Montessori is ‘n aanslag tot kinderopvoeding wat fokus op die inherente dryf wat kinders het om te leer en ontwikkel. Dit respekteer ‘n kind se natuurlike manier van leer en moedig onafhanklikheid en vryheid aan. Dit is, in sy suiwerste vorm, kinder-gesentreerde leer en ontdekking.
Montessori is ‘n baie holistiese aanslag tot kinderopvoeding. Dit lê klem op die fisiese, sosiale, en emosionele welstand van ‘n kind en ag nie een aspek van ‘n kind se ontwikkeling belangriker as ‘n ander nie (dink byvoorbeeld aan die skoolsisteem met sy oormatige klem op akademiese leer). Die montessori metode van leer is byvoorbeeld bewus van die feit dat beweging en leer baie nou met mekaar verband hou. Hulle laat dus nie net beweging toe nie, maar sien dit as deel van leer. Dis hoekom jy baie min in ‘n suiwer Montessori kleuterskooltjie al die kinders op dieselfde tyd sal sien stilsit. Die Montessori metode maak baie staat op die kind se natuurlike belangstellings, vaardighede en nuuskierigheid en gebruik dit om leer te fasiliteer eerder as om op formele leer te fokus. Montessori glo dat ‘n kind self kan leer en ontdek as die omgewing dit toelaat. ‘n Onderwyser se werk is dus nie om ‘n kind se kop vol feite te stop sodat hy ‘n (arbitrêre) toets kan deurkom nie, maar om ‘n liefde vir leer en die vermoë om selfgedrewe te leer, te kweek. ‘n Onderwyser is dus ‘n fasiliteer en organiseerder van die leeromgewing, eerder as ‘n dosent. Vryheid binne perke word toegelaat sodat kinders self keuses kan uitoefen oor die aktiwiteite waarmee hulle besig is en hoe lank hulle dit gaan doen.
Waar kom die Montessori metode vandaan?
Die sogenaamde Montessori metode is in die 20ste eeu, deur die ‘n Italiaanse dokter en filosoof, Dr Maria Montessori, ontwikkel. Sy het kinders dopgehou en agtergekom dat ontdekkingsleer en leer deur ervarings kinders ‘n dieper verstaan van wetenskap, wiskunde, tale, sosiale norme en hulle eie lyfies se vaardighede gee. Sy het klem gelê op die natuurlike nuuskierigheid van die mens, en veral jong kinders, en hoe dit die dryfveer agter leer is. Sy het die metode ontwikkel om ‘n brug tussen die kind se belangstellings en beskikbare aktiwiteite te wees.
As mens verstaan en glo dat ‘n kind inherent wil ontwikkel en leer, en self weet wat om te doen om te leer, verstaan mens hoekom die Montessori metode vrye spel so hoog ag. Speel die kind se natuurlike manier van ontdek, en ‘n mens kan dus met groot selfvertroue hulle toelaat en aanmoedig om net te speel. Soos Dr. Montessori gesê het: “Play is the work of a child.”
Die Montessori metode hink op ‘n paar beginsels, wat insluit:
1. Respek vir die kind
Onthou dat respek vir kinders ‘n relatiewe nuwe konsep in die 20ste eeu was. Respek vir die kind laat ‘n kind byvoorbeeld toe om op sy eie tempo te leer en ontdek, om nie die kind te onderbreek terwyl hy konsentreer nie, en om hom toe te laat om self besluite te neem en onafhanklik takies te verrig.
2. Die absorberende brein
Die Montessori metode neem in ag dat die eerste 5 tot 7 jaar van ‘n kind se lewe, kardinaal is vir hulle ontwikkeling. Kinders is soos sponsies en die konstante leer wat tydens hierdie tyd plaasvind moet nie misken word nie. Montessori stel dit dat kinders heeltyd besig is om te leer, selfs bloot net deur te leef. Hulle is konstant besig om inligting in te neem deur hulle sintuie en verwerk dit omdat hulle denkende, lewende mensies is.
3. Sensitiewe periodes vir leer
Dr. Maria Montessori het geglo dat daar sensitiewe periodes is om sekere vaardighede aan te leer (bv. skryf). Hierdie periodes verskil van kind tot kind en hou net so lank aan as wat die kind vat om die vaardigheid aan te leer. Deur ‘n kind dop te hou behoort ‘n ouer of onderwyser hierdie periodes te kan identifiseer en die omgewing so te struktureer dat hierdie leer kan plaasvind.
4. ‘n Voorbereide omgewing
Die omgewing waarin ‘n kind homself bevind is uiters belangrik om leer te fasiliteer of inhibeer. Montessori metode stel voor dat kinders op hulle beste leer wanneer die omgewing vir hulle voorberei is. Die omgewing moet homself daartoe leen dat kinders dinge vir hulleself kan doen (dink byvoorbeeld aan ‘n tafeltjie met ‘n waterhouer en kraantjie waar kinders self water kan gaan haal.) en verskeie materiale kan ontdek.
5. Self-leer (Auto-education)
Seker die belangrikste onderbou van Montessori-leer is die geloof dat ‘n kleintjie homself kan leer. Ouers en onderwyser moet dus nie oorneem en kinders in sekere aktiwiteite indwing nie maar eerder, met leiding, die kind toelaat om homself te leer. Sodoende skep ons ook die fondasie vir lewenslange, self-gedrewe leer.
6. Onafhanklikheid en ontdekking
Omdat elke kind verskil, neem Montessori in ag dat elke kind anders gaan leer. Kinders word dus aangemoedig om hulleself te verdiep in wat hulle boeiend vind en om self hulle omgewing, verskillende materiale en aksies en reaksies te ontdek.
The goal of early childhood education should be to activate the child’s own natural desire to learn.
Montessori kan soms wollerig voel en veral vir ons Afrikaanse mense wat relatief streng grootgemaak word, klink dit soms verregaande.
Dit is regtig eintlik net ‘n denkstroom wat besef dat ‘n kind inherent gemotiveer is om te leer en ontwikkel en dus nie ‘n oorgestruktureerde omgewing en konstante insette van ‘n ouer of onderwyser nodig het nie.
As Arbeidsterapeut vind ek baie aanklank by die sogenaamde Montessori metode omdat ek kinderontwikkeling ook so verstaan. Ons skoolsisteem is nie opgestel met die kind se beste belang op die hart nie. Ons gebruik byvoorbeeld hopleoos te min beweging tydens skool terwyl dit die maklikste manier is vir ‘n brein om te leer. Jy hoef nie eers hierdie metode ‘montessori’ te noem nie, of dit slaafs na te volg nie. Deur slegs jou kind dop te hou en hom toe te laat om sy belangstellings te volg, is jy tegnies besig om ‘n Montessori beginsel uit te leef.
Montessori voorskool (dink 0-3 jaar) probeer tipies die volgende vaardighede en gedagtes by ‘n kleintjie tuisbring:
- Vertroue in die wêreld en die omgewing om hulle
- Selfvertroue in hulle eie vaardighede
- Onafhankliheid in takies van daaglikse lewe (eet, aantrek, opruim)
- Ontwikkeling van groot-en klein motoriese, sowel as taalvaardighede,
Hoe lyk Montessori in ons huis?
Ek is geen Montessori expert nie en doen nie alles volgens die boek nie, maar inkorporeer die volgende:
- Ons probeer dinge wat my seuntjie baie benut, maklik toeganklik vir kom maak. Sy bakkie, lepel, vurk, bord is dus in ‘n lae laaitjie waar hy dit self kan gaan haal vir ete. Dit laat hom toe om te help dek, opruim en verantwoordelikheid vat vir sekere takies in-en om die huis.
- Ons moedig onafhanklikheid aan. Sy klere is in laatjies waar hy dit self kan gaan haal. Hy word toegalat om self water of melk in te gooi of self te eet ens. Ons probeer om nie iets vir hom te doen wat hy self kan doen nie.
- Ons laat hom baie speel en onderbreek hom nie wanneer hy duidelik lekker sit en speel nie. Ons laat hom ook sy natuurlike belangstellings volg en rig die omgewing so in dat hy kan homself kan verdiep in ‘n speletjie as hy wil. Ons speel baie saam met hom, maar probeer om nie die middelpunt van ‘n aktiwiteit te wees nie. Dink so daaraan: Jy wil hê jou kind moet steeds kan aanhou met die aktiwiteit al is jy nie meer daar nie. Dit help nie jy is so kardinaal tot ‘n aktiweit dat dit nie sonder jou kan aangaan nie.
- Ek vertou my kind (binne perke) om sy eie besluite te maak oor hoe hy sy lyfie beweeg. Kinders kweek ‘n liggaamlike bewustheid en klim en klouter nie sommer op plekke waar hulle nie gemaklik kan op en af nie.
Ek hoop dit gee jou bietjie agtergrond oor waaroor die Montessori metode gaan. Ek sal probeer om Instagram meer voorbeelde te deel van ons opset. Montessori is nie ‘n alles of niks nie en ek dink mens kom ver deur net een of twee goedjies in jou huis te verander en sodoende jou kleintjie op te stel vir sukses in die allerdaagse lewe.
Liefde, Renate