Ek het hierdie week ‘n aaklige ervaring met urienweginfeksie gehad. Wel, ek kan dit nie eintlik urienweginfeksie noem nie, dit het al opbeweeg na my niere toe so dit was tegnies nierontsteking (waar die pypies van die niere ontsteek.)
Ek het dinsdagoggend wakker geword in die na-nag met koue koors. Ek was presies 40 weke swanger. Ek het gelê en bewe, maar was vuurwarm. Hier teen 5 uur die oggend kon ek nie meer slaap nie, want ek was erg ongemaklik met rugpyn. Soos die oggend aanbeweeg het, het die rugpyn net erger geword en ek was naar. Omdat rugpyn een van die eerste tekens van kraam is, het ek eers gedink dit is dalk die begin van kraam en die koue koors en naarheid is dalk ‘n onderliggende siekte wat ek opgetel het. Ek onthou soos die rupyn erger geword het, het ek gedink “goeie griet, as hierdie net die begin van kraam is, sal ek dit nooit maak nie, dit was glad nie so seer met my eerste geboorte nie.”
Toe word my ma wakker (dankie tog vir ma’s). Toe sy hoor my simptome is koue koors, naarheid en rugpyn, het sy dadelik gesê, dit klink vir haar soos blaasinfeksie. Ek was baie skepties, “hoekom sal ek nou oornag blaasinfeksie kry?” Ek is nie geneig tot blaasinfeksie nie, het dit nog nie regtig ernstig gehad nie, en kon nie onthou dat ek simptome gewys het die vorige paar dae nie.
Maar gelukkig het ons uriendipstrokies by die huis en na ‘n vinnige toetse kon ons sien dat daar toe wel urienweginfeksie is.
Ons het my uriene ook weggestuur laborotorium toe en onder die mikroskoop kon jy sien dis vrot van die bakterieë!
Intussen wil ek, sonder om te oordyf, net die volgende noem. Dit was vrek vrek seer! Ek weet regtig nie hoe om dit oor te dra nie, maar ek kan nie aan ‘n erger pyn dink nie. Regtig, dis ‘n konstante pyn, wat jy onder geen omstandighede kan ignoreer nie. Daarby is jy dan nog koorsig en naar. Dit was regtig aaklig. As jy my vra wat ek eerder doen, kraam of nierinfeksie hê, sê ek vir jou, loshande kraam ek eerder! Kontraksies gee jou ‘n breek, jy het pyn en dan rus jy en die pyn gaan weg. Tweedens is dit ‘n baie produktiewe pyn. Jy weet elke pyn bring jou nader aan jou baba en daar is ‘n definitiewe eindpunt. Jou lyf skei ook hormone af om te help met pyn. Ga, niks van hierdie gebeur met nierinfeksie nie. Dis DIE HEELTYD seer, met geen verligting of eindpunt nie. Hoekom ek hierdie paragrafie insit is sodat jy vertsaan hoekom ek hierdie blogpost maak. Ek wens dit vir geen ander mamma toe nie en sal bly wees as dit net een ander mamma help.
In elk geval, lang storie kort, ek het vrek swaar gekry die hele dinsdag. Ek probeer sover as moontlik enige medikasie vermy tydens swangerskap. Ek selfs nie eers panodo vir ‘n kopseer nie, ek laat dit maar sy gang gaan. Ek vermy selfs onnodige medikasie al is ek nie swanger nie, en drink byvoorbeeld amper nooit antibiotika nie. Ek het direk na my oudste seuntjie se geboorte ook ligte blaasinfeksie gehad, dit was asimptomaties, maar my dokter het steeds antibiotika voorgekskryf wat ek nie geneem het nie. Ek kon maklik die blaasinfeksie dokter deur baie water te drink en suiker te vermy vir ‘n paar dae. Maar nierinfeksie kan langtermyn nierskade veroorsaak en dis nie iets om mee te speel nie. My ginekoloog het Urizone voorgeskryf. Dis ‘n enkeldosis antibiotika en blykbaar veilig vir swangerskap. Ek sou dit graag wou vermy, maar op die dit was nou nie beskore nie. Ek het dit dinsdagoggend omtrent 11 uur gedrink, maar steeds hondsleg gevoel die hele dag. Ek kon dinsdagnag nie slaap van die pyn nie en my koors het al hoe hoër begin word, wat ook nie goed is vir die babatjie nie. Ek het toe ‘n louwarm bad gevat en 2 panado’s gedrink. (weereens hartseer dat ek dit moes doen tydens swangerskap, maar ek weet panado’s is een van die veiligste paracetemols en ‘n mens moet ook die skade van 2 panado’s afspeel teen die skade van ‘n onsettende hoë koors)
Hier teen middernag was ek klaar stukke beter en het woensdag opgestaan met omtrent geen meer rugpyn nie. Ek het nog gevoel soos ‘n ou wat siek was die vorige dag. Jy weet as mens opstaan na ‘n siekte hoe pap ‘n mens voel? Ek het woensdag nog lekker baie geslaap en gerus, maar het was regtig nie meer baie siek nie en die pyn was omtrent weg. Daar was ook merkbaar minder bakterieë in my uriene, so die Urizone het sy werk gedoen. ‘n ‘Necessary evil’ soos my man dit noem. En vanoggend (Donderdagoggend) voel ek weer perdfris!
Opsommerdergewys het ek dus die volgende gedoen om die infeksie te beveg (onder leiding van my ginekoloog en vroedvrou)
- Baie, baie water gedrink
- 1x dosis Urizone
- 2x panado’s, plus ‘n louwarmbad vir die koors.
Ek het gedink ek wil graag hierdie blogpost maak, al help dit een mamma om nie so ‘n aaklige infeksie te kry nie.
Terloops:
- Urienweginfeksie in baie algemeen tydens swangerskap, spesifiek nader aan die einde toe. Dit is omdat daar meer hormone in jou lyf (en dus ook in jou uriene is) en die baba ook druk plaas op jou blaas wat dit moeilik maak om jou blaas volledig te ledig.
- Meeste urienweginfeksies behoort weg te gaan met konserwatiewe behandeling, m.a.w deur baie water te drink wat die blaas en bakterieë dan uitspoel. Vitamien C en bosbessie-ekstrak (cranberries) is ook natuurlike hulpmiddels. Antibiotika is nooit die eerste llyn vir nehandeling vir ‘n ongekopliseerde, ligte blaasinfeksie nie.
- Laastens, indien dit wel so ver vorder dat jy antibiotika moet gebruik, maak seker die antibiotika wat jou dokter vir jou gee is veilig vir swangerskap of borsvoeding. Dit is voor-die-handliggend en mens sou eintlik verwag dat jou dokter die verantwoordelikheid neem om seker te maak die middel is veilig vir jou. Maar met my eerste seuntjie het my dokter ‘ciprofloxacin‘ voorgeskryf wat kontrageindikeer is vir beide swangerskap en borsvoeding. Nodeloos om te sê, ek het dit nie gebruik nie en ook nie nodig gehad nie. Ek sal jou aanraai om maar die voubiljet te lees, voor jy enige middel gebruik.
My raad:
As jy nader aan die einde van swangerskap kom (tussen 36/37 weke tot en met die einde) hou in gedagte dat urienweginfeksie kan gebeur. Dis dan makliker om dit te voorkom en uit te kyk vir tekens. Volgende keer as ek swanger is, sal ek die volgende doen in die laaste 3 weke van swangerskap.
- Sny suiker uit! Ek het die Maandag ‘n hele pakkie lekkers verorber. (ek was BAIE kwaad vir myself. Geen lekkers of sjokelade, maak nie saak of dit goue sywurm gespinde lekkers of duur Belgiese truffels is, is daai pyn die moiete werd nie, asb glo my). Bakterieë groei op suiker, so as jy enigsins infeksie wil vergerger, eet suiker. En dis presies wat ek gedoen het. Ek moes al gesit het met ‘n ligte blaasinfeksie en toe voer ek mooitjies al daai bakterieë met ‘n lekker oordosis suiker en siedaar, die bakterieë vertrippel en ek sit met nierinfeksie. Mooi Renate.
- Toets gereeld jou uriene.
- Moenie simptome afmaak nie/wees op die uitkyk vir simptome van blaasinfeksie. Dis baie makliker om ‘n ligte blaasinfeksie te behandel as om te wag tot dit versprei! Die klassieke simptome van blaasinfeksie kan insluit pyn/brandsensasie tydens urinering, gereelde urinering, en/of krampe in jou lae buik of rug. Dis nie altyd so maklik om hierdie simptome raak te sien nie, veral nie teen die einde van swangerskap wanneer jy in elk geval gereeld badkamer toe gaan nie. As jy my gevra het of ek enige van hierdie simptome het, sou my antwoord nee gewees het. Maar in retrospek was daar ‘n paar tekens wat ek afgemaak het as ‘maar deel van swangerskap’, soos bv pyn in my lae buik. As ek meer bewus was van hoe algemeen hierdie infeksies is, sou ek meer aandag aan my simptome gegee het.
- Drink baie water! Dit help om jou blaas te ‘spoel’ van enige bakterieë.
- Kry ‘n paar natuurlike aanvullings wat help met die gesondheid van die urienwegstelsel. Ek drink nou bosbessie-ekstrak/bosbessiesap.
- Fokus op gefermenteerde produkte. Ek drink nou kefir of kombucha. Dis lewendig en bevat mikro-organismes (dit dien as ‘n tipe probiotika) wat die bakterieë in jou lyf neutraliseer.
- Nog ander raad oor hoe om urienweginfeksies te vermy, wat ek sommer van die internet afgekry het is: Maak seker jy maak jou blaas leeg as jy gaan piepie, onthou om na seksuele omgang te gaan piepie, vee af van voor na agter en moenie geparfumeerde produkte gebruik of ‘douche’ nie.
- Hierdie het nie noodwendig met die infeksie self te doen nie, maar ek het vir my ‘n baie goeie probiotika gekry, omdat ek antibiotika moes gebruik.
Ek is spyt ek het nie vroeër daaraan gedink dat dit so algemeen is nie. Dan sou ek nie so baie sjokelade en lekkers geeët het nie, meer ag geslaan het op vroeë tekens en meer gereeld my uriene getoets het.
Urienweginfeksies is algemeen selfs onder vrouens wat nie swanger is nie. Party vrouens is ook baie meer geneig daartoe as ander. Ek het dit nog net een keer, baie liggies, na my 1ste swangerskap gehad, en kon dit suksesvol sonder medikasie behandel. Maar bogenoemde raad werk, selfs al is jy nie swanger nie! As jy weet jy kry maklik blaasinfeksie, wees ekstra versigtig tydens swangerskap, veral aan die einde.
NS: Ek het ook gehoor dat blaasinfeksie die kraamproses kan laat begin, so ek is stomverbaas dat baba nog nie sy/haar opwagting gemaak het nie. Maar miskien is dit baie gaaf van baba om my net 1 nag te laat uitrus voor ek moet kraam. J Ons wag nog rustig vir baba aan hierdie kant en is baie dankbaar dat ek weer gesond is.
Ek hoop julle almal bly veilig en gesond!
Liefde
Renate