Ek wou vir een maand (dalk hou ek langer aan, wie weet) geen kos koop of kook wat enige kunsmatige byvoegmiddels (additives) bevat nie. Dus geen kleursel/geursel/stabiliseerders/emulsifiseerders ensovoorts nie. Elke bestanddeel moet iets eetbaars op sy eie wees.
Uhhm en toe bak ek op dag 2 vlakoekies! Ek het spesifiek die vanieljegeursel uitgelos want, wel, dit is presies wat dit sê, net geurmiddels. Maar vlapoeier!! Ek lys vir jou die bestanddele; “Cornstarch, salt, flavouring, colourants (E104, E124)”. Mooi gedoen, Renate!
In elk geval, ek is nie van stryk gebring nie, ek hou aan met my voorneme.
Maar laat ek vir jou sê, dit is moeiliker as wat ek gedink het om alles uit te sny. Daar is regtig min ‘ekstras’ wat jy kan koop wat nie iets by het nie. Jy is beperk tot rou vrugte, groente en vleis. C’est ca!
Ek het hierdie idee in my kop dat ons gesond eet. Ek kook kos, ons koop nie sommer wegneemetes nie of klaargaarkos nie. Ek geniet dit om kos te maak en te bak vir my gesin. Maar as ek mooi na alles kyk wat ek kook, sit ek eintlik baie onnodige, ongesonde goed by ons kos. As ek in elk geval die tyd gebruik om kos te maak, hoekom bederf ek dit deur ongesonde oneetbare nie-bestanddele by te sit?
En ek neem myself ’n bietjie kwalik omdat ek tenspyte van die oorweldigende bewyse teen die gebruik van byvoegmiddels, steeds nie erns daarmee gemaak het om dit uit te sny nie. Ek koop steeds speserymengsels, hoenderaftreksel (stock), brood, jellie, vla, joghurtjies, tertjies, versnapperings, hoender schnitzel, ribbetjies met sous, noem dit maar op. Elke keer as ek ‘n verjaarsdagkoek bak en ek kleur versiersuiker of ek sit vanieljegeursel by, kry my kinders ook kleur en geurmidddels in. Om watter rede? Ek kan netsowel nie die kleursel bysit nie, netsowel nie vanieljegeursel koop nie. Ek hou dit eerder vir die raar keer wat ons wel uiteet of iets koop wat in elk geval nie gesond is nie.
Hier is ‘n foto ‘n paar goed wat ek sover uitgegooi het.
Ek het onlangs die boek ‘French women don’t get fat” gelees en is weer geinspireer om gesond en seisoenaal te eet.
Ek het sommer ook weer gaan oplees oor kunsmatige voedselbyvoegmiddels en vertaal vir julle ’n stukkie uit ’n artikel oor die gebruik van kunsmatige byvoegmiddels.
”Baie navorsing hou voor dat kunsmatige kleursels, geursels, preserveermiddels en versoeters (non-nutritive sweeteners – soos die wat jy in zero gaskoeldrank kry), emulsifiseerders en ander byvoegmiddels geassosieer word met verhoogde psigiese gesondheidsprobleme, ADHD, kardiovaskulêre siektes, metaboliese probleme en selfs karsinogeniese effekte (kanker) besit. Kleursel veral is bewys om probleemgedrag in kinders te veroorsaak. In diere wys studies dat hierdie kleursels en byvoegmiddels sitotoksiese, neurotoksiese, genotoksiese en karsinogeniese effekte het. M.a.w. dit is skadelik vir jou brein, alle selle, jou gene en veroorsaak kanker.”
Punt is, daar is regtig niks gesond aan E22, E457 en al die ander middels wat winkels byvoeg om dinge langer te laat hou, helderder te laat lyk of beter te laat proe nie.
So ja, ek is vasbeslote om soveel as moontlik byvoegmiddels uit ons kos uit te sny! Ek besef ‘n mens kan nie heeltemal skoon leef nie. Daar is hormone, plastiek, pesdoders en noem dit op in ons water en grond, so ook op ons kos en klere. Boonop gaan die kinders kleursels, geursels, suiker en wat nog alles by maatjies, oumas en tannies eet. Ek besef dit en ek weet ‘n mens kan nie alles vryspring nie. Maar ek hoef nie by te dra tot die hoeveelheid gemors wat hulle eet nie. Ek wil, waar ek kan, die lading toksiese, nie eetbare, onverteerbare stowwe verminder. Ek wil dit tog maklik vir hulle lyfies maak om te konsentreer, speel en leef. Ek wil nie hulle nuwe dermpies verwoes nie. Daar is eintlik geen rede vir my om dit te koop nie. Hoekom koop ek die lekkers? Omdat ek voel ek bederf hulle? Dit is ‘n baie groter bederf om gesond en allergievry groot te word as om blou fizzers te eet.
So ja, ek wil graag so skoon as moontlik uit en sien eintlik vreeslik uit om alternatiewe maniere te kry om dinge te kleur en geur!
Ek gaan probeer om die blog op te dateer met alles wat ons maak, maar ek raai meeste van my opdaterings gaan op IG wees!
Baie liefde
Renate.
OPDATERING
Ek het in Februarie begin. Dit is nou Mei.
Hier is my opinie. Dit is haas onmoontlik om alles uit te sny. Regtig
Ek het agtergekom dat ee van die grootste sondebokke suiwel is. Alle joghurt ( ja self die gewone wit Griekse joghurt) het geur-en preserveermiddels in. Alle kaas, roomkaas, maaskaas, feta kaas. Cheddar, daai oranje cheddar wat ek my lewe lank koop, Vrot van die kleurmiddels. Ek was bewus daarvan dat brode en wraps en pizzabasisse vol preserveermiddels en oneetbare geurmiddels is, maar was nie heeltemal voorbereid op die vlak waarin dit in suiwel voorkom nie. Brode en pizzas en selfs souse kan ‘n mens tot ‘n groot mate self maak, maar dit is moeiliker om kaas te maak?
Ek het vir my ‘n instant pot gekry en maak nou my eie joghurt, maar is nog nie heeltemal op die vlak van kaas maak nie. Ek sal dit egter graag wil probeer.
Hierdie paar maande het egter my oë oopgemaak vir hoe algemeen kleur-geur en preserveermiddels is. Ek haal nou die dag ‘n groente-en vleissop van die rak af. Jip, dit is gekleur. Basiliekruidpesto? Jip, gekleur. Ek is verstom deur die hoeveelheid kos wat nog as regte kos beskou kan word. Dit is regtig net onverwerkte vleis (m.a.w. nie wors of patties of hoenderrepies nie) en rou groente en vrugte wat niks in het nie. Dit het my effens meer laat verstaan hoekom ons sit met die obesiteits-en gesondhesidsprobleme waarmee ons sit. Ek is by die huis en kook elke eet en ek kan dit omtrent nie uitsny nie. Wat nog te sê, die gemiddelde werkende mamma wat staat maak op pasta en ‘n sous om ten ministe op die besige dae ‘n vinnige maaltyd te kan berei nie?
Dit het my egter meer vasbeslote gemaak om regtig te dink oor wat ons eet. Ek is die een wat bepaal wat my kinders eet. As ek weet dat joghurt, kaas en brood reeds (amper) overmydelik vol kleur-geur-en preserveermiddels is, kan ek regtig die bederf van ‘n pakkie jellietots regverdig? Gekleurde versiersuiker op koekies? ‘n botteljie oros saam skool toe? Ek besef nou my kiniders rky elke dag iewers iets in wat nie goed is vir hulle nie, selfs in my eie huis. Wat nog te sê by ander huise soos ouma of maats? Ek kan dit nie vermy nie. Ek kan egter seker maak ek vermeerder dit nie..
En dit is nou my onderneming. Ek gaan sover moontlik in my eie huis my kinders se inname van kleur-geur-en preserveermiddels beperk. Ek gaan my eie brood bak, kefir maak, souse aan mekaar slaan, twee keer dink oor die melkskommel wat ons as ‘n bederf iewers eet ( as ek net so maklik melk, room en aarbeie by die huis in ‘n smoothiemaker gaan gooi), wel wetende dat ek nie my kinders heeltemal daarvan kan beskerm nie. Maar dit beteken nie ek gaan net my hande in die lug gooi en so, o wel, dis nou maar so, wat kan ek doen nie.
Want ek kan dit verminder, ek moet net moeite doen.