te byt. Dit was verstommend hoe vinnig hy leer.
- Dit maak babas gewoond aan verskillende teksture. As jy vir ‘n baba purees gee is dit net een tekstuur waar hulle aan blootgestel word. Maak nie saak wat hulle eet nie, dis ‘n pappery. BLW gee babas die geleentheid om aan verskeie teskture te vat, wat kan help met taktiele sensitiwiteit. Dit gee hulle ook die geleentheid om baie verskillende teksture in hulle mond te sit, wat kan help met orale sensitiwiteit.
- Dit stel hulle aan ‘n weier verskeidenheid kos bloot. Omdat hulle eet wat die familie eet, is daar regtig omtrent niks wat hulle nie kan eet nie. Ek hou baie van die sentiment ‘100 verskillende voedselsoorte voor 1’. Dit is wanneer ons poog om voor ‘n kleintjie se 1ste verjaarsdag hom aan 100 verskillende kosse bloot te stel. Dit lei weer tot..
- ..Minder fiemies. Daar is navorsing en anekdotiese inligting wat ons laat glo dat dit minder fiemies in kleintjies veroorsaak. Uit my persoonlike ervaring kan: Daar is NIKS wat my seuntjie nie eet nie. Spinasie, broccoli, brusselse spruite, olywe, soetrissie, noem dit maar op, hy eet als. Daar is ook studies wat bewys dat babas wat purees gevoer word, soeter kos verkies. (Ek sou raai dis van al daai suiker in winkel-babapap.)
- Dit haal die druk van maaltye af. As jy nie vir baba hoef te voer nie en probeer besluit wanneer hy versadig is of nie, kan jy terugsit en ontspan.
onverwagse voordele van Blw (vir mamma)
Ek is mal oor BLW vir die gesondheids-en ontwikkelingsvoordele wat dit vir my kind inhou. Dis ook hoekom ek gekies het om dit te doen. Ek het egter nie besef dat daar omtrent net soveel voordele vir my as ma is nie
- Ons as gesin kan gelyktydig eet! Ek ken soveel ma’s wat altyd gekla het dat sy en haar man het beurte gemaak om te eet. Die een was altyd besig om óf die baba vas te hou, óf die baba te voer. Met BLW, as dit tyd is vir middagete, sit julle almal en almal kan eet en gesels. Dis baie lekker as familie of vriende kom kuier. Dit maak jou hande los om saam met die familie die ete te kan geniet.
- Dit gee jou as ma ‘n blaaskans omdat jou baba besig gehou word. Sjoe ek dink nie ek kan verduidelik hoe baie ek somtyds uitgesien het na maaltye nie. Veral dae wanneer ek heeldag met hom besig was en nog nie tyd gehad het om veel te doen nie. Omdat hulle nog lank vat om te eet en hulle kos rondvryf en ontdek, gee dit jou tyd om te iets anders te doen. Somtyds het ek sy eetstoeltjie in die kombuis ingetrek en die skottelgoed gewas waarby ek al heelweek nie uitkom nie. Ander dae het ek net ontspan.. Doodeenvoudig langs hom gaan sit en my hare gekam, my naels geverf of net gewees..
- Jy hoef nie iets ekstra vir baba voor te berei nie, so jy het meer tyd! Baba eet net wat die gesin eet. As ek aartappelslaai maak, sny ek net een aartappel in vingergroote repies om vir baba tes gee voor ek mayonaise op die res sit. Ek haal ‘n stukkie hoender uit voor ek die sous opgooi. Ek haal ‘n stukkie tamatie en avokado uit die slaai en boem, daar is baba se kos!
- Dis so bevredigend om jou kleintjie ‘n nuwe vaardigheid te sien aanleer. Dis soveel pret en jy kan sien hoe jou kleintjie probleemoplossing gebruik om die kos op die lepel en van die lepel na die mond te kry. Of soms net van hulle vuisies na hulle monde. Op die koop toe, word hierdie vaardighede oorgedra na ander areas soos byvoorbeld spel. Jou baba sal makliker en vinniger kleiner goedjies kan optel en manipuleer, wat hulle selfvertroue gee om selfs moeiliker take aan te pak.
- Dis ‘n lekker manier om frustrasie toleransie te oefen. As jy vir jou baba ‘n klein stokkie gee om op te tel is die kanse groot dat hy vinnig frustreerd gaan raak as hy dit nie regkry nie. As jy hulle egter kos gee en geen druk op hulle plaas het nie (soos wat ek jou smeekom te doen) en hulle net toe laat om te speel, ondervind hulle sonder dat hulle dit besef ook frustrasie omdat dit nie maklik is aan die begin nie.
Goedjies om te onthou
- Jou werk as jy jou baba voer is om vir hom gesonde kos, gereeld te verskaf. Dis jou baba se werk om te eet! Moenie die rolle omruil nie. Sit terug en ontspan. Dit haal spanning van beide mamma en baba af. Sien my instagram post vir meer hieroor.
- Moet nooit jou baba alleen los terwyl hy eet nie.
- Moenie sout of suiker by jou baba se kos voeg nie. (As jy kies om wel eerder purees te voer, pasop vir kos wat in die winkel geandverteer word as ‘babakos’ of ‘babapap’. Dit het meestal baie suiker in. Maak seker van die bestanddele voor jy koop. Ek sal eerder aanbeveel dat jy jou eie maak.)
- Vermy harde, klein kossoorte waaraan baba kan verstik soos grondboontjies, rosyntjies, appels ens.
- As jy dit lyk of baba sukkel met ‘n stukkie kos, laat hom toe om vir 5 sekondes self te probeer om dit uit te kry.
- Dis ‘n mite dat vastekos jou baba gaan help deurslaap. Elke baba slaap op sy eie tyd deur en vastekos gaan nie help nie!
‘n paar algemene vrae oor BLW/BVV
Hoe sag moet die kos wees?
Algemene reël is dat jy dit tussen jou voorvinger en duim moet kan papdruk. ‘n Rou wortel gaan nie werk nie, maar vrugte en gaar groente en vleis is perfek.
Gaan my kind nie verstik nie?
Daar is studies gedoen wat wys dat babatjies wat purees via ‘n lepel gevoer word, net soveel indien nie meer as BVV- babas verstik nie. Buitendien is werklike verstikking uiters raar. Engels het ‘n mooi onderskeid. Gagging vs choking. Wat jy gewoonlik sien is net ‘gagging’ en babas kan dit op hulle eie hanteer. Onderdruk die impuls om dadelik op te spring en jou baba op die rug te klap. As die kos sag is, is baba heeltemal by magte om dit self uit te spoeg. Sit terug, wag 5-10 sekondes en ek wed jou, dis klaar uit. Onthou, jou baba leer by jou wat sy reaksie moet wees. As jy angstig word en opspring en begin skree en rugklappe uitdeel, laat jy baba skrik, wat hom werklik kan laat verstik. Dit leer hom dat elke keer as kos in sy keel vassit, hy i.p.v. om dit net uit te spoeg, moet bang wees. Wees dus waaksaam watter gedrag jy vir baba moduleer. In die 10 maande wat my baba vastekos uit, het hy nog nie een keer werklik verstik nie! Ek hoef nog nie een keer in te ge treë het nie.
Hoe klein moet ek die kos sny?
In teenstelling met wat jy dink, is groter beter. Ons dink hoe kleiner ons die kos sny hoe makliker is dit vir baba om dit te eet. Vals! Eerstens is dit moeiliker vir baba om op te tel, wat frustrerend is vir baba. Tweedens is dit dan net mooi die grootte wat in hulle kele vassit en veroorsaak dat hulle verstik. Vingergrootte repies is goed vir aan die begin.
kan ek vleis vir my baba gee?
Absoluut, en jy moet! Babas se ysterstore is gewoonlik teen om en by 6 maande uitgeput. Dis daarom belangrik om vir babas vleis en ander ysterryke kos soos bone, groengroente soos spinasie en kale en appelkose te gee. Dis die ander probleem wat ek ondervind met purees. Mens is geneig om baie langer by kossoorte soos pampoen, patat en piesang te bly, wat maklik fynmaak, maar nie ysterryk is nie.
Kan ek BLW en purees meng?
In my opinie, ja! Dis nie nodig nie, maar as jy so voel, kan jy. Jy kry sommige BLW- fantikuste wat sê jy mag nie omdat jy juis wil hê baba moet na sy eie honger-en versadigtekens luister. Ek voel egter dat jy mos jou gesonde verstand kan gebruik. As jou baba sy kop wegdraai, hou op voer. Ek het voer meer gebruik om hom te wys hoe om dit te doen. As jy bv. ‘n bakkie joghurt voor hom neersit kan jy vir hom ‘n lepeltjie voer. My seuntjie het egter baie gou die lepeltjie uit my hand uit geneem en self geeët. Hy was glad nie lus vir hierdie vrou wat hom negeer nie. En buitendien, hy kan mos nou self.
Ek hoop dit help jou op jou en baba se reis na vastekos! Maak nie saak watter manier van vastekosblootstelling jy kies nie, maak seker jy geniet dit!
Liefde,
Renate