‘n Goeie vriendin van my het onlangs haar eerste baba gehad. Toe ek vra hoe dit met haar en baba gaan, antwoord sy dat dit goed gaan, maar dat sy net so onverklaarbaar hartseer in die middae is, sy verstaan nie wat aangaan met haar nie! Wel, wel, wel, Welkom by die baby-blues!
Ons huis was altyd vol babas en baba-verwante gesprekke. Ons dogters en my ma het baie gesels oor swangerskap en babas en borsvoeding. Maar een onderwerp wat nie so baie opgekom het nie was sogenaamde ‘baby blues’.
Toe besef ek, ons moet meer hieroor gesels VOOR ons vriendinne, susters of dogters, babas het. Dis baie gerustellend om te hoor dat die mense om jou presies dieselfde voel en dat jy normaal is!
My ervaring met Baby blues het so afgeloop. Ek onthou op dag 5, na my eersteling se geboorte het ek op die bed gelê en geborsvoed. Alles was so mooi rustig. Hy het goed gedrink, ek was nie oormoeg nie, maar ewe skielik het ek net begin huil. Ek kon dit nie help nie. Ek was net onverklaarbar hartseer. En toe my man die aand van die werk af kom toe huil ek weer. Dag 5 tot 8 na geboorte het ek elke dag gehuil, en nie hoe nie, sommer ‘n paar maal deur die dag! Die huilery het my veral getref in die middag. Vir geen rede. Hier tussen dag 9 en 13 na geboorte het ek net eenmaal ‘n dag gehuil en toe my seuntjie 2 weke oud was het dit heeltemal opgehou. Uit die aard van die saak was en nog moeg en soms geirreteerd en huilerig as, veral as hy ‘n moeilike dag gehad het. Maar ek het nie meer daardie skielike buiveranderinge, waar jy een oomblik jou nog verwonder in jou slapende babatjie se gesiggie en alles is rooskleurig en die volgende oomblik gaan lê jy op die bed en huil dat die trane loop, gehad nie.
‘n Paar feite oor die “Baby Blues”
Volgens WebMD kry ongeveer 80% van nuwe ma’s die sogenaamde ’baby blues’. Baby blues simptome sluit in buierigheid, angstigheid, irritasie en huilerigheid, meestal vir geen verklaarbare rede nie.
Dit begin gewoonlik rondom dag 4 of 5 na geboorte en is teen dag 14 verby.
Die beste raad wat ek vir baby blues het is: kom uit die huis uit! Maak ‘n punt daarvan om een maal ‘n dag of ten minste elke tweede dag uit die huis uit te kom.
Veral vir ‘n eerste keer mamma wat alleen is, waar daar nie ander kindertjies is wat mens besig hou nie.
Hier is nog ‘n paar wenke:
- Kry vars lug. Sit vir baba in ‘n stootwaentjie of drasak (baby wrap) en gaan stap om die blok/gaan sit in die parkie/besoek die botaniese tuine. Vars lug verig wondere en is ook goed vir baba se slaappatroon. (Meer hieroor in my volgende bloginskrywing)
- Gaan winkel toe, al stap jy net deur die rakke en koop met jou oë.
- Gaan na jou naaste koffiewinkeltjie toe en bestel ‘n melkskommel terwyl baba in sy stootwaentjie lê en slaap.
- Gaan kuier by ‘n vriendin. As mens ‘n nuwe babatjie het kom kuier mense gereeld by jou, maar dis lekker om bietjie ‘n verandering van jou omgewing te hê. En dan kan jy die tyd kies wat jou die beste pas en niemand lui jou klokkie as jy NOUNET vir baba aan die slaap het nie. Boonop hoef jy dan nie die koffiekoppies na die tyd te was nie.
- Probeer gereeld slaap. Ek weet dis nie maklik nie, ek weet jy 500 goed om te doen as jou kleintjie eers aan die slaap is, jy moet stort, skottelgoed was, kosmaak, dalk vir die eerste keer vandag gaan piepie, maar probeer elke dag ten minste EEN slapie saam met jou baba slaap. AL is dit net ‘n uur.
Ek hoop jy het iets geleer en voel nie so alleen nie. Dit kan ek jou vir ‘n feit sê, amper elke mamma wat jy rondom jou sien, het op ‘n stadium presies net soos jy gevoel!
Laat weet my watter wenke julle vir die baby blues het en of julle ‘n lekker afrikaanse alternatief vir baby blues het.
Liefde,
Renate
Naskrif: Baby Blues is nie dieselfde as nageboortelike depressie nie. Nageboortelike depressie is nie normaal nie en gaan nie sommer vanself weg nie. As jy vir langer as 2 weke hartseer en oorweldig voel, of jy het gedagtes om jou baba of jouself seer te maak of die gevoelens word erger, kry hulp.