Dis winter en koud en nat in baie dele van die land. Jy en jou kleuter werk op mekaar se senuwees. Hier is 9 prettige aktiwiteite om julle besig te hou.
1. Koop bordkrytverf en verf een area in die huis daarmee. As jy nie ‘n stuk in die huis het wat jy wil verf nie, kry ‘n goedkoop stuk hout, wat amper soos ‘n esel kan dien. Ons het ‘n afskortingtjie vir ons gasbottels gemaak sodat kleintjies nie daarby kan uitkom nie en dit toe met bordkryt geverf. Teken vir jou kleintjie prentjies en kyk of hulle dit kan herken. Vra hulle om te teken wat jy teken of gee hulle vrye teuels. Om staande te teken bou ook ‘n kleintjie se skouergordelspiere en uithouvermoë – wat weer later help met skryftakies op skool.
2. Dans! Kleintjies is mal oor dans en boonop is daar is baie voordele vir jou ook. Dit verlig stres en dien as ‘n goeie oefensessie. Sit ‘n bietjie musiek aan en dans in die kombuis. Of wag tot pappa by die huis kom en wys vir jou kinders hoe het julle gesokkie voor hulle nog daar was!
3. Sensoriese aktiwiteite. Bou die sensoriese tafel wat jy op my instagram te siene kry of vat sommer ‘n plastiek bak of 2. Gooi enigiets daarin! Boontjies, watte, jellie, diertjies en seep om die diere te was, enigiets! Hang af hoe maklik of moelik jy wil oprium.
4. Bak koekies saam! Probeer iets makliks soos grondbootjiebotterkoekies of hawermoutkoekies. Ek weet jy dink dit gaan ‘n groot gemors wees, maar geniet dit net.
5. Pak ‘n groot huishoudelike taak aan wat jy al lankal wou doen, maar nie by uitkom nie. Ons stort het lelik aangepak van al die kalk. Ek het vir my seuntjie ‘n tandeborsel gegee en hy het heerlik saamgewas. Dit maak nie saak as hy niks bydra behalwe seep op die strortdeur vryf nie. Hy word besig gehou en jy kry ‘n taak afgehandel.
6. Bou ‘n fort. Ag onthou jy nog die dae toe jy middernagfees gehou het by jou ouma se huis onder jou fort gemaak van lakens. Doen dit saam met jou kleintjies. Maak nie saak of jou baba 10 maande of 10 jaar oud is nie, almal sal dit geniet. Haal die kussings van die banke af en pak dit as trappe tot by die ingang van jou fort. (Dis baie goeie kruip-oefening vir jou kleintjie om oor al die kussing-trappe te klim.)
7. Hou ‘n bad-partytjie! Babas of kleuters kry omtrent almal ‘n stadium waar hulle nie mal is oor bad nie, en as jy nou in daardie stadium is, ek voel vir jou mamma. Ek was ook al daar. Maar meeste babas geniet dit om te bad. Sit ‘n verwarmer in die badkamer om dit lekker snoesig te maak en klim saam met jou kleintjies in die bad. Blaas borrels, bou plastiekblokkietorings, vang vissies. Gaan pluk roosblare in die tuin en gooi dit in die bad. Kry ‘n siffie en sif die blaartjies uit. Gooi room in die bad! My seuntjie spandeer ‘n goeie 15 minute om die stukkies room tussen sy vingertjies te probeer vang. Dis winter en hulle velletjies is in elk geval droog so dis ‘n baie lekker manier om te speel. Hierdie is veral ‘n goeie aktiwiteit as dit ‘n lang dag was en mamma en baba en kleuter is oorgestimuleer!
8. Hou piekniek in die sitkamer! Gooi ‘n piekniekkombers op die vloer uit en eet middagete piekniek-styl. Gesels oor die lewe en vertel vir mekaar stories.
9. Gee jou kind vrye teuels. Wat wil jou kleintjie doen? Wat is sy gunsteling aktiwiteit? Dalk wil jou dogtertjie ‘n teepartytjie hou. ( Dit ontwikkel verbeelding) Jou seuntjie wil miskien rofstoei op die mat. (Daar is soveel voordele – groot-motoriese vaardighede, sosiale vaardighede, propriosepsie ) Los alles anders en speel net. Jou ononderbroke aandag is so ‘n goeie manier om jou kinders besig te hou – en te stimuleer!