Die hoeveelheid kinders wat met ADHD gediagnoseer word, het die afgelope dekade of twee die hoogte ingeskiet. Daar is studies wat beweer dat dit in die afgelope 10 to 15 jaar tot soveel soos verdubbel het.
Hoekom? Soos met alles in die wetenskaplike wêreld is navorsers dit nie eens nie. Party glo ons oordiagnoseer en ander glo ons het dit bloot in die verlede gemis.
Maar ’n groeiende hoeveelheid medici voel dit word oorgediagnoseer.
Daar is verskeie redes daarvoor.
1. Een rede is dat ons voorheen normale gedrag, patologiseer, (m.a.w. ons beskou dit nou as iets wat mediese intervensie nodig het.) Byvoorbeeld gedrag wat voorheen gesien is as tipies van kinders wat later in die jaar gebore is (en dus jonger is), word nou beskou as abnormaal.
2. Die definisie van ADHD verander. Die kriteria wat ons gebruik om ADHD te diagnoseer het verander. Eers was dit nodig dat die simptome wat deur die kind ervaar word klinies probleme moet veroorsaak. Daar moes bewyse van inperking wees terwyl jy nou net moet bewys dat daar simptome is. Dus het die definisie geskuif van ‘evidence of impairment’ na ‘evidence of symptoms’.
3. Die medici, onderwysers en ouers se drang om ‘n maklike antwoord te hê vir probleme.
“Hy het ADHD” is ’n baie makliker antwoord vir die dokter om te gee as: “Mevrou hy is te jonk in ’n akademiese opset waar daar te veel van hom verwag word.” Dit is ‘n makliker antwoord vir die mamma om te gee as: “Ons het ’n swak roetine, hy slaap soms net 6 of 7 ure per nag. En spandeer groot gedeeltes van sy dae op die iPad.” En definitief ’n makliker antwoord vir die juffrou om te gee as; “Ja, wel die skoolsisteem is suboptimaal en bowendien verwag ek van 6 jariges om 5 ure lank stil te sit, wat onrealisties en nie ontwikkelingsgepas is nie.”
Ek sê dit versigtig want ek weet dit is nie vir almal waar nie, maar dit is makliker om jou kind se gedrag op ’n diagnose te blameer, eerder as om te soek na die omgewingsfaktore wat na hierdie gedrag lei.
Hier is die eerste vrae wat ek sou ondersoek as ek klagtes het oor hiperaktiwiteit of aandagafleibaarheid.
Dit is ook die eerste goed wat ek verander in ons eie huishouding as ek sien my kinders se gedrag begin ‘moeilik’ raak. As ek sukkel met hulle gedrag dan neem ek die vorige week in oënskou? Wat het ons alles gedoen? Winkel toe en uitstappies gehad elke dag? ‘n Braai gehad by iemand en laat in die bed gekom? Verjaarsdagpartytjies en sat kos vol kleur-en geurstowwe?
Bingo. Geen wonder my kinders wil nie stilsit of luister nie.
1. Skermtyd
Mense het sterk opinies oor skermtyd. Die meeste mense wat ek ken probeer die hoeveelheid tyd wat hulle kinders voor skerms deurbring op een of ander manier regverdig. Die lys van nadele is ellelank. Kinders wat meer skermtyd het, is meer geneig tot geestesgesondheidprobleme soos angstigheid en gedragsprobleme oor die algemeen. Ons sien fisiese-, spraak- en ontwikkelingsagterstande met die oormatige gebruik van skermtyd.
In teenstelling is die voordele wat ek kan lys is ongelukkig min. Maar kom on fokus nou net op ADHD simptome en vergeet van die res.
Studies wys al lank dat skermtyd ’n direkte korrelasie het met ADHD simptome soos hiperaktiwiteit, konsentrasieprobleme en impulsiwiteit. Baie van hierdie studies is op tieners gedoen. Maar ’n onlangse studie het twee groepe 5-jariges. Een groep 5-jariges het 30 minute of minder se skermtyd gehad terwyl die ander groep 2 ure gehad het. Die groep wat 2 ure gekyk het, was 7.7 keer meer geneig om die kriteria vir ADHD te haal. -En voor jy sê, “phew, my kind kyk darem nie 2 ure per dag nie”, 2 ure gebeur vinnig. Die halfuur wat hulle kyk terwyl jy ontbyt maak of as hulle te vroeg wakker geword het op ’n naweek en jy wil nog slaap. (kom ons wees eerlik dit is nader na ‘n uur toe). Dan die rofweg 45 minute wat hulle per dag by die kleuterskool kyk. (‘net as die kleintjies slaap jy weet’) En dan die halfuur na ’n uur vanaand as jy aandete maak of as hulle klaar gebad het en jy en manlief wil ontspan. Doen jouself ’n guns en neem vir een week bietjie presies tyd hoeveel tyd jou kind voor die TV/op jou foon/ besig met ‘opvoedkundige speletjies’ en so meer is. Dit is meer as wat jy dink.
2. Slaap
Hoeveel sleep kry jou kind in per nag? Ek wil jou aanmoeding om vir presies die tye neer te skryf wat jou kinders gaan slaap en wakker word. Kinders het 10 – 12 ure se slaap nodig per nag. Nou gaan jy vir my sê jou kind het nie so baie slaap nodig nie. “Low sleep needs and all that”. Ek wil respekvol van jou verskil. Om te sê jou kind het ‘lae slaap behoeftes” is soos om te sê jou kind het ‘lae suurstof behoeftes”. Hy funksioneer blykbaar optimaal op twee-derdes van die suurstof wat die res van ons nodig het? Bollie. Daar is ‘n normale reikwydte vir suurstof, so ook vir slaap. Jou kind het nie net 7 ure nodig nie en die res van ons 10 nie.
Ons weet slaap is noodsaaklik vir die brein se hoër-orde funksies soos probleemoplossing, werkende geheue, besluitneming, konsentrasie en emosionele regulasie. Kroniese moegheid (sleep deprivation) het ’n impak op hierdie kognitiewe funksie. Dit veroorsaak dat ’n mens sukkel om te fokus op take, verlaag jou vermoë om jou emosies te reguleer en vermeerder sg hiperaktiwiteit (vroetel en beweeg).
Jy kan hoogs waarskynlik ’n paar voorbeelde uit jou eie lewe opdiep, waar jy gesukkel het om te konsentreer omdat jy laasnag nie baie geslaap het nie. Studies het hierdie bevindinge in volwassenes en veral universiteitstudente gevind.
’n Studie in 2016 het dit ook in kinders bewys. Kinders wat swak of te min slaap toon ’n vermindering in konsentrasie en verhoogde hiperaktiwiteit. Hulle kon sien dat hierdie min slaap die kinders se vermoë om te konsentreer of hulle impulse te beheer, verminder. (Becker, S. P., Sidol, C. A., & Fite, P. J., 2016).
Daar is ook meer en meer interesante navorsing wat oor ‘tongue ties’ gedoen word. Kinders met tongue ties sukkel gewoonlik om ordentelik deur hulle neuse asem te haal. Hulle sukkel dus met sg ‘sleep disorderd breathing’ of ‘obstructive sleep anea’ wat maak dat hulle baie deur die aand wakker word. Hulle presenteer dikwels verkeerdelik as ADHD as gevolg van hierdie swak slaap.
3. Kos
Die studies wat sekere kosse soos byvoorbeeld rooi voedselkleursel of preserveermiddels aan swak gedrag en hiperaktiwiteit verbind, is al oud. Maar daar is immer groeiende hoeveelheid navorsing wat ’n goeie dieet aan beter kognitiewe vermoëns, insluitend konsentrasie koppel. Proteïene is veral belangrik, maar so ook bloedsuiker wat nie elke 5 minute die hoogte inskiet nie. ’n Roereier vs ’n bakkie fruitloops en ‘oatmilk’. Dit is nie moeilik om te raai watter een van die 2 kinders makliker gaan funksioneer nie, beter gaan konsentreer en ‘n meer stabiele bloedsuikervlak gaan hê nie.
4. Buitespeel in die natuur
Ek is passievol oor al die bogenoemde punte, maar ek dink ek is die HEEL passievolste oor spel. Spel in die natuur is grootliks afwesig in meeste kinders vandag. ’n Integrale deel van kinderlewe het verdwyn. Ek is oortuig daarvan dat ons die hele wese van kinderjare verander het deur spel te verwyder en verwring. Hoe baie tyd bestee jou kind in die natuur? Kyk na laasweek? Hoe baie het jou kinders tyd gehad om buite te speel? (Onthou speel is nie speel as dit nie vrye spel is nie.) Tennisles, monkeynastics, of bulletjierugby tel nie! Dit is nie speel nie. Dit is ’n georganiseerde aktiwiteit wat ook van ’n kind vereis om sosiaal in te pas, opdragte te volg en gewoonlik iewers stil in ’n ry te sit of staan. Hoeveel tyd het jou kind buite gespeel? Ek kan jou na al sê daar gaan dae, selfs weke verby wat kinders NIKS tyd spelend buite spandeer nie.
As jou kind opstaan, skool toe gaan, na skool netbal-of rugbyoefening het, ekstrawiskunde klas en dan dans vanaand, het sy glad nie vandag gespeel nie? En Saterdag was julle winkels toe en toe het julle ‘’n family Disney movie night” gehad.
Het jy geweet ons gebruik die natuur om ADHD -simptome te ‘behandel” Ons weet al lankal dat kinders se ADHD simptome verminder in die natuur? Sommige studies wys selfs dat dit nie nodigheid van medikasie wegvat. Jip, dus is speel in die natuur meer of net so effektief soos medikasie. Nou vra ek jou is dit dan moontlik dat klein Gerhard se simptome vererger omdat hy heeldag binne is? Omdat niemand dit hom gun om boom te klim of klippies te loop en skop nie?
Studies het bewys dat kinders wat naby aan die natuur leef , die lewe se stres beter hanteer (m.a.w. minder angstig is), beter aandagspan asook kognitiewe vermoëns het as hulle maats wat nie buite in die natuur speel nie. ‘n Sweedse studie het 2 groepe kleuterskoolkinders vergelyk. Die een groep se speelarea was tussen geboue met ’n baksteenpaadjie en min groen blare en plantegroei. Die ander groep se speelarea was in die natuur, in ‘n boord reg langs ’n veld en oorgroeide tuin met bome en plante. Die tweede groep se aandagspan en motoriese vermoëns was baie beter as hulle plaveiselspelende maatjies. ’n Groep navorser by die Universiteit van Illinois het dieselfde gevind. Spel in die natuur verlig ADHD simptome (plus ‘n hele groep ander probleme) terwyl binnenshuise aktiwiteite, (soos TV kyk), of spel op ’n geplaveide area sonder sigbare tekens van die natuur, die simptome verhoog.
As ek een ding kon verander, as ek jou een ding kon laat doen sou dit wees om jou kinders toe te laat om buite, sonder jou inmenging, te speel. Sommige navorsers is dit eens dat kleuters 5 tot 8 ure se vrye spel per dag nodig het, hoofsaaklik in die natuur. Ons weer in Suid-Afrika is so lekker, ons het eintlik geen verskoning nie. En tog kom meeste kinders nie naby aan 5 ure nie.
Hier is ‘n paar skakels na artikels toe as jy self wil gaan lees.
Meningsartikel deur ‘n psigiater. https://www.psychiatryonline.org/doi/10.1176/appi.pn.2025.01.1.9
Die veranderinge in die definisie van ADHD. https://pmc.ncbi.nlm.nih.gov/articles/PMC3955126/
ADHD en slaap. https://pubmed.ncbi.nlm.nih.gov/9628084/
Voorskoolsekinders en sleep disordered breathing. https://pubmed.ncbi.nlm.nih.gov/24862749/
• Becker, S. P., Sidol, C. A., & Fite, P. J. (2016). The role of sleep in the development of attention and hyperactivity. Journal of Abnormal Child Psychology, 44(2), 267–278.
• Killgore, W. D. S., et al. (2007). The effects of sleep deprivation on cognitive performance and mood in children with ADHD. Journal of Sleep Research, 16(3), 243-252.
• Corkum, P., Tannock, R., & Moldofsky, H. (1999). Sleep problems in children with attention-deficit/hyperactivity disorder: Prevalence and treatment implications. Journal of the American Academy of Child & Adolescent Psychiatry, 38(5), 701-709.
ADHD and screem time link https://www.nature.com/articles/s41598-023-44105-7
Kleur en preserveermiddels en hiperaktiwiteit https://pmc.ncbi.nlm.nih.gov/articles/PMC2394588/
Liefde,
Renate
Leave a Reply