Ek het al kinders dopgehou wat vir ure op hulle eie speel. Hulle bou hele dorpies uit duplo of maak modderkoekies, speel juffrou-juffrou, noem dit op. Insgelyks het ek al kleintjies dopgehou wat na 30 sekondes terug hardloop na hulle ouers toe of heeltyd sê: “mamma ek is verveeld.”
Hoe kan ek my kleintjie kry om deel van die eerste groep kinders te wees?
Is daar iets wat ek kan doen of nie doen nie wat my kinders sal help om onafhanklik te speel?
Vandag gesels ek oor 6 mites oor onafhanklike spel.
Hier is:
6 Goed wat jy glo wat eintlik jou kleintjie verhinder of ontmoedig om onafhanklik te speel.
1. My baba is te jonk om self te speel. Sy het iemand nodig om MET haar te speel.
Babas is afhanklike wesentjies, daar is geen twyfel daaraan nie. Hulle is afhanklik van hulle versorgers vir alles – kos, beweging van punt a na b, kleding, liefde. Maar net omdat hullle afhanklik is beteken nie hulle kan niks doen nie. Spel is ‘n inherente drang. Kinders wil speel en hulle kan speel. Selfs die kleinste babatjie kan spel en ontdekkingsaktiwiteite inisieer. Hulle kan interaktief met hulle omgewing omgaan en kommunikeer met mense om hulle. Hulle moet net toegelaat word om die vaardigheid van spel te oefen en te verfyn. Om vrye spel in te oefen moet ons as ouers fokus om veilige spasies te skep met objekte waarmee hulle kan ontdek en speel.
Magda Gerber het gesê: “Infancy is a time of great dependence. Nevertheless babies should be allowed to do things for themselves from the very beginning.”
2. Onafhanklike of vrye speel beteken kleintjies moet alleen speel.
Een van die groot voordele van vrye, onafahanklike spel vir ons as ouers is dat ons ons kleintjies dan vir rukkies alleen kan los. Jy kan vining badkamer toe gaan, aandete maak, die wasgoed ophang, watookal. Maar dit beteken nie onafhanklike spel vind slegs plaas as kleintjies op hulle eie is nie. Een van my beste wenke oor hoe om jou kleintjie aan te moedig om onafhanklik te speel is om net by hulle te wees. Ek gryp soms ‘n boek en lê en lees terwyl my kinders om my blokkies bou. Ek dikteer nie hoe en wat hulle speel nie, ek begin nie gesprekke nie, maar ek is daar!
3. Speel beteken hulle moet besig wees om met iets te speel.
Argumenteerbaar van die ‘beste’ tipe spel, lyk baie onproduktief. Dagdroom, ronddraal of stories vertel en opmaak, is net so belangrik soos om byvoorbeeld ‘n duplo huis te bou. Jou kinders hoef nie besig te wees met iets spesifiek nie. Verbeeldingsvlugte en niksdoen is net so goed vir hulle breintjies. Jy hoef nie in te hardloop en hulle iets te gee om mee te speel nie.
4. Ek moet my kinders vermaak.
Jy was al 3, en 4 en 5 en 10 en 12. Jy het tóé gespeel en hoogs waarkynlik lekker gespeel! Dit is nou jou kinders se werk (en beurt) om te speel.
Ek sê nie jy gaan nie soms saam met hulle speel nie. Stoei, balskop, teepartytjies hou, is alles lieflike aktiwiteite om saam met jou kinders te doen. En ek sal jou aanmoedig om dit saam met jou kinders te doen! As jou kleintjies nog jonger is gaan jy waarskynlik meer saamspeel. Jy gaan meer moet help om aktiwiteite ‘op te stel’ Jy gaan help die fort bou, klei aan maak en pieknieks uitpak. Maar jy is nie veronderstel om jou kinders elke oomblik van die dag te probeer vermaak nie. Dis nie jou werk om speletjies uit te dink en seker te maak jou kinders is nie verveeld nie. ‘n Verveelde kind het ‘n goue geleentheid om sy kreatiewe denke te oefen. En, soos alles in die lewe, hoe meer jy jou kinders toelaat om self hulle speletjies uit te dink, hoe beter word hulle daarin.
5. My kinders het my aandag nodig terwyl hulle speel.
Soms as my kinders baie lekker op hulle eie speel en dit hou al vir ‘n rukkie aan, het ek die drang om in te loer en net iets te sê. Soos, ‘waarmee speel jy?’ of ‘Wat maak jy?’ Jy weet, net sodat hulle weet ek het hulle nie vergeet nie? Sodat hulle weet ek gee nog aandag. Maar in werklikheid onderbreek ek eintlik hulle gedagtegang en konsentrasie. Sodar jy onderbreek en jou insette gee, word dit dadelik weer eintlik ouer-gedrewe spel. As jou baba gelukkig en tevrede vir iets staar of met iets speel, beteken dit nie hulle voel afgeskeep nie. ‘n Goeie reël is om nie jou kind te onderbreek tot hulle nie oogkontak met jou maak nie. Onthou, jou baba weet hoe om vir aandag te vra en sal jou vinnig-vinnig laatweet as hulle jou nodig het!
6. My baba hou nie daarvan om te speel nie want sy huil as ek haar neersit.
Om op jou rug te lê is eintlik ‘n baie goeie posisie om in te speel. Babas het vryheid en beweeglikheid in hierdie posisie. Daar is geen rede om te dink hierdie posisie is nie gemaklik vir jou baba nie. So as jou baba altyd huil as jy haar neersit kan dit vir een van die volgende redes wees:
Sy is skielik en vining neergeplons of jy as ouer loop dadelik.
‘n Babatjie wil nie voel sy word iewers neergeplons nie en gelos nie. Gesels met haar as jy haar neerlê en sê vir haar wat volgende gaan gebeur. Jy kan haar op jou skoot hou vir ‘n rukkie of langs haar lê en speel tot sy rustig is. Ek staan gewoonlik eers op om iets anders te gaan doen as my dogtertjie rustig en tevrede speel. Ek bring soms iets om te doen terwyl hulle speel. Ek sal byvoorbeeld ‘n bondel wasgoed langs hulle sit en opvou of sommer my strykplank opslaan en in die sitkamer stryk. Ek is dan steeds naby, maar nie besig om te dikteer hoe hulle speel nie.
Sy is gewoond om in iets te wees.
Ons as ouer skep partykeer ‘n situasie waar ons kinders nie neergesit wil word nie omdat hulle gewoond is daaraan om regop in ‘n loopring of ‘jumper’ gesit te word. Dan dink ons ons kinders hou nie daarvan om op die vloer te speel nie, maar ons het hulle nog nooit regtig die kans gegun nie. Probeer om nie jou baba gewoond te maak aan ‘n sekere posisie sodat hulle in geen ander tevrede is nie.
Nou ja toe, ek wens jou kinders lang en gelukkige ure van speel toe!
Liefde,
Renate
(foto: Brina Blum op Unsplash)