Dae met kleuters en kleintjies is nie altyd voorspelbaar nie, maar nogtans probeer ek ‘n punt daarvan maak om seker dinge wel met hulle te doen. Party dae reën dit heeldag of sommige dae in ons te lank in die winkels en ons kom nie by alles uit nie, maar 9 uit 10 dae, doen ons dit wel.
1. Ons speel buite
Ek maak ‘n punt daarvan om elke dag buite te speel saam met die kinders. Tensy die weer regtig onguur is, is ons meeste dae vir ten minste ‘n uur buite. Sommige dae langer.
Hier is vir jou ‘n paar idees om dit makliker te maak om buite te kom:
- Pak teetyd in ‘n mandjie en gaan piekniek buite. Dit gee my iets om buite te doen en dit is gewoonlik weersgewys, ‘n lekker tyd van die dag.
- Ek hou ons piekniekkombers en ‘n lekker buitekussing op die stoep sodat ek dit maklik kan optel soos ek uistap.
- Vat een van jou kleintjie se gunsteling aktiwiteite saam buite toe. As hy vra om blokkies te speel sê: “Dis ‘n goeie plan, kom ons gaan speel sommer op die piekniekkombers.”
- So terloops, as jy ‘n pasgebore babatjie het, gaan doen magietyd in die tuin! Hulle geniet dit soveel meer!
2. Ons kry son op ons velletjies.
Vitamien D tekort is so algemeen in vandag se tegnologie-belaaide samelewing. Kinders en volwassenes spandeer die oorgrote meerderheid van hulle dag binnenshuis en selfs as hulle buite is, maak klere hulle van kroontjie tot toontjie toe. In die wintersonnetjie is die temperatuur lieflik! Jy kan gerus met ‘n kortbroek en hemp sit. Genoeg Vitamien D help jou lyf om kalsium te kan absorbeer, wat belangrik is vir been gesondheid, beide vir mamma (vrouens is meer geneig tot osteoporose) en jou kinders (hulle bene groei nog). Dis veral belangrik as jy borsvoed of swanger is. Dit verlig jou bui, verbeter jou gemoedstoestand en gee jou energie. Jou imuunstelstel leuen ook swaar op Vitamien D. Ons het dit veral nou met die pandemie gesien. Mense met hoër vlakke van Vitamien D het gevaar. As jy en jou gesin baie gereeld siek is, is ‘n goeie vraag om jouself te vra: “Kry ons genoeg son in?”
- Ek sorg dat die kinders min genoeg klere aan het dat die filterson op hulle kaal armpies/beentjies kan skyn.
- Ek kies gewoonlik een doekomruilsessie wat ek sommer met sussie in die tuin doen. As sy wakker word en klaar gevoed het, vat ek die doek en boudlappies saam buite toe, trek vir myself ‘n kortbroek aan (sodat ek ook son kan kry) en ruil sussie se doek buite om. Ek trek my seuntjie se hemp uit en ek wag so 5 of 10 minute voor ek sussie se nuwe doek aansit sodat haar boudjies lekker kan son kry.
3. Ek inkorporeer hulle in ‘n huistakie.
Die insidensiële leer wat plaasvind tydens opruim of kosmaak is enorm! Sonder dat jy dit eers besef, leer jou kind by jou terwyl julle takies doen. Dink byvoorbeeld aan die ruimtelike orientasie wat aangeleer word tydens opruim of wasgoed was. “Kry vir mamma die blokkie TUSSEN die banke.” “Gooi die wasgoed BINNE-IN die wasmasjien.” “Sit die kussing BO-OP die stoel.” Konsepte soos vorms en kleure. “Oe jy het een blokkie gemis, kyk daar lê nog ‘n ROOIE.” Of kosmaak. “Kyk, mamma sny die wortels in die HELFTE. Dis nog te groot, sny die aartappel KLEINER.” “Gooi tot die koppie VOL is.” “Roer tot die deeg GLAD is.”
4. Ons lees boek.
Man, party dae lees ons sommer 15 boeke. En gewoonlik 1 boek soveel keer oor en oor dat ek al moeg word daarvan. Maar het jy geweet dit is eintlik baie goed vir kinders se ontwikkeling om boeke oor en oor te lees? Kinders leer tog deur herhaling. Hulle hoor woorde en konsepte oor en oor, dus verbeter dit hulle uitspraak van daardie woorde en begrip van konsepte. Hulle geheutjies word gestrek en hulle geniet die self-vertroue van om te weet wat in die boek aangaan. Lees maar gerus daardie boek weer en weer. In ons huis lees ons nou so ‘n verflenterde, negendehandse boek (ek weet nie eers waar ons die boek ge-erf het nie) met die naam Matthys die speurdermuis. En ek voel my seuntjie kon gerus enige ander gunstelingboek gekies het, want Matthys die speurdermuis het nou nie die beste van storielyne nie. Maar wel, ek lees maar gelate.
5. Ons gee fisiese uiting aan liefde.
Daar is niks soos fisiese aanraking wat endorfiene afskei nie. En fisiese spel soos stoei en kielie het tienduisend ander voordele. (jy kan hierdie vorige bloginskrywing van my lees as jy wil.) Iewers deur die dag stoei ons, kielie ons, ek blaas op hulle magies, vang hulle, gooi hulle in die lug, jaag hulle watookal. Sorg net dat julle iets spelerigs doen waar julle aan mekaar raak. Dis beide vir seuns en dogters belangrik dat veral pappas so met hulle speel. Veral omdat mamma gewoonlik heeldag (of meer) by hulle is, en baie vir hulle vertel hoe lief sy hulle het. Laat Pappa hulle betjie karnuffel as hy tuis kom na werk.
Lekker speel!
Liefde, Renate