Kom ons val sommer met die deur in die huis. Hier’s jou 2 foute:
- Jy volg nie jou baba se leiding nie.
- Jy kruisbenoem.
Kom ek verduidelik wat ek hiermee bedoel.
Scenario 1:
Jy en jou baba lê in die tuin vir ‘n bietjie vars lug. Jy het gehoor jy moet baie met jou baba praat, so jy is besig met ‘n helse monoloog. “Kyk sussie, ons sit in die tuin. Kyk hoe sonning is dit. Ons sit op ‘n piekniekkombers. Ja ‘n piekniekkombers. Dis geel, sien jy? Oe en daar is ‘n boom en daar is die gras. Kyk wat maak mamma. Mamma sit! Kyk, jy sit ook! Oe hier vlieg ‘n duif nader. Sien jy, dis ‘n voëltjie. Hoe maak ‘n voëltjie? Koer, koer. Hoor jy hoe maak hy?” En so kan ons aangaan.
Maar in jou monoloog het jy die volgende gemis. Soos die wind waai, het ‘n groot rooi herfsblaar saggies ondertoe gedaal en net voor jou baba op die piekniekkombers geval. Sy het dadelik haar hand uitgesteek om aan die blaartjie te vat. Sy het geluidjies gemaak soos sy voel-voel die blaartjie ontdek het. Maar toe was die duif mos nou daar en jy wou graag aan haar die oulike voëltjie uitwys.
Wat moet jy doen?
Om met jou baba te praat IS baie, baie belangrik. Die hoeveelheid en verskeidenheid woorde wat jou baba hoor het ‘n baie sterk korrelasie met spraak later in ‘n kleintjie se lewe. ‘n Studie deur Hart en Risley in 1994 het kameras in huise van families met klein babatjies geplaas. In sekere huishoudings het babas ongeveer 1500 woorde ‘n uur gehoor. In ander families was dit net 900 woorde per uur. Teen die tyd dat daardie kleintjies 3 was het die eerste groep op gemiddeld 1100 woorde gesê. Dit terwyl die groep wat net 900 woorde ‘n uur gehoor het op gemiddeld slegs 500 woorde kon sê.
Maar hierdie studie verduidelik nie hoekom 2 babas wat min of meer dieselfde hoeveelheid woorde hoor, op verskillende tye begin praat nie? Ons weet nou dat die stroom van woorde wat jy NA jou baba toe stuur, baie belangrik is.
Maar weet jy wat is nog belangriker? Dit wat van jou baba af, na jou toe kom!
Die klankies, geluide, en handgebare. Meer en meer navorsing wys dat hoe ‘n ouer reageer op ‘n baba se geluide, in die oomblik wat die baba die geluid maak, baie meer beteken om ‘n kleintjie te leer praat.
Hier is ‘n voorbeeld: In ‘n studie het ‘n navorser 2 dogtertjies en hul ma’s dopgehou terwyl hulle speel. Die 2 dogtertjies was 9 maande oud en kon altwee omtrent 7 woorde verstaan, maar nog niks sê nie. Hulle het die interaksies tussen die ma’s en hul babas genoteer. Die een dogtertjie, Hannah, se ma het 85% van die kere wat Hannah na iets wys, vir iets kyk, of iets optel, geantwoord en vir haar verduidelik wat dit is. Dit terwyl die ander dogtertjie, Alyssa, se ma net 55% van die kere wat Alyssa ontdek, teruggeantwoord het. En die resultate? In hulle 18de maand het Hannah 150 nuwe woorde bygeleer en Alyssa 8. Toe die 2 dogtertjies 21 maande oud was, was Hannah se sinne so gekompliseerd soos: “Sussie eet ‘n kaas toebroodjie”, terwyl Hannah se mees gekompliseerde sin “Mamma tata” was.
Dus: Probeer vir ‘n rukkie stilsit en hou jou baba dop. Waarna kyk hy? Wanneer maak hy geluidjies? Antwoord op daai oomblik en verduidelik die spesifieke ding waarna jou baba wys.
So leer jou baba dat dit wat sy doen ‘n effek op haar ouers het. As ek ‘n klankie maak, maak mamma een terug. Tweedens is dit ook makliker om ‘n woord aan te leer as jy ‘n woord by ‘n objek kan pas. As sy die blaartjie optel en hoor blaar is dit hoe sy die twee bymekaar gaan uitbring.
Moenie nou begin stres dat jy dit konstant moet doen nie. Terwyl jy en baba in die tuin ontspan antwoord jy dalk 70% van die tyd, maar as jy aandete maak net 25% van die tyd. Later as jy boeklees antwoord jy weer elke keer as jou baba iets sê. Kies net ‘n tydjie in die dag en volg jou baba se leiding.
Scenario 2
Jou 9-maande oue babatjie sit in sy eetstoeltjie met sy lepel in die hand. Hy sê, Boh-boh en swaai sy lepel in die lug. Entoesiastiese ma wat jy is dink:” Ahh hy sê ‘bottel” Jy antwoord hom: “Bottel, wil jy jou bottel hê, kom mamma gaan haal vir jou jou bottel.”
Wat doen jy?
Sonder om dit te bedoel het jy sopas vir jou baba geleer dat ‘n lepel, bottel genoem word. En dit gebeur baie. Jy dink ‘kih’ beteken kat of koekie, ‘boh’ is bottel of boetie en ‘dih’ is daddy of doedoe. Terwyl inderwaarheid, op 9 maande bedoel jou baba dalk geen van hierdie woorde nie, hy maak net klankies.
Wat moet jy doen?
Benoem altyd waarna jou baba kyk of wys en moenie aanneem hy sê ‘n woord nie. As hy ‘n boek vashou, maak dit nie saak watter klankie hy maak nie, jy antwoord hom “boek, boek, dis ‘n boek”.
Net om te illustreer hoe belangrik dit is om korrek te benoem, ‘n studie wat deur Michael Goldstein en Jennifer Schwade by Cornell Universiteit in Amerika gedoen is het gevind korrekte benoeming op 9 maande het ‘n baie sterk korrelasie met spraak 6 maande later. Op 15 maande kon die baba wie se ma die beste was met korrekte benoeming, ‘n astronomiese 246 woorde verstaan en 64 woorde sê. Aan die ander kant kon die baba wie se ma die slegste was met korrekte benoeming (maw wat die meeste kruisbenoem het), het op 15 maande slegs 61 woorde verstaan en kon net 5 woorde sê. Groot verskil heh?
Ek hoop dit was vir jou so interessant soos wat dit vir my was.
Liefde, Renate
NS: Navorsing is gekry uit die boek Nurture Shock deur Bronson.