Ek weet nie presies hoe jy oor skermtyd voel nie, maar reken daar moet ma’s wees wat min of meer soos ek voel.
Hulle weet skermtyd is nie eintlik ‘n goeie idee nie, maar het variasies van die volgende gedagtes.
Skermtyd is ‘n ou bederfie vir my kinders.
Skermtyd is ‘n goeie stukkie gereedskap om my te help om dinge in, en om, die huis gedoen te kry of werk af te handel.
Ek (of dan nou iets anders) moet my kinders besig hou (of ‘entartain’ soos die ingilsman sê) so ek gebruik die TV vir ‘n uur of twee (of baie meer) per dag wanneer ekself/kleuterskool/sport/kunsklas nie beskikbaar is nie.
En hierdie is presies die drie idees wat ek moes laatgaan om weer sonder skerms reg te kom.
Maar kom ek deel eers kortliks my storie en hoe dit gekom het dat ons is waar ons vandag is. En dan wil ek graag hê jy moet saam met my ‘n paar perspektiefskuiwe ondergaan wat my gehelp het om anders oor skermtyd te dink.
Ek het nog altyd besef skermtyd is nie ideaal nie. Ek weet mos babas moet tyd op hulle magies spandeer, hulle moet met hulle ouers gesels en interaksie hê sodat hulle kan leer praat en ontwikkel. Hulle moet buitespeel, rondhardloop en hulle lyfies en breintjies gebruik. En hulle kan nie een van hierdie doen terwyl hulle voor die televisie sit nie.
Bowendien het ek in ‘n huis grootgeword sonder ‘n TV, so dit was nie moeilik om skermtyd grootliks uit ons huis uit te hou nie. Ek en my man het saam besluit om nie ‘n TV aan te skaf toe ons getroud is nie.
Ek was, noem dit dan nou maar ‘anti-skermtyd.’ Ek het nie die nut daarvan ingesien nie en was deel van die denkskool wat voel dat dit meer skade doen as goed.
Maar soos my kinders ouer (en meer) geword het (en ek dus besiger) en die vriendinne om my se kinders so lekker TV gekyk het, het ek in dieselfde gat getrap as meeste ma’s. Eers sou ek ‘n YouTube video aansit as ek my kinders se hare sny sodat hulle mooi kan stilsit. Toe dink ek dit sal dalk lekker vir hulle wees om hier en daar ‘n ou ietsie te kyk, jy weet as ‘n ‘bederfie’. En toe net omdat ek ‘regtig dringend hierdie epos moet stuur.’ of ‘graag die strykwerk wil klaar hê voor ons moet ry en inkopies doen.’ Watookal. En nie ‘n dag of tien later nie, begin my kinders kerm oor die videos. Hulle hare is lankal klaar gesny dan wil hulle steeds nog kyk. En elke keer as ek na die rukkie se gekyk die selfoon of rekenaar wil wegvat, begin hulle huil. Soms gee ek in ‘want hulle het regtig nog nie eintlik lank gekyk nie en kyk hoe baie kry ek gedoen?!’ Of, nog erger, ek gee in omdat ek nie die groot gehuil wil hanteer nie.
Wees gou eerlik met jouself: Hoeveel keer het jy jou kinders al langer laat TV kyk/ipad speletjies speel as wat jy oorspronklik gesê het hulle kan, bloot omdat jy bang, of nie lus was vir hulle reaksie as jy dit wegvat nie? Jy het eintlik gesê hulle mag net een episode kyk, maar jy het nie vandag die krag om die uitmekaarval (of ‘meltdown’) te hanteer nie. So toe laat jy maar toe dat die een na die ander video van dansende vrugte hulle vermaak. Of hulle kyk toe die hele 2-uur lange episode van Miss Rachel omdat jy besig was om aandete te maak en toe self ‘n bietjie wou ontspan.
En dan, as ek drie dae in ‘n ry ‘dringend ‘n epos moes stuur,’ kan ek agterkom hoe hulle gedrag verander. Ek sal vir jou die prentjie skets, maar ek dink jy ken hom goed. Eerste worstel jy met hoe jy dit gaan wegvat. Ferm – ‘ julle is klaar gekyk – basta’. Of kom ons probeer eerder waarskuwings. “Oor 10 minute sit mamma die video af. Nou vyf minute” ens. Daarna hanteer jy die onafwendbare tranedal. En jy probeer al die tegnieke, – aandagaftrek met een of ander lekker aktiwiteit wat hulle eerder kan doen. (en hierdie aktiwiteit behels altyd jou insette. “Mamma sal vir julle boeklees, ons kan koekies bak, wat van verf?, wil julle nie blokkies bou saam met mamma nie?”) Of jy hou ‘n wortel voor die neus. “As julle nou mooi soet die TV afsit kan julle x y of z kry.” Naderhand deel jy dreigemente uit oor wat jy gaan doen as hulle nie dadelik ophou kerm nie.
Goed, nou het jy hulle uiteindelik weg van die skerms af. En dan? Gaan speel hulle so soet soos stropies? Nee, glad nie. Net na skermtyd het kinders die heel minste kreatiwiteit. Hulle kan dan sommer glad nie op hulle eie speel nie. Hulle drentel heeltyd agter jou aan. Hulle huil meer, en val uit mekaar (tantrum). Hulle gedrag verander.
As hierdie vir jou bekend klink is hierdie blog vir jou.
Hierdie blog is vir die ouers wat voel hulle gesin se skermtyd is nie na wense nie. Vir die wat voel dat hulle kleintjies oorgestimuleer is en gedragsveranderings opmerk as hulle kleintjies TV kyk. Ek dink nie ek kan ‘n ouer oortuig oor skermtyd se gevare of hoekom ek dink dit moet beprek word nie. Ek wil ook nie nou baie aandag daaraan wei nie. Ek sal ander blogs daaroor skryf en dan later hier ‘n skakel inlas. Daar is in elk geval hope en hope blogs en artikels en navorsing oor skermtyd. Sommige medici verwys daarna as heroien, sommiges sê solank dit nie meer as ‘n uur of twee ‘n dag is nie, is dit aanvaarbaar.
Ek dink almal stem saam dat dit beperk moet word, maar baie ouers en self medici sê dit hoef nie weggevat te word nie. Daar is selfs strome van denke wat meen dat jy kinders vrye en onbeprekte toegang moet gee en dan kan hulle hulleself leer reguleer. Jy kan self besluit waar jy lê. Ek het al met ouers gesels wat hoog en laag sweer dat tegnologie die pad vorentoe is en hulle sal nie hulle kinders daarvan ontneem nie. (kyk, dis ‘n ope vraag of Peppa Pig as “tegnologie” geklassifiseer kan word. Maar ek wil nie nou in te veel syspore ingaan nie.)
Kom ek verduidelik die 3 (foutiewe) denkwyses wat jy en ek rondom skermtyd het.
Dit is ‘n bederf.
Jy kan vir my lag, maar vir een of andere duistere rede het ek gedink as ek vir my kinders ietsie op die TV opsit, bederf ek hulle. ‘Dis iets wat ons min doen, hoe gaaf en lekker sal dit nou nie vir my seuntjie wees om iets te kyk nie?’ Dit kom dalk ‘n bietjie van die mense om my af. Namate my oudste ouer geword het en ek met mammas by die kerk of babagroepies gesels het, en hulle het dit laat klink asof hulle kinders dit soooo geniet om TV te kyk. Asof dit ‘n tydverdryf is wat aan hulle kinders oneindige plesier verskaf. “My seuntjie is gek oor peppa pig”. “Sussie kyk elke oggend so graag Miss Rachel” ens. Tweedens kan dit dalk my eie idee oor skermtyd wees wat ek op my kinders projekteer. Ons het nie ‘n TV nie, maar ek en my man sal dan en wan ‘n fliek op die rekenaar kyk wanneer ons die kans kry. So as ‘n afwen/bederf. Maar hier is die werklikheid: Jou 2-jarige het nie die kapasiteit om ‘n 2-uur fliek deur te kyk en die storielyn te waardeer nie. (Navorsing het hierdie bewys – gaan lees gerus die boek Nurture Shock deur Po Bronson). Kinders kan nie eers die lessie aan die einde van ‘n Spongebob episode onthou nie – hulle onthou net die swak gedrag – nie die afloop of die afleer daarvan wat aan die einde van die episode kom nie). So dis nie asof jou kleuter na ‘n fliek – soos ‘n volwassene – rondloop en diep na dink oor die karakterontwikkeling of terugsit en se ‘man dit was nou ‘n goeie fliek’ nie. En buitendien, dink jy dit bederf jou kind om oorgestimuleer te wees? Dink jy dit is vir hom lekker as sy lyfie so ongereguleerd is dat hy sy voete stamp en huil as jy dit afsit? As jy vir jou kind ‘n roomys gee en halfpad deur die ding wegvat – is dit tog heeltemal te verstane as hy ongelukkig is daaroor? Ek moes dus heeltemal ophou dink dat ek my kinders bederf met ‘n film. Inteendeel, ek ontneem hulle tyd om te speel, tyd om te ontwikkel of tyd om saam met my te spandeer. En bowendien, veroorsaak ek dat hulle voel hulle mis uit as ek dit afsit.
Dit help my om dinge gedoen te kry.
Tweedens, hoewel dit te argumenteer is dat TV ‘n handige stukkie gereedskap is om jou kinders vir ‘n rukkie besig te hou, moes ek myself afvra: “Is dit die moeite werd?” Daar is baie dinge wat ek seker is my kinders vir kort rukkies sal kan stil hou sodat ek kan werk. Ek besef my analogie is nie perfek nie, maar ‘n sopie brandewyn sal dalk my kinders vroeër in die bed kry. Een of ander bedwelming sal hulle ook stil hou. Maar dis ‘n korttermynopplossing wat gewoonlik ‘n langtermynprobleem skep. Direk na ek hulle vir daai uur voor die TV kon plop spandeer ek SOVEEL energie om hulle
a) weg van die skerm af te kry en
b.) weer net rustig te kry sodat hulle op hulle eie kan speel.
Dit is seker ‘n bietjie soos suiker. As ek vir my kinders ‘n hele mengbak vol lekkers en sjokelade gee is ek seker hulle sal dit geniet – en dit sal hulle sommer ‘n hele rukkie besig hou ook! Maar is ek tevrede met die gevolge wat dit vir hulle langtermyngesondheid inhou? Is ek tevrede met die gedrag wat volg na so baie suiker? Dit is hoe ek voel oor skermtyd. Dit is ‘n stukkie gereedskap wat ek nie wil gebruik nie omdat dit oor die langtermyn vir my meer probleme skep as wat dit my in die korttermyn help. Ek BELOWE jou, as jy ophou om op skerms te steun leer jou kinders om hulle verveeldheid in kreatiewe spel om te sit! Ek het ander blogs wat meer hieroor uitwei, maar onthou dat kinders nie kan leer om effektief op hulle eie te speel as elk tydjie wat hulle moontlik het, deur die TV opgeneem word nie.
“Maar my kinders is verveeld of het niks om te doen nie”.
Derdens, as jy besef dat jy nie jou kinders permanent moet vermaak nie, sal jy nie soek vir ‘n plaasvervanger nie (die TV). Ek gaan jou dit so laat onthou. Jy het ‘n werk en jou kind het ‘n werk. Jou werk is om ‘n ouer te wees, ‘n huweliksmaat, ‘n bankier, ‘n prokureur, verpleegster watookal. Jou kind se werk is om te speel. Wie se werk is dit om te speel? Jou kind sin! Rerig erig erig erig, dit is NIE jou werk nie. Jy het gespeel as kind toe dit jou werk was. As ouer is jou rol om die omgewing so te fasiliteer dat jou kinders kan speel. So moenie jou kinders se verveeldheid probeer oplos deur hulle voor die TV te sit nie. Los sit met ‘n langtermynoplossing op. Speel!
Ek moet myself steeds elke nou en dan spreekwoordelik voor vier oë spreek en herinner daaraan dat ek nie besig is om my kinders te bederf deur hulle te laat TV kyk nie, dat dit goed is vir hulle om verveeld te wees en dat ek op die langduur nóg my kinders nóg myself ‘n guns doen deur ‘n YouTube video op te sit elke keer as ek iets gedoen wil kry.
Ek hoop hierdie blog kan jou bemoedig om skermtyd ‘n bietjie anders aan te pak, selfs al besluit jy nie om heeltemal sonder skerms reg te kom soos ons gesin nie.
Sterkte, ouerskap verg volgehoue toewyding! Dis nie maklik nie.
Liefde
Renate.