Daar is nie baie absoluut noodsaaklike bababenodighede nie. Meeste babaprodukte is lekker om te hê en maak jou lewe makliker, maar jy sou daarsonder kon klaarkom. My ma het altyd gesê jy kan ‘n baba in ‘n laai grootmaak en dit is omtrent waar. Een ding wat ‘n mens egter wel nodig het, is ‘n karstoeltjie. En is daar nou nie tientalle om van te kies nie?
Met my seuntjie het ons ‘n ge-erfde karstoeltjie gebruik so ek moes eers met my tweede baba navorsing doen om ‘n karstoeltjie te koop. Ek het nogal gesukkel om goeie, in-diepte menigstukke oor karstoeltjies te kry, nog minder die wat deur ‘n ma geskryf is.
Ek het hierdie ‘review’ geskryf na ons die Noola 360 al ‘n jaar gehad het, maar nooit daarby uitgekom om hom te publiseer nie. Nou, nadat ons hom omtrent 20 maande al het, het ek my nuwe gedagtes bygevoeg.
So hier is dit, my gedagtes rondom die NOOLA 360 stoeltjie na byna 2 jaar van gebruik.
Hoekom het ek oorspronklik na die Noola 360 stoeltjie gekyk?
‘n Vriendin met ‘n nuwe babatjie het eendag by my kom kuier. Toe sy haar seuntjie in die kar tel, draai sy die karstoeltjie na haar toe, en tel haar seuntjie in! Woeps net so. Ek weet nie hoekom nie, maar voor hierdie insident het ek nog nooit van ‘n 360 grade stoeltjie gehoor nie. Die feit dat die stoeltjie kon draai was vir my aanloklik vir drie redes.
- Ek het nogal ‘n paar keer my seuntjie se kop gekap as ek hom probeer in die kar tel, veral toe hy bietjie ouer geword het en gewriemel het (maar voor hy al self kon inklim). Sy stoeltjie se kante kom hoog op en ons kar is laag. (is ek die engiste een wat al my kind so kop so gestamp het?)
- Tweedens, as babatjies heel klein is en hulle kan nog nie hulle nekkies regop hou nie, is dit ook ‘n omslommernis om hulle bo-oor die kante in te tel. Ek het gedink dit sal lekker wees om die stoeltjie na my toe te draai om die baba in te tel, eerder as om hulle bo-oor die kante te probeer intel.
- Ek sit graag op die die agterste sitplek en borsvoed as ons langpad ry en my babatjies word baie onrustig/honger en ons kan nie dadelik stop nie. Ek doen dit sonder om my baba uit sy stoeltjie uit te haal. Maar dit is maar ‘n gesukkel omdat ek myselen die baba ons sitplekgordels probeer aanhou. Ek leuen dan so bo-oor die stoeltjie. Ek het gehoop dat die draaifunksie dit makliker sal maak sodat ek nie so ongemaklik oor die hoë sykante van die stoeltjie hoef te leuen nie, maar kan in ‘n gemakliker posisie bly sit en voed.
Oorsig van die stoeltjie
Ek het die NOOLA 36 karstoeltjie in die kleur ‘lunar grey’.
Die stoeltjie se materiaal is sag en voel en lyk duursaam. Die insetsels bied goeie ondersteuning vir ‘n pasgebore baba. Die oor-die-skouer vasmaakgordeltjies is lekker sag en breed. ‘n Kleintjie sit mooi knus in die stoeltjie. Dis maklik om die skouer gordeltjies vas te maak en om die lengte te verstel. Die verskillende stukke (bv die pasgebore baba insetsel is maklik om in en uit te haal. Selfs die stoeltjie se materiaal as geheel kom maklik genoeg af, daar is knippies. (pop its) Jy kan met ‘n bietjie moeite die hele stoeltjie uitmekaar haal en al die deeltjies was. Die draaifunksie werk lekker en ek gebruik dit gereeld.
Die stoeltjie kos R5490 maar ek het ons stoeltjie op ‘n swart Vrydag aanbieding in November gekoop, selfs al is my dogtertjie eers in Mei gebore. Ek dink ek het R4500 betaal. Hulle webwerf gee vir jou die opsie op die stoeltjie onmiddelik te laat aflewer of eers oor ‘n paar maande. Die stoetjie is iewers in Maart of April by my afgelewer. Hierdie latere aflewer funskie is handig omdat jy die stoeltjie kan koop wanneer daar ‘n afslag is, maar a.) die stoeltjie se waarborg begin eers by aflewering en b.) die stoeltjie staan nie jou huis vol as jou baba nog nie gebore is nie.
Installering van die stoeltjie: Isofix vs sitplekgordel
Net ‘n punt op isofix (omdat ek nie aanvanklik geweet het wat dit is nie.) Ouer karstoeltjies maak ‘n mens aan die karsitplek vas deur die sitplekgordel te gebruik. Jy vleg die sitplekgordel op een of ander manier deur, en om, die karstoeltjie (daar is gewoonlik goeie instruksies op die stoeltjie) en maak dan die sitplekgordel vas. Ek sou sê dit is teoreties moeiliker om die stoeltjie in en uit te haal om van kar tot kar te skuif omdat jy elke keer die sitplekgordelgevlegery weer moet doen, maar ek het gevind dat dit in praktyk soms makliker is as isofix, want as jy eers die gevlegery onder die knie het, dan verg dit nie regtig meer dinkwerk nie. Dit terwyl sommige karre se isofix punte versteek is en jy dus met baie moeite die stoeltjie installeer. Maar meer hieroor later.
Isofixstoeltjies, of hulle basisse, het 2 – noem dit dan nou maar sparre – wat om metaalringe wat in jou kar geinstalleer is, vassluit. Sien die foto hier onder. (dis die geel gedeeltes). So tegnies is dit so maklik soos val uit ‘n boom uit. Jy sit die stoeltjie op die sitplek neer en druk die 2 sparre vas teen die agterkant in die ringetjies in. In praktyk is elke kar se isofix punte/ringetjies nie ewe maklik bekombaar nie en is die insit van die stoeltjies dus nie ewe maklik nie.
.
Op die eerste en tweede foto hieronder kan jy sien dat die ringetjie agter teen die sitplek ontbloot is wat dit baie maklik maak om die stoeltjie in te druk. In sekere karre (my skoonpa se Fortuner byvoorbeeld) is die isofix punte/ringetjies tussen die ruglening en die onderste sitgedeelte van die sitplek versteek. (Foto 2 is ‘n voorbeeld hiervan alhoewel die Fortuner se ringertjies nog dieper versteek is.) Jy moet amper blindelings die spar indruk tot hy vas is. Dit verg ‘n fyn gemikkery en krag om die stoeltjie se spar dan nou so ver in die stoel in te druk. Ek kry dit amper nooit reg nie. My man of pa moet altyd kom help as ons die stoeltjies wil oorskuif na ‘n ander kar toe.
‘n Punt om in gedagte te hou
Van die ouer karre het nie isofix nie, dus moet jy seker maak as jy ‘n ouer kar het, dat dit wel isofix punte het om die stoeltjie aan vas te maak. Ek dink jy kan die stoeltjie wel met net ‘n sitplekgordel ook vasmaak maar het dit nog nooit self probeer nie.
Positiewe en negatiewe punte
Waarvan ek hou
- Die stoeltjie se uiterlike. Soos ek gesê het die stoeltjie lyk mooi, modern en duursaam.
- Die materiaal is sag en ondersteunend sodat jou baba knus sit en nêrens teen iets hard druk nie.
- Die feit dat die stoeltjie kan draai! Ek was heeltyd bang dat die draaifunksie net ‘n foefie is- dat dit teoreties vrekoulik klink, maar in praktyk nie so lekker gaan werk soos ek dink nie. Toe nie, ek geniet die draaifunksie en gebruik dit baie. Ek dink dit is handig en spaar tyd. Ek kom agter dat my dogtertjie minder huil as ek haar in die kar sit terwyl sy nog na buite kyk. Ek kan buite staan en haar vermaak terwyk my man my seuntjie in die kar vasmaak of sy kan na mense kyk terwyl ek die inkopies wegpak. (hierdie mag uiters subjektief wees)
- Die stoeltjie is geskik vir verskeie ouderdomme. Ek hou nogal nie van die karstoeltjies wat gewoonlik saam met stootwaentjies kom nie omdat dit net geskik is vir kleiner babas. Dit is vir my lekker om die stoeltjie te verstel soos wat my kinders ouers word. Hou in gedagte dat my dogtertjie nou eers amper 2 is so ek kan nie kommerntaar lewer op die gemak van die stoeltjie vir ‘n 6-jarige nie
Waarvan ek minder hou/punte om in gedagte te hou.
- Van die ouer karre het nie isofix nie, dus moet jy seker maak as jy ‘n ouer kar het, dat dit wel isofix punte het om die stoeltjie aan vas te maak. Ek dink jy kan die stoeltjie wel met net ‘n sitplekgordel ook vasmaak maar het dit nog nooit self probeer nie en buitendien, hoekom betaal jy dan vir isofix?
- Die Isofix vasmaak van die stoeltjie is nie ewe maklik in elke kar nie. Dit verg ‘n gesweet om die stoeltjies in sommige karre vas te maak.
- Die stoeltjie is breed. Ek pas byvoorbeeld nie tussen die 2 karstoeltjies in die middelste agsterste sitplek in nie. (wel, as ek my heupe skuins draai en myself baie hard inwurm, kan ek so sit maar dit uiters ongemaklik en ek het dit seker nog net 2 keer vir kort rukkies gedoen. Daar gaan die feit dat ek wou borsvoed agter in die kar. Ek kry dit reg, maar wens ek het die stoeltjie al met my eerste baba gehad. (Ek dink nie die stoeltjie is noodwendig breër as meeste 0-36kg stoeltjies nie. Ek probeer maar net oordra dat hierdie stoeltjie nie die fyntjiese, slanke stoeltjie is nie).
- Die stoeltjie is so breed dat jy nie 3 kinders se karstoeltjies langs mekaar in ‘n kar sal inkry nie. Ek sal nie ‘n 2de van hierdie stoeltjie aanskaf vir ons derde baba nie, want dan sal my 3 kinders nie langs mekaar inpas nie.
- Ek sou ‘n vasmaakstukkie tussen die 2 skouergordeltjies waardeer het. Soms kry ‘n kleintjie dit reg om die skouergordeltjies te laat afgly van hulle skouers af en hulle arms dan uit die gordeltjies te haal. Ja, jy kan die gordeltjies stywer vastrek, maar dit voel vir my dit moet omtrent ongemaklik styf sit voor hulle nie hulle arms kan uitwikkel nie . Om heeltemal eerlik te wees gebeur dit definitief minders in hierdie stoeltjie in vergelyking met my seuntjie se karstoeltjie, maar dis nogtans iets om te noem.
- Jy benodig eintlik twee hande om die stoeltjie te kan draai. Jy moet die ‘stangetjie’ agter die stoeltjie uittrek en hom in die uitgetrekte posisie hou om die stoeltjie te kan draai. Heel maklik as jou baba in ‘n stootwaentjie of iets dergliks is. Jy trek die stangetjie uit met jou een hand en draai die stoeltjie met jou ander hand. Dan tel jy vir baba uit die stootwaentjie in die kar in. Maar soos my dogtertjie ouer word, gebeur dit al hoe meer dat ek en sy kar toe stap met haar op my heup. En dan het ek net een hand. (Ek kry dit reg om dit net met een hand te doen; ek trek die stangetjie uit en probeer dan die stoeltjie draai met dieselfde hand se bo-arm. Dis doenbaar, maar ek is gewoonlik relatief gefrustreerd na afloop van hierdie toertjie 😊) Hierdie probeer is egter maklik oplosbaar. Elke keer as jy jou baba uittel, maak seker jy draai eers die stoeltjie buite toe. Dan, wanneer jy jou baba terug in die kar tel, is daar geen gedraaiery nie, want die stoeltjie is klaar na buite gedraai. Die enigste probleem is, ek is soms haastig en vergeet, of, doen dit net eenvoudig nie.
Ter afsluiting
As ek weer oor kan begin babas hê, het ek hierdie stoeltjie met my 1ste baba gekry. Mens is op jou onhandigste en die draaifunksie is dus op sy gepasste. Ek sou ook lekker kon borsvoed agter in die kar.
Ek dink hierdie stoeltjie is heel billik geprys. Dit is ook ‘n trots Suid-Afrikaanse maatskappy, so jy ondersteun plaaslik! (wel, die stoeltjie word in China vervaardig, maar die maatskappyeienaars is van suidafra)
Ek geniet die stoeltjie en is nie spyt oor my kopie nie.
Ek gaan hierdie stoeltjie egter nie oorweeg vir my derde baba nie omdat hy baie breed is en ek nou nie meer die draaifunskie sal kan gebruik nie (met my ander kinders wat reeds op die sitplek sit nie.)
Dus is my oorwoë mening dat alhoewel die stoeltjie baie lekker is, ek hom nie gaan koop vir my derde baba nie. Ek sal hom voorstel en aanbeveel vir elke eerste maal mamma en ‘n mamma wat net 1 of 2 kleintjies beplan, of een of ander bus ry waar daar nie ‘n middelste sitplek is nie). Ek dink dat jy self die voor-en-nadele en jou voertuig se uitleg moet opweeg vir die tweede of derde baba.
Wetende wat ek nou weet, het ek hom ook nie vir my 2de baba gekoop nie. Dit is wel jammer dat ek hom nie met my eerste baba gehad het nie. Ek sou hom dan op sy beste en tot sy volste kon benut.
Daarsy, ek hoop dit help jou ietwat met jou besluitneming!
Liefde,
Renate