Slaap is een van die grootste aanpassings na ’n baba. Daar is nie veel wat jy nie op ’n manier kan aanpas om jou baba te inkorporeer nie. Die baba kan saam met julle op uitstappies gaan, mens kan in ’n restaurant gaan eet of mens kan jou baba saamvat in die stootwaentjie as jy wil gaan oefen of saam met ‘n vriendin koffie drink. Wat egter nie so maklik is nie, is om by jou vorige slaaproetines te bly.
Jou baba wil nie hoor dat jy graag 8 ure se ononderbroke slaap wil hê nie. Die doek moet geruil word en die baba moet gevoed word – basta. En dan soos hulle ouer word, het hulle jou in die nag nodig vir geen enkele rede nie, hulle is gevoed, skoon en warm, maar hulle wil steeds opgetel word.
Ek was nog altyd ‘n goeie slaper (blykbaar selfs as baba!- watwou), ek sukkel nie om aan die slaap te raak nie en slaap waar ek moet – kampbedjie, vloer, bed, ek is nie kieskeurig nie.
Op universiteit het ek drie aande vóór elke koshuisaksie vroeg gaan slaap en drie aande ná elke koshuisaksie vroeg gaan slaap om in te haal. My vriendine het baie aande in my koshuiskamer ingekom vir ’n laaste geselsie of ’n vraag oor môre se toets, dan slaap ek lankal. Ek het ook nog nooit gedeurnag nie. Nee as ek moes swot het ek later geswot en vroeër opgestaan of vrotsleg gedoen, maar ek kan nie ’n hele nag wakker bly nie.
En toe word ons eerste baba gebore.
En ek was moeg..
Dit was nou weliswaar die eerste keer dat my lyf moes gewoond raak aan gebrooke slaap, maar ek het probeer dink hoekom ek nie so moeg was met my volgende babas nie? Hoekom was daar nooit dae wat ek gevoel het al wat ek doen is my baba aan die slaapsus nie? Hoekom was slaap vir my so ‘n nonevent met die volgendes? Dit het doodeenvoudig nie my tyd en breinkrag in beslag geneem nie. En dit is nie dat ek my strategie verander het nie. Ek het al drie my babas aan die slaap gevoed. Al 3 gereeld by my in die bed getel. Dit is ook nie dat my tweede en derde babas dan nou die heel beste slapers op die planeet was nie.
Ek dink het slaap probeer regdoen. Ek het babawees probeer uitpluis. Ek het ‘n resep probeer volg. Ek het geluister na reëls waarvoor vrouens en babas oor die eeue nie geluister het nie?
’n Pasgebore babatjie voed relatief gereeld, elke 2 of 3 ure (soms dalk 4). Elke week word hulle ouer en groter en hulle voedings rek langer. Baie mense sê hulle babas slaap al hier teen drie maande ’n 6, 7 of 8 uur slapie sonder om te moet voed in die nag. Ander babas se langste slapie by iewers tussen 4 en 5 ure. My kinders se patroon het ook al drie min of meer so gelyk. Hulle elke 2 na 3 ure wakker geword in die eerste week of 3 en dan weekliks die slapie langer gemaak. Teen drie maande het hulle al soms 7 ure aaneen geslaap.
En dit is min of meer wat ek verwag het. ’n Klein baba het ’n klein magie en moet dus gereeld eet. Soos my baba ouer word, word sy magie ook groter en dus moet hy minder gereeld eet, so hy slaap langer. Maklik.
Ehh en dan ewe skielik na ’n ruk (baie keer rondome vier maande) is die partytjie op ’n einde. Woeps dan is hulle sommer weer elke 4 ure wakker? Of sommer elke twee ure. Of wag- wag, hulle beste truuk nog, uurliks?
En ek was moeg. Ek onthou hoe gereeld ek saam met my baba ‘n middagslapie gevat het. Ek oonthou dat dit soms vir my gevoel het daar gaan dae verby waarin ek net die heeldag my baba aan die slaap probeer kry het. Dis al wat ek gedoen het.
Ek onthou hoe baie ek na antwoorde gesoek het.
Ek het (soos meeste 1ste maal mammas) google gereeld geraadpleeg. “why does my 4 month old baby not want to fall asleep?” “why does my 8 month old baby wake very hour” “why does my 11-month old baby wake a half an hour after I put him to sleep.”
En hoe meer jy lees hoe meer word dit duidelik dat jy die probleem is. Jy het afgewyk van die resep af. “Jy laat jou baba in die arms aan die slaap raak en dan sit jy hom in sy kot en is verbaas as hy huilend wakker word. Wat verwag jy? Jy sal ook skrik as jy in jou eie bed aan die slaap raak en dan in jou buurman se bed wakker word?!!”
En so deur jou gelesery kom jy af op dinge wat jou baba niks van weet nie, maar dit klink slim so jy lees voort.
Dis ‘sleep crutches, wake windows, under -and overtired, split nights, wake windows, drowsy but awake, sleep training, self-soothing.” Jy word so slim jou vrae aan google verander “how to help my baby connect his sleep cycles” “how can I help my baby fall asleep on his own” “what is the correct wake window for a 7 month old”
En tussendeur alles begin jy nie net moeg voel nie, maar skuldig ook. Want slaap is uiters belangrik. Babas moet slaap. En nie sommer net enige slaap nie, “restful, restorative sleep”. Nie die tipe wat hulle op of aan die bors kry nie. Sonder goeie slaap gaan jou kinders se fisiese, kognitiewe en emosionele vermoëns agterweë bly. En skielik besf jy dit is wat besig is hier te gebeur, jy laat jou kind toe om swak te slaap en dit maak dat hy nie sy volle potensiaal bereik nie.
Ek het baie wakker ure spandeer om te probeer om hierdie baba se slaap ‘uit te figure’. Ek het die horlosie dopgehou om te kyk wanneer hy gaan slaap, hoe lank hy slaap en hoe lank hy wakker is tussen slapies. Deel daarvan is seker die feit dat jy net een het, so jy kan al jou ore uitleen vir stories. Jy kan in ‘n stil donker kamer voed en jy kan keer op keer ingaan en hulle optel en weer neerlê tot hulle uiteindelik in die kot aan die slaap raak. Jy het doodeenvoudig nie die luukse as jy meer kinders het nie.
Hoe meer kinders jy het, hoe minder kan jy dit doen. As jy vir baba neergesit het en hulle is 10 minute later weer wakker, dan is hulle nou maar wakker, jy kan nie in en uit en in en uit die kamer nie. Jy jaag ook nie huis toe sodat jou baba sy slapie in die kot kan gaan vat nie. Nee sy raak sommer hier in die stootwaentjie aan die slaap. Al slaap sy net 45 minute? Wel, sy kan mos later weer slaap.
Terugskouend kan ek sien hoe ek die lewe vir myself moeilik gemaak het. Die blogs en die slaap gurus laat die reëls bevrydend klink. ‘As jy net jou baba laat self aan die slaap raak en altyd in sy kot laat slaap, dan sal jy nooit sukkel nie.’ Maar in der waarheid bind dit jou meer vas. Dit neem heeltemal jou intuisie en instink weg. Dit is moeder natuur om ‘n huilende baba op te tel – dit is hoekom hulle huil. En dit laat ook nie ruimte vir persoonlike voorkeure, dag-tot dag veranderinge en siekte of slegte dae nie. Eers na baba nommer twee en drie het ek besef hoe hierdie ‘reëls’ my tyd en vreugde gesteel het.
Ek het tot die volgende gevolgtrekkings gekom:
1. Dit help nie jy probeer iets forseer nie. As dit nie werk nie, werk dit nie.
Man ek het met my eerste een probeer om hom in sy kot te laat slaap. Elke keer as hy wakker geword het, het ek opgestaan, gaan voed, myself wakker probeer hou en hom dan weer in sy kot gaan neerlê. En dan is hy 10 minute later weer wakker. Ek onthou hoe onmenslik moeg ek was as ek die derde keer in ‘n halfuur moes opstaan. Ek onthou hoe koud ek gekry het in Upington se winter op die bank in die sitkamer. En hy was nie eers moeilik nie, hy het dadelik weer aan die slaap geraak, maar was was vining weer wakker as ek hom neergesit het. Meestal teen die na-nag was ek so moeg dat ek hom in elk geval by ons in die bed getel het vir die laaste paar ure van die nag. Hoekom het ek hom nie net van die begin af by ons ingetel nie? Ons sou baie lekkerder geslaap het.. Maar omdat blog op blog en slaapkonsultant op slaapkonsultant vir jou vertel dat jy jou baba moet swaddle in in sy eie bedjie moet neersit, het ek moedig probeeer. En meestal gefaal. Dit sou baie trane en moedeloosheid gespaar het as ek nie so kotslapies wou forseer nie.
Dieselfde met middagslapies oor die algemeen. ‘Hulle’ het vir my gesê hoe lank hy moet wakker wees tussen slapies. En voor jy jou kan kry is jy al ‘n uur besig om die baba aan die slaap te kry. Met die daaropvolgende kinders het ek sommer vining gesien as dit nie gaan werk nie. Mens het nie tyd om ‘n uur lank te stoei om jou baba aan die slaap te kry nie. As my baba nie nou wil slaap nie, probeer ek net later weer.
2.Hanteer babas in die NOU, nie die toekoms nie.
‘Jy pluk vir jouself ‘n lat.’ ‘As hulle eers gewoond geraak het om by jou te slaap/in jou arms in die slaap te raak, sukkel jy om hulle dit weer af te leer.
Ek sou myself baie moeite en breinkrag gespaar het as ek net gedoen het wat my baba in die oomblik nodig gehad het. My baba huil, dus gaan ek hom optel. My baba lê op my bors en slaap – dus slaap ek sommer saam met hom. Jy sal elke oomblik soveel meer geniet as jy oorgee aan dit wat NOU gebeur i.p.v. om skuldig te voel oor hoe jy hom in die toekoms gaan laat sukkel. As my baba in die kot neergelê word en rustig slaap, los ek hom daar. As ek dit nie regkry om hom neer te lê nie, of hy nie wou slaap nie moes ek doodeenvoudig aangegaan het met my dag. Gee jouself oor aan die hede, môre bring genoeg kommernisse van sy eie.
Net so tussen hakies, geen 18-jarige slaap nog by sy ouers in die bed nie. En dit is nooit te laat om veranderinge in te bring nie. Hoekom maak ons asof slaap die een ding is wat jy van geboorte af moet regkry, anders is dit vir ewig opgeskroef? Ons se nie: ‘nee moenie vir die baba ‘n doek aansit nie, netnou gaan hy vir ewig in sy doek badkamer toe’. Of ‘nee moendie die baba voer nie, laat hy self sy kos sny en eet, netnou wil hy vir ewig gevoer word’ of ‘nee moenie die baba ronddra nie, net nouwil hy vir ewig rondgedra word.’ Hoekom se ons dan ‘moenie die baba by jou in die bed tel/by die baba gaan lê/die baba aan die bors aan die slaap maak nie, hy gaan dit vir ewig wil doen?’ Dit maak geen sin nie. Enige tyd in ‘n kind se lewe kan ek mos besluit dat ek graag die baba uit my bed uit wil skuif of nie meer aan die slaap wil sus nie. En ek wonder of, net soos met eet, dit nie makliker is as dit ontwikkelingsgepas is nie? Ek het ‘n 3 en 5 jarige wat heel tevrede in hulle eie beddens slaap. Tog het hulle ‘n goeie 18 – 24 maande nog by ons kom inkruip. Eers gereeld en later minder gereeld. Ek weet ook hoe baie ek dit geniet het om die kleintjies soos kleintjies te hanteer. Hoe lekker dit is om ‘n baba in jou arms te hou terwyl hulle slaap. En hoe vlietend dit is. Vandag tel jy ‘n slaapwarme lyfie op en sus hulle terug in droomland in, môre wil jou vuilvoetkleuter glad nie in jou arms aan die slaap raak nie.
3. Jy het minder beheer oor hoe jou baba slaap as wat konsultante jou wil laat glo.
Uit die aard van die saak is daar algemene reëls. ‘n Oormoeë baba word moeiliker in die bed gesit. Moenie jou baba te koud of te warm aantrek nie. As jy ‘n baba het wat uiters swak slaap of nie neergesit kan word nie is dit goed om seker te maak dat daar nie onderliggende probleme soos ystertekort of lugwegobstruksie is nie. En jy kan absoluut ‘n bietjie met jou baba se slaap speel om dit te laat verbeter. Probeer ‘n vroeër bedtyd? Of dalk ‘n bietjie later? Definitef.
MAAR.. Partykeer is dit nie moontlik om presies te verstaan hoekom jou baba slaap soos wat hy slaap nie. En partykeer kan jy nie jou baba beter laat slaap nie, nie met die beste bedoelings ter wêreld nie. As jy probeer antwoorde kry vir hoekom jou baba gisteraand 6 keer in plaas van 5 keer wakker geword het, kry jy baie. Daar is duisende klein veranderintjies wat hulle voorstel. Maak jou baba se bedtyd vroeër, maak dit later. Verkort sy middagslapie. Verleng dit. Soms is jou baba oormoeg, soms nie moeg genoeg nie, soms is hulle te veel gestimuleer in die dag, soms het hulle nie genoeg gespeel nie. Dan stel hulle voor dit is omdat die kamer nie donker genoeg was nie, of temperatuur nie koel genoeg nie. ‘Het die lugversorger ‘n klein groen liggie wat skyn? Jip, dis dit, plak die liggies toe. Oe wag hoe het jy geswaddle? Ja nee definiteif nie styf genoeg nie. Hoe lyk jou aandroetine, watter druppels gooi jy in jou bad? Nee nee sy derde slapie moet voor 5 eindig! En hy mag altesaam nie langer as 4 ure en 20 minute se dagslaap inkry nie anders sal hy mos in der ewigheid nie in die nag slaap nie. Wat, ‘n piesang vir aandete? Nee, piesang is gif vir slaap.’
Ek onthou die fyn wiskunde wat ek probeer doen het om hom ‘beter’ te laat slaap. Jy kan jouself mal maak. Elke vorige dag word fyn geanaliseer om te probeer uitpluis wat nou gemaak het dat boetie gisteraand so sleg geslaap het.
Ek is van mening dat ‘n baba soms slaap soos hy slaap. Ek het baie meer vrede gehad toe ek dit bloot aanvaar het, eerder as om te probeer analiseer wat ek dan nou verkeerd gedoen het die vorige dag.
Nou ja, na drie kinders is ek vas oortuig dat elke fase verbygaan, die nie-slaap fase ook. Elke fase is meer hanteerbeer as jy hom aanvaar.
Eers wou ek sê; hanteer jou eerste baba se slaap soos jy dit sou doen met jou derde een. Maar ek dink nie dit is realisties nie. Daar is niks soos leer deur ervaring nie. Jou uitkyk op die lewe verander met elke nuwe baba. Jy kan nie jou eerste soos jou derde hanteer nie, want hy is, wel, jou eerste. En daar is ook iets moois en rous aan onervarendheid. Maar ek sou myself baie stoei gespaar as ek met my eerste een besef dat ek meestal nie sy slaap kan beheer nie.
As ek gedoen het wat my hand vind om te doen in elke gegewe oomblik, nie môre probeer uitpluis het nie. As ek net na my baba gekyk om te weet of hy moeg was en nie na die horlosie nie. Ek wens ek het minder hom probeer terugsit in sy kot en hom meer by my gehou.
Ek moes hoe lekker dit vir my was om hom by my te laat slaap, omarm, eerder as om skuldig te voel dat ek hom ‘n “goeie nagrus ontneem.”
Het nuwe babas vir jou ook nuwe perspetief oor slaap gebring? Hoe het jou gedagtes verander? Ek sal graag wil hoor.
Liefde
Renate