Mens leer so baie met jou eerste baba. Maak nie saak hoe voorbereid jy is op jou eerste spruit nie, jy is nooit voorbereid genoeg om alles te weet nie! Jy kry boonop nog so baie raad (waarvan meeste mekaar weerspreek) en dit vat ‘n rukkie om die raad te sif en jou eie ouerskapstyl te ontwikkel.
Daar is ‘n paar dinge wat ek nou anders doen met my tweede baba, maar daar is ook ‘n paar dinge wat ek met my eerste baba gedoen het, en nou WEER met my tweede baba doen!
So hier is 3 dinge wat ek met my tweede baba weer doen!
Nommer 1 : Baby-led Weaning
Man, hoe langer ek ‘baby-led weaning’ doen hoe maller is ek daaroor. Ek het met my 1ste swangerskap iewers raakgelees oor ‘baby-led weaning’. Ek het besluit om dit te probeer, omdat dit vir my oulik geklink het. Ek het van die filosofie daaragter gehou en die voordele het vir my sin gemaak. Maar dit was meer ‘n eksperiment as enigiets anders. Maar, vandag is ek ‘n absolute voorstander. Ek wil amper so ver gaan en sê dat elke mamma en baba een of ander vorm daarvan moet probeer. Selfs al wil jy begin met purees, sou ek voorstel dat jy ook vingerhappies vir jou kleintjie gee. Stoom ‘n wortel, skil ‘n piesang, of laat jou kleintjie aan ‘n aarbei suig. Maak nie saak wat jy gee nie, solank jy net soms geleenthede skep waar jou baba self kan probeer om kos vas te vat, vas te hou, en met hand-oog koordinasie dit na sy mond toe te bring.
Nommer 2: Baba-gebaretaal.
Hier moet ek vir my man dankie sê. Hy het voorgestel dat ek baba gebaretaal vir ons oudste seuntjie leer. Van die tipiese tekens wat mens vir jou kleintjie leer is ‘nog’, ‘alles klaar’, ‘water’, ‘melk’ of ‘dankie’. Mens kan enigiets leer maar dis die mees algemene woorde. Dit bemagtig ‘n kleintjie wat nog nie kan praat nie, om te kommunikeer wanneer hulle dors of honger is en kos of water wil hê. En uhmm.. ek het gedink dis ‘n simpel idee. As jou kleintjie die teken vir ‘nog’ met hulle handjies kan doen, sal hulle dit seer sekerlik al kan sê ook?
Nope, ek was verkeerd, hulle leer die gebare vinniger aan. Regtig! Hulle kan die gebare maak nog voor hulle kan praat. Vir kindertjies wat lekker vroeg al kan praat, hou dit dalk net ‘n maand of twee, maar vir meeste kinders is dit vir ‘n goeie 6 maande na ‘n jaar toe handig. En my seuntjie het die gebare gebruik selfs toe hy al kon praat. En dis so vrek oulik as jou kleintjie ‘nog-nog’ met hulle handjies wys. My seuntjie het baie aan my sy kom trek en die teken vir water gemaak. Dink net hoe hard sou die arme ding moes probeer om vir sy ma te laat verstaan hy is dors, sonder gebare.
En ons doen regtig net die basiese gebare (soos bo genoem). Ek is seker sommige mense gaan meer in diepte in, en leer hulle kleintjies verskeie woorde. Jy kan self besluit hoe baie of min gebaretaal jy vir jou kleintjie wil aanleer.
Nommer 3: Vroeë potty training.
My dogtertjie is nou 8 maande oud en ek kan nie onthou wanneer laas ek ‘n vuil doek omgeruil het nie. Elke oggend as ons wakker word sit ek haar op die potjie vir ‘n rukkie en dan is sy klaar vir die res van die dag. Sy het uit die aard van die saak nog piepiedoeke, maar doekomruil is ‘n plesier. Ek hoef nie te wonder ‘het sy nou haar doek vuil gemaak’? en die hele loer-elke-nou-en-dan-in-haar-doek-ding te doen nie. Ek is die eerste een wat sal toegee dit jou opinies verander met die jare. Iets waarby jy hoog en laag gesweer het laasjaar, doen jy dalk nou anders. Dus is daar verskeie dinge wat ek nog moontlik anders kan doen met my volgende kinders, maar ek sien geen rede hoekom ek nie vroeë potty training sal probeer nie. Hoekom sal ek aanhou vuil doeke omruil tot op 2 of 3, as ek op 7 of 8 maande kan ophou? Ek dink dit moet baie lekker vir ‘n kleintjie ook wees om vroeër eerder as later van die doeke af te wees.
Is daar ‘n spesieke ding of ouerskapstegniek waaroor jy mal is? Of iets wat jy met jou baba gedoen het wat jy weer en weer sal kies?
Liefde,
Renate
(foto: Travis Grossen op Unsplash)