Betrokke pa’s het ‘n groot invloed op omtrent alle merkers van ‘n kind se welstand. Pa’s wat betrokke is in hulle kleintjies se lewens se kinders is 39% meer geneig om goed te doen op skool. 60% minder geneig om geskors te word, hulle het ‘n 45% minder kans om ‘n graad te herhaal, 70% minder geneig om ‘n tienerswangerskap te hê en het ‘n 80% laer kans om in die tronk te beland.
Ons weet betrokke pa’s se seuns wys laer vlakke van aggressie en hulle dogters is minder promisku. Pa’s het ‘n baie groot invloed op kinders se selfwaarde en selfvertroue. Navorsing wys dat betrokke pa’s se kinders beter kognitiewe, emosionele, taal en sosiale vaardighede het!
Maar selfs betrokke pa’s voel baie keer oorbodig in die eerste paar maande of selfs eerste jaar of 2 van ‘n kleintjie se lewe. Dit wil soms voorkom of babas eintlik net hulle ma’s nodig het. Baie pappas dink. ‘as hulle ouer is gaan ons vrek lekker speel, maar vir nou is my rol relatief klein.’ Dit is waar dat mamma ‘n groot en belangrike rol tydens baba se eerste paar maande en jare speel, maar moenie jou rol as pa onderskat nie. Meer en meer navorsing wys dat pappa se interaksie met ‘n klein babatjie, LATER ‘n enorme impak het. Dit lyk dalk vir jou asof jy nou niks doen nie, maar jou kleintjie pluk later die vrugte van jou betrokkenheid tydens hulle vroeë baba-en kinderjare. En een van die maklikste maniere wat jy en jou baba tyd saam kan hê, is deur fisiese spel. En dit kom gewoonlik baie natuurlik vir pappas (ek reken meeste doen dit sonder om daaroor te dink)!
Oor die algemeen is pa’s minder betrokke by meeste aspekte van kinders grootmaak. BEHALWE as dit kom by fisiese spel. Navorsing het gewys dat die grootste gedeelte van pa’s se interaksie met hulle kleintjies in die vorm van spel is, meer spesifiek rowwe/fisiese spel (rough and tumble play).
Fisiese spel met pappa
Pa’s en ma’s se interaksie tydens spel verskil. Pappas is geneig om meer onvoorspelbaar, fisies en ‘rof’ te wees in hulle spel. Mammas is gewoonlik meer versigtig, doen meer verbeeldingsspel (pretend play) of gebruik meer speelgoed/objekte.
Selfs wanneer mammas en pappas dieselfde aktiwiteite met hulle kleintjies doen, verskil dit. Pappas wat boeklees of met speelgoed speel, terg meer, is meer fisies en praat minder in vergelyking met ma’s.
Ek het ‘n hele blogpost oor die fantastiese voordele van fisiese spel. Lees hier! Maar hier is ‘n paar voordele wat baie te doen het met pappas omdat hulle manier van doen anders is!
- Dit blyk of kinders oor die algemeen fisiese spel met hulle pa’s meer geniet. Pa’s se spel is opwindend en verrassend. Hulle kielie, maak hulle kinders skrik, hardloop om die hoek, gryp hulle en gooi hulle in die lug.
- Hierdie tipe spel kan ‘n kleintjie momenteel van stryk bring/ verras maar pappas behou gewoonlik ‘n gevoel van veiligheid en sekuriteit vir die kinders.
- Rowwe spel, spesifiek met seuntjies, help hulle om hulle aggressie en emosies te leer beheer.
- Dit help kleintjies om die balans tussen aggressie en teruggetrokkenheid te leer.
- Tydens fisiese spel, help pappas kleintjies om inisiatief te neem, probleemoplossing te ontwikkel, te ontdek en kanse te vat. Pa’s is ook meer geneig om kinders aan te moedig om fisies hulle grense uit te daag. Om vinniger te hardloop, hoër te spring, verder te gooi.
- Dit help kleintjies se kognitiewe en taal-vaardighede.
- Kinders wat goeie kwaliteit spel met hulle pa’s het, wys minder emosionele-en gedragsprobleme op skool.
- Studies het gewys dat kleintjies wie se pa’s meer met hulle gespeel het op 14 maande, beter gedoen in kognitiewe take op 24 maande.
- ‘n Ander studie het gewys dat daar ‘n positiewe korrelasie is tussen kleintjies se kognitiewe ontwikkeling op 2, en hulle interaksie met hulle pa’s op 3 maande. So dis nooit te vroeg nie!
- Pappas kan help dat hulle kleintjies meer selfvertoue, selfstandigheid en selfbeheersing ontwikkel. (deur fisiese spel)
- Kinders wie se pa’s meer spelerig met hulle was, het ‘n groter woordeskat op 5.
Net soos pappas en mammas verskil, verskil dogtertjies en seuntjies ook.
- Seuntjies is geneig om meer deel te neem aan rowwe spel, en teen ‘n hoër, intenser pas.
- Seuns se fisiese spel is meer kompeterend, aktief, aggresief en geskoei op herargie as dogtertjies. (net hierdie punt wys vir my hoe belangrik dit is dat pappa met sy seuntjies speel en nie net mamma nie)
- Dogtertjies het gewoonlik meer komplekse stories en taal agter hulle stories. Dogtertjies se stories gaan oor versorging en om iemand/iets veilig te hou en seuntjies s’n oor bakleiery en sterkte.
- Die dinamika verander ook en word nog meer kompleks as beide geslagte saamspeel. Die seuntjies is gewoonlik een of ander paaiboelie en moet die dogtertjies jaag.
Wenke vir pappas oor fisiese spel
- Probeer om meer dae as nie, vir ‘n kort rukkie met jou kleintjie fisies te speel. Of dit nou peek-a-boo is met ‘n heel kleintjie of stoei of wegkruipertjie met jou 2-jarige.
- Maak seker die omgewing is veilig en gekontroleerd.
- Kyk uit vir tekens van frustrasie. Help jou kleintjie om sy grense uit te daag sonder om hom te frustreer.
- Onthou dat jy indirek sekere boodskappe oordra aan jou kind terwyl julle speel, soos; ‘Pappa geniet dit om saam met jou te speel en lag.’ ‘Al is ek sterker as jy, kry jy ook die geleentheid om te ‘wen’ of oorheers,’ ‘Ek is sterk, maar speel sag en beheersd met jou.’
- Jy is ook besig om indirek vir jou kinders te leer dat speletjies reëls het, (nes die samelewing) en dit is hoekom ons ophou as jy byt of te opgwonde raak dat jou stoeiery seermaak.
- Ons leer om ons opgewondheidheid te beteuel en nie seer te maak omdat ons oorgestimuleer/te opgewonde is nie.
- Dit beteken nie ‘n pappa moet net fisies met sy kind speel nie, glad nie. Juis omdat pappas spel so anders benader as mammas is dit baie voordelig om deur die hele speelrepetoire met jou kind te gaan. Verbeeldingsspel, boeklees, noem dit op. Dit is maar net so, dat ‘n groot gedeelte van pa’s se spel, meer fisies is.
Wenke vir mammas (met betrekking tot fisiese spel)
- Los jou man en jou kind om te speel. Byt jou tong as jy wil sê; “jy gooi haar te hoog.” “Nee dis te rof.” “Wag, stadig nou.” Jou man is ook ‘n volwassene en behoort die grense van spel te ken of leerken.
- Onthou dat fisiese spel ‘n groot rol speel om ‘n verhouding te bou tussen jou man en kind. (veral met seuns). Hierdie verhouding moet groei soos wat die jare aangaan sodat jou kind gemaklik is om met sy pa oor alles te gesels.
- Gun jou man en kinders tyd met mekaar en skep tyd en geleentheid sodat hulle kan speel. Dalk terwyl jy kosmaak?
Wenke vir mammas (oor die algemeen, van net na geboorte af)
- Dit is hoogs waarskynlik so dat jy jou baba gemakliker vashou as jou man of makliker wind of beter bad. Maar onthou dat jy hierdie babatjie al vir 9 maande dra en meer tyd saam met jou baba spandeer. (jy het kraamverlof en jou man nie). Moenie die heeltyd jou man reghelp nie. Ek sal nie aanbied om iets te doen as iemand my heeltyd vertel hoe verkeerd ek dit doen of hoeveel beter hulle dit self kan doen nie. Gun vir pappa tyd om ook gewoond te raak aan ‘n klein babalyfie en jou kind se persoonlikheid en manier van doen. Laat hulle hulle eie ritme ontwikkel.
- Jy kan selfs ‘n aktiwiteit soos bad, of slaaptydstories lees, heeltemal aan jou man oorgee. En ek bedoel heeltemal. Gebruik jou man te min room? Is jou baba se pajamapakkie onderstebo? Lees hy die boek te vinnig/stadig? Los dit, hulle is besig om ‘n verhouding te bou wat voordelig is vir ALLE partye.
Die manier hoe mammas en pappas met hulle kleintjies interaksie het, verskil. Ek is mal oor die verskillende dinamika en energie wat ek en my man na die tafel toe bring. Dis vir my die mooi van God se bloudruk vir die gesin. Hoe daar definitiewe verskille is en hoe ‘n babatjie altwee nodig het en floreer deur albei te hê, maak nie saak wat die samelewing jou vertel nie!
PS: Onthou asseblief dat pappa deurentyd met vaderfiguur vervang kan word. Dalk is dit ‘n oupa of oom wat met jou seuntjies stoei!
Groete,
Renate
Marlien says
Dankie vir jou belangrike en positiewe boodskap. ‘n Betrokke Pappa is so belangrik van kleins af en Pappa en baba bou hul EIE verhouding. Ek sien dit met ons eie seuntjie (20 maande) ook, hy en pappa kort TYD saam, en belangrik, los hulle dat hulle op hul eie manier speel en dinge saam doen!
renate.arbs says
So waar! ‘n Pappa moet gegun word om ‘n verhouding te bou met sy kinders, sonder dat mamma oor hulle skouer loer!