Ek het laas op my stories so baie vrae gekry oor lapdoeke en van die vrae is net te lank om op IG stories te antwoord. Ek het dit goedgedink om sommer ‘n blogpost te maak, dan is dit ook maklik om later na toe terug te verwys.
Ek het met my eerste baba besluit om lapdoeke te gebruik en te danke aan Janasbabyboutique het ons sommer vroeg-vroeg met lapdoeke begin met my tweede babatjie.
Wat is lapdoeke?
Daar is ‘n groot verskeidenheid lapdoeke op die mark. Baie van ons dink nog aan lapdoeke as ‘n groot handdoek wat jy moet vou en met doekspelde vassteek. Deesdae se lapdoeke lyk al amper net soos ‘n weggoi doek en is net so maklik om aan te sit.
As jy glad nie lapdoeke ken nie, dink so daaraan, daar is altyd ‘n stuk materiaal wat absorberend moet wees en dan ‘n waterdigte buitekant. Mens kry sg. flats en prefolds wat met ‘n cover (waterdigte buitekant)gedra moet word. Hierdie is meer na die ou tyd se lapdoeke toe. ‘n ‘Flat’ is ‘n stuk lap wat jy vou en ‘n ‘prefold’ is vooraf vir jou gevou (vouwerk is minimaal) waaroor jy dan ‘n cover sit. Dan kry mens ‘pockets’, ‘all in one’s’, ‘all-in-two’s’. Hierdie doeke is vooraf reeds reg en jy kan hom net aansit. Dit is bietjie moeilik om net met woorde te verduidelik hoe elke doek lyk en werk. Hier het biddykins ‘n lekker blog oor al die verskillende lapdoeke wat ‘n mens kry met fotos en mooi verduidelikings. Klink net aan die kant op al die verskillende skakels. Pokkelokkie het hier ook ‘n inskrywing oor hoe lapdoeke werk! Ek het op my instagram stories ook gedeel hoe lyk die wat ek het. Ek sal dit stoor in ‘n ‘highlight’.
Wat gebruik ek?
Ek gebruik meestal ‘pocket’ lapdoeke. Die maak wat ek het is Biddykins. Die grootte is OSFM (one-size-fits-most) Ek kan eerlikwaar nie oor die ander handelsmerke kommentaar lewer nie omdat ek dit nie het nie. Ek het die biddykins geskenk gekry op my ooivaarstee en het nie nodig gehad om by te koop nie, so ek het nie. Ek sou graag ander make ook wou probeer, maar het nooit nodig gehad nie. Ek het drie waterdigte oortreksels (covers) met prefolds wat ek ook gebruik!
Hoeveel het jy?
Ek het 20 Biddykins pockets.
Hoe kry ‘n mens lapdoeke skoon?
Wasmasjien! Jy gooi dit letterlik in die wasmasjien. So maklik soos dit! Jy gebruik ook gewone wasseep, maar kan nie versagmiddel gebruik nie omdat dit in die doeke opbou en dit minder absorberend maak.
Borsmelk is wateroplosbaar so vir die eerste 6 maande gooi jy letterlik jou nat of vuil doek, net so in die was. Jy hoef hom nie af te spoel of enigiets nie en hy kom baie mooi skoon uit. Wanneer jou baba begin vastekos eet, word hulle stoelgange ook meer vas en dan kan jy dit nie net direk in die wasmasjien gooi nie. Baie mense installeer ‘n spuit by hulle toilet waarmee hulle dit net afspuit in die toilet in. Ek het sommer die doek omgekeer sodat dit in die toilet val en dan by die buitekraan so bietjie afgespuit en dan in die was gegooi. Onthou ook dat ek op 6 maande begin het om my seumtjie op die potjie te sit so ek het baie min vuildoeke omgeruil. Tusssen 65 en 75% van my seuntjie se nr 2’s was in sy potjie. Op ‘n jaar het hy omtrent glad nie meer nr2 in sy doek gedoen nie. So dit was nie vir my moeilik met lapdoeke nie, want die oorgrote meerderheid van die doeke wat ek gewas het was piepie doeke. ek dink die wassery is vir baie mense ‘n groot kopseer, maar daar is regtig niks aan nie. Jy was dit soos jy ‘n kledingstukkie sou was as ‘n doek perongeluk gelek het en die klere vuil gemaak het. Net gewoon!
Gebruik jy heeltyd lapdoeke? Wanneer het jy begin?
Ek het amper altyd lapdoeke gebruik. In die dag en in die nag. Die enigste tyd wat ek weggooidoeke gebruik het was tydens ‘n lang rit. Ons bly in Upington en my ouers in Pretoria so as ons afgery het Pretoria toe, het ek ‘n weggooidoek aangesit, want dan kan ek hom weggooi as ons stop. Ek hoef hom dan nie in die kar te hou nie. Met my seuntjie het ek ongeveer op ‘n maand en ‘n half vir hom die eerste keer ‘n lapdoek aangesit en tot en met 3 maande het ek lapdoeke en weggooidoeke afgewissel. Omdat ek net OSFM grootte doeke het, was sy lyfie nog bietjie klein vir die lapdoeke so ek het dit by die huis aangesit, maar as ons uitgegaan het, het ek ‘n weggooidoek aangesit. (op 3 maande was hy vol op lapdoeke).
Met my dogtertjie het Jana’sbabyboutique pas vir ons newborn grootte lapdoeke gestuur, waaroor ons so opgewonde is! Sussie het in die week vir die eerste keer ‘n lapdoek aangesit en ek is so bly ons kan so vroeg oorskuif lapdoeke toe. Dis die fraaiste, kleinste doekies en sit so lekker knus en gemaklik!
Wat is die voordele van lapdoeke?
Koste
Een van die grootste voordele is definitief die koste. Ek dink dit het omrent R1800 gekos vir al 20 my lapdoeke. Ek is nou op pad om dit met my tweede baba ook te gebruik. Dit beteken klaar dat doeke my R900 per kind uitwerk vir die hele tyd wat hulle op doeke is. As ek 4 kinders het en ek met al 4 lapdoek gebruik is dit R450 per kind. Dis omtrent soveel soos wat een en ‘n half pakke weggooidoeke kos. Jy kan self die sommetjie maak. Mens gebruik ongeveer tussen 6 en 10 doeke ‘n dag.
Omgewing
Uit die aard van die saak is dit ook baie meer omgewingsvriendelik. Hulle sê elke kind gebruik omtrent 2000-2200 doeke per jaar wat hulle op doeke is. As jy op 2 potty train beteken dit jy het 4500 doeke op die ashoop gegooi wat bydra tot besoedeling.
Brandboudjies
Omdat weggooidoeke sintetiese materiale inhet (wat help om die absopsie te vermeerder) veroorsaak dit baie keer brandboudjies. Kinders spandeer ook gewoonlik langer in weggooidoeke omdat jy dit nie so gereeld hoef te ruil nie. My seuntjie het nie een keer brandboudjies gehad nie.
Blowouts
Baie mense is huiwerig om die skuif te maak lapdoeke toe want hulle sê, ‘selfs weggooidoeke maak dat babatjies lek as hulle hulle doeke vuilgemaak het’. Dis juis andersom. Voor ek my eerste seuntjie gehad het, het almal my gewaarsku van sg ‘diaper blowouts’. Dit was half so iets wat met elke ma gebeur. Ek het nog nie een keer met lapdoeke dat my baba se vuildoek uitlek nie. Nog nie een ‘diaper blowout’ nie! Dis definitief ‘n groot voordeel van lapdoeke. Dit hou ‘n nr 2 baie beter binne in die doek.
Nadele
- Lapdoeke het nie dieselfde absorpsie as weggooidoeke nie, so jy gaan meer gereeld moet omruil. Ek het ook gevind as ek te lank wag om te ruil kan my baba se kleertjies begin nat word omdat sy lyfie se gewig teen die doek druk. (dis dan soos jy wat op ‘n klam handdoek sit. Jou klere gaan ook klam word.) Ek vind jy kan dit mitigeer deur gereeld doek te ruil. (voordat die doek oorvol is)
- Wasgoed. Jy het uit die aard van die saak meer wasgoed met lapdoeke as met weggooidoeke. Dit was nie vir my ‘n probleem nie. Ek gooi elke 2de of derde dag ‘n bondel doeke in die was. Ek was in elk geval gereeld wasgoed so een meer bondel pla my nie. Maar as jy min van wasgoed hou, is dit dalk iets om in ag te neem.
- Boudsalf. Dit was nie vir my ‘n nadeel nie, maar ek wil dit maar net noem. Jy kan nie boudsalf met sinkoksied in op jou baba gebruik met lapdoeke nie. Dit is omdat die sinkoksied ook in die doek opbou en nie mooi uitwas nie, wat weereens die absorpsie verminder. Dit beteken jy kan nie jou gewone ‘Bennets Bum Creme’ gebruik nie. Ek gebruik Purebeginnings of Oh-Lief. Vir my is dit in elk geval beter omdat dit skoner produkte is. Ek is in elk geval nie mal oor al die ‘nasties’ in jou gewne boudsalf nie.
Vir my was die voordele meer as die nadele. Ek voel ook lapdoeke hoef nie alles of niks te wees nie. Koop ‘n paar lapdoeke en kyk of jy daarvan hou, voor jy ‘n hele hoop koop. Of meng lapdoeke en weggooidoeke. Ek ken byvoorbeeld mammas wat in die dag lapdoeke gebruik en dan in die aand ‘n weggooidoek aansit? Hoekom nie? Doen dit soos dit vir jou die gemaklikste is.
Moenie bang wees vir lapdoeke nie. Op die internet is daar baie inligting beskikbaar, wat jou mooi behoort te help. Dis regtig eenvoudig deesdae. Jy gebruik gewone seep, en ‘n gewone wasmasjien.
Een ding is egter seker, of jy nou weggooidoeke of lapdoeke gebruik, jy gaan lekker baie doek omruil!
Sterkte 🙂