Ek het uiteindelik tyd gekry om die gedagtes wat ek neergepen het, te redigeer!
HOLD ON TO YOUR KIDS – deur Gordon Neufield en Gabor Mate
Die oorkoepelende tema van die boek hink op die feit dat ouers en kinders meer tyd saam met mekaar moet spandeer en dat die hedendaagse skeiding van ouers en kinders, dikwels so vroeg as 3 maande in Suid-Afrika en soms vroeër in Amerika, skade aan die verhoudings rig. Hierdie skade word dan ook duidelik sigbaar wanneer kinders tieners word en hulle vriende belangrik is en hulle ouers geen meer seggenskap het nie. Hy argumenteer dat baie van die probleme wat ons vandag sien, veral in die konflik tussen ouers en tieners, te danke is aan die feit dat kinders eerder aan hulle portuurgroep bind as hulle ouers.
Hy argumenteer dat alle kinders ‘n behoefte het tot binding (attachment) en as die ouers nie daar is nie, sal die kinders aan hulle portuurgroep bind. En as kinders ‘n sterker band met hulle portuurgroep het, dryf ouers en kinders uitmekaar. Ouers se invloed verklein en kinders wil eerder hulle maats tevrede hou en daar inpas as om hulle ouers te plesier of na hulle raad te luister.
Vir my, verwoord die boek wat ons eintlik almal intuïtief aanvoel. Dit is baie duidelik dat baie tieners en ouers in disfunksionele verhoudings vasgevang is. Ouers sukkel om hulle kinders se doen en late te begryp en kinders se gunstelingfrase is, ‘julle verstaan my nie’.
En hierdie eie kultuur van tieners en kinders klink vir ons normaal, maar dit is splinternuut, argumenteer hy. Oor die eeue is idees, waardes en kultuurnormes oorgedra van ouer na kind, van oupa na kleinkinders, van tantes en oumas na dogters. Dink aan klein dorpies in Europa, Suid-Afrika of Amerika. Die gevoel van kultuur wat jou bybly is omdat dit oorgedra word van geslag tot geslag. Dit is die normale gang van die lewe..
My man sê dat die boek vir hom regtig insiggewend was (amper lewensveranderend). Hy het die boek baie geniet en dit het hom aan baie nuwe konsepte en inligting blootgestel en pitkos gegee om oor te dink. Omdat ek uit die aard van my studies en belangstellings reeds meer van sg ‘attachment theory’ geweet het, het die boek my nie soseer aan nuwe konsepte blootgestel nie, maar eerder versterk in dit wat ek reeds weet. Dit het woorde en konsepte by idees gevoeg wat ek reeds aangevoel het.
Die hele ‘jou kind moet sosialiseer’ en dus kleuterskool toe gaan is iets waarmee ek veral baie gekonfronteer word. Dit is so verregaande dat ek nie eintlik weet hoekom dit nog deur enigiemand geglo word nie. En dis iets wat ek lank voor ek ‘hold on to your kids’ gelees het, probeer verduidelik het. Hoe kan jy glo dat drie-jariges belangriker behoort te wees is om mekaar te leer as ouers, ouer sibbe en grootouers? Ek dink ons het kollektief probeer om onsself te oortuig dat kleuterskool vanaf drie of vier maande nie net iets is wat ons kinders onsettend baie geniet nie, maar iets wat eintlik VOORDELIG is vir ons kinders. Soveel so dat ons met oortuiging voel dat almal wat dit nie doen nie, eintlik hulle kinders benadeel.
Ek kry so baie boodskappe van tuisbly ma’s wat gedruk voel om hulle kind kleuterskool toe te stuur, ‘sodat hulle kan sosialiseer.’ En ek sou ’n miljoenêr gewees het as ek geld gehad het vir elke ‘ is hulle nog nie in die skool nie?’ wat ek in die winkels kry. Ek kan ure praat oor die perspektiefskuiwe wat in die samelewing ondergaan is om institusionele sorg nie net te aanvaar nie, maar nou ook aan te moedig. Die navorsing wys absoluut onomwonde die teenoorgestelde Ek besef ook dat dit baie meer genuanseerd is as wat ek wil voorgee. Die noodsaak van kindersorg is moeilik om te ignoreer – dit het amper onmoontlik geword om nie van twee inkomstes af te leef nie. Benewens ekonomiese faktore, is daar die styging in egskeidings en dus gesinne waar 2 huishoudings onderhou moet word met dieselfde salaris as vroeër, die normalisering van seks buite die huwelik en die gepaardgaande enkelouerskap, die samelewing se ontrafeling en hoe uitgebreide families en jou ondersteuningsnetwerk verklein en die mens individualiseer. En dus ook eintlik vervreem raak van mekaar, wat aansluit by die boek. Grootouers, ouers en kinders is nie meer op dieselfde bladsy nie.
Ek weet kinderontwikkeling smag na meer tyd saam met ouers en ander volwassenes. Ek sien dit om my en die boek beaam dit.
En ek dink jy voel eintlik intuïtiewelik aan dat jy te min tyd met jou kinders spandeer en die lewe vir ons almal gejaag voel. Dit is hoekom ek van die boek hou. Dit gee amper vir jou ’n raamwerk om jou intuïsie in woorde om te sit. Ek het nog nooit so daaraan gedink dat ’n twee-jarige wat sy ouers slegs 2 ure ’n dag sien en die tye oor naweke wanneer pappa nie gholf speel nie en mamma nie in die winkels is nie eintlik ’n ‘attachment void’ het nie. En dat ’n portuurgroep dan daardie gaping of ‘void’ vul, met vêrreikende gevolge.
Hierdie boek het vir my woorde en sommige stukke navorsing bygesit by wat ek reeds van binding, kinderontwikkeling en sosiale strukture verstaan. As jy nog nooit oor binding of oor die voor-en-nadele van en die relatief onlangse normalisering van institusionele sorg, van hoe die gesin, wat die gom van sterk samelewings is, meer en meer versplinter, gedink het nie, sou ek regtig die boek aanbeveel. As jy reeds baie daarvan weet sal jy die boek dalk minder lewensveranderend, aar tog insiggewend vind.
Die hoofkritiek wat ek teen die boek gesien het, is dat dit ‘pseudowetenskap’ is, dat meeste van die inligting anekdoties is en eintlik die skrywer se teorie is eerder as klinkklare navorsing.
Ek hoor dit, maar sielkunde is vrot van die teorieë, Freud, Jung noem dit op, alles is hulle eie teorieë so dit is glad nie vreemd in die sielkunde nie. (om die waarheid te sê ek dink meeste van sielkunde sal dan onder pseudowentenskap val)
Dit is dus nie vir my iets wat ek problematies vind nie. Ek dink die boek beoog om jou anders oor ouer en kind verhoudings te laat dink, nie om ‘n suiwer navorsingsartikel te wees nie.
As ek kritiek sou gee sou dit tweeledig wees. Ek voel baie van die oplossings wat die boek probeer gee grens aan ‘permissive parenting’ onder die dekmantel van ‘gentle parenting’. So ek so versigting wees om al die aksies en oplossings in die boek net so te gebruik.
Tweedens dink ek die boek dans ‘n bietjie om die werklike probleem en oplossing. Dit is asof die skrywer nie prontuit wil sê dat dit nie eintlik goed is vir ‘n 3 maande oue babatjie om weg van sy primêre versorger te wees nie. En dis ook hoekom die oplossings vir my relatief ‘permissive-erig’ word.
Die boek het ook soms vir my effens stadig gevorder (maar my man stem nie saam nie).
Ten slotte, ek dink hierdie boek is ‘n goeie begin om anders te dink oor kinders grootmaak. En ek dink dit is uiters nodig in vandag se tyd. Dit maak dalk net jou oë oop vir die rol van binding en ouer- na kind leeroordrag.
As jy al die boek gelees het, sal ek baie graag jou gedagtes ook wil hoor.
Leave a Reply