Wanneer ‘n babatjie tussen 9 en 12 maande oud is, vind daar baie groei en ontwikkeling plaas. Dit is gewoonlik wanneer ‘n baba begin loop of net voor hulle begin loop. Dit is ook ‘n vrek opwindende ouderdom omdat hulle meer vir hulleself kan begin doen, meer beweeglik is, en lag en gesels. (op hulle manier :))
Babas se bewegings is nou met ‘n einddoel in gedagte. Hulle het nie meer net onwillekeurige bewegings nie, maar elke beweging wat hulle uitvoer is geskoei daarop om iets reg te kry. Of hulle probeer ‘n speeding in die hande kry, vorentoe kruip, regop staan of ‘n treë gee.
Probeer dus jou baba se tyd in enige tipe ‘houer’ tot die minimum beperk. Dit geld vir bumbo-stoeltjies, loopringe, jolly jumpers. alles. Dit is altyd belangrik om nie jou kleintjie se beweeglikheid in te perk nie, maar des te meer as jou baba sy lyfie wil en kan gebruik.
Emosionele en Sosiale ontwikkeling
Iewers tussen 9 en 12 maande piek skeidingsangs. Alle aktiwiteite wat iets wegsteek en weer te voorskyn bring is ‘n goeie idee. (peak-a-boo en variasies)
- Sit ‘n speelding onder ‘n kombers en laat jou kleintjie hom soek.
- Kruip agter ‘n kombers weg en sê ‘boe’ as jy weer te voorskyn kom.
- Maak jou kleintjie met ‘n kombersie toe en haal weer die kombersie af.
- ‘n Ander aktiwiteit wat nie heeltemal ‘peak-a-boo’ is nie, maar baie lekker is om te doen is om 2 verskillende kleure koppies te kry. Sit dan, terwyl jou kleintjie vir jou kyk, ‘n rosyntjie of druif of klippie onder die een koppie. Kyk of jou baba vir jou wys onder watter koppie die klippie is!
Hulle persoonlikheidjies begin ook nou na vore kom en hulle toets reaksies. Hulle begin-begin jou in die oë kyk en presies doen wat jy gesê het om nie te doen nie! Onthou dat dit nie manipulerende of stout gedrag is nie, jou kleintjie is besig om te leer van reaksies en hy hou dop hoe jy optree. Hy leer ook van oorsaak en gevolg. Hoewel jou kleintjie die woord ‘nee’ begin verstaan, beteken dit nie hulle gaan luister nie. Bly konstant en laat hulle weet dat dit wat hulle doen onaanvaarbaar is, maar dit help nie om van jou kleintjie te verwag om die grense te handhaaf nie. Vat die objek waaaraan jy nie wil hê jou kind moet vat nie, weg, of verwyder jou kleintjie van die objek af. (bv. ‘n muurprop.) Op hierdie stadium is jy nog verantwoordelik vir die handhawing van grense.
Babatjies begin ook nou agterkom dat die baba in die spieël hulleself is. ‘n Spieël op die vloer of teen die muur kan baie genot verskaf.
Hulle begin ook nou basiese takies soos ‘handjies klap’ en ‘waai’ baasraak. Jy kan dit gerus aanmoedig.
Hoewel speelgoed interessant is (veral raserige speelgoed), hou kleintjies op hierdie ouderdom nog die heel meeste van mense! So gebruik jouself soveel jy kan in spel!
Fisiese ontwikkeling
Jou baba kruip hoogs waarskynlik teen hierdie tyd al (of is vrek vrek naby). Maak seker die omgewing waar jou baba is, is veilig sodat hulle na hartelus kan kruip. Kruip is die beste onderbou vir loop! As jou baba nog nie kruip nie, stel ek voor jy lees hierdie blog. Kruip is so ‘n belangrike mylpaal en dit is raadsaam om alles in jou vermoë te doen om jou baba te help kruip.
Jou kleintjie is ook dalk al besig om homself teen meubels op te trek.
- Gooi ‘n paar blokkies op die lae koffietafeltjie uit. Sit dan by jou kleintjie en pak een vir een op die vloer. Moedig hulle aan om jou te help om die blokkies van die tafel na die vloer te skuif. Julle kan dalk ‘n toring bou. Of doen dit andersom en gooi die blokkies op die vloer en laat hulle help om dit op die tafel te pak. Dit help jou kleintjie om (terwyl hy aan die tafeltjie vashou) te hurk en weer regop te staan, wat sy spiertjies oefen.
- Laat jou kleintjie jou as ‘n klimraam gebruik. Hulle kan hulleself teen jou optrek of oor jou klim en klouter. Dit is goudwerd. Dit is nie net goed vir hulle fisiese ontwikkeling nie, maar ook sosiaal en emosioneel. As jy jouself kan inwerk in ‘n speletjie, doen dit!
- Probeer jou kleintjie so ver moontlik kaalvoet laap loop. Haar voetjies ontwikkel nog en dis belangrik dat sy leer loop sonder skoentjies wat haar pla. Plus, die sensoriese prossessering wat deur haar voetjies plaasvind help met neurologiese ontwikkeling. Hier het ek ‘n bloginskrywing geskryf wat mooi gesels oor kleintjies se voetontwikkeling.
Loop
Loop is een van die mylpale waaroor ouers die mees opgewonde raak. Dit is lieflik as jou kleintjie sy of haar eerste treëtjie gee, maar probeer om nie oorhaastig te wees nie. Laat jou kleintjie kruip en ontdek, loop sal kom!
- ‘n Trollie met blokkies in wat jou kleintjie kan stoot, gee goeie ondersteuning om loop te oefen.
- As jy jou kleintjie se handjies vashou om hulle te laat loop, probeer onthou om hulle handjies vas te hou teen skouerhoogte en nie hoog bo hulle koppies nie.
Handgreep
n Kleintjie se greep ontwikkel ook mooi en teen hierdie tyd kan hulle al ‘n speelding met hulle duim en wysvinger optel in plaas van om hulle hele vuis te gebruik. Hulle kan ook nou een objek in elke hand vashou. Hulle sukkel egter steeds om hulle handjies oop te maak en ‘n objekt te laat gaan, daarom laat hulle dit baie keer val.
- Dit is dus ‘n lekker aktiwiteit om jou kleintjie toe te laat om iets in ‘n houer te laat val of bêre omdat dit die ‘loslaat’ aksie oefen.
- Laat jou kleintjie toe om self te probeer eet! Daar is niks so goed vir hulle handgreepontwikkeling en fynmotoriese koördinasie as om self kos van hulle eetstoeltjie, na hulle hand, na hulle mond te probeer kry nie! Glo my! Jy sal verbaas wees oor hoe vinnig hulle verbeter.
Sensoriese ontwikkeling
Ons wil nogsteeds al die sintuie inspan gedurende spel. Dink tas, gehoor, reuk, smaak, beweging, sig! Lekker sensoriese aktiwiteite sluit in;
- ‘n Koue ysblokkie wat smelt
- Jellie wat deur hulle handjies glip.
- Eet!
- Sand, grond, water of modder! Dink aan enige iets in die tuin. Buitespel is een van die beste manier om jou kleintjie te stimuleer. Dit is in die son en buitelug wat help met kirkadiese ritme en melatonienafskeiding saans, wat help met slaap. Probeer elke dag baie buite speel!
- Beweging en musiek. Hou jou kleintjie op jou skoot en sing ‘wielie-wielie-walie’. Laat jou kleintjie kamma-kamma val as die apie afval. Of sing ‘blinkvosperd’, ‘handjies klap’ of enige liedjie waar jy bewegings saam met jou baba kan doen.
- Swaai jou baba in die rondte of rol op die vloer rond saam met hulle.
- Kruip saam met hulle onder deur stoele en bo-oor kussings. (bou ‘n hindernisbaan)
- Gee vir jou baba ‘n laai of kas wat heeltemal baba-vriendelik is. Daar kan bv tapperware of houtlepels en potte en panne in wees. Laat hulle toe om dit uit en in te pak en dalk met die houtlepel op die pot te slaan.
- Maak ‘n deursigtige houer vol met rys of klippies wat lekker raas. Of maak dit vol met water, olie en kleurstof sodat hulle die vloeistowwe kan sien meng as hulle die bottel skud.
Spraak-en taalontwikkeling
- Babas op hierdie ouderdom begin lieflik babbel en interaksie hê met die mense om hulle. Jy kan nou lekker ‘n gesprek hê met jou baba. Maak seker jy gee jou baba ook ‘n ‘beurt’ om terug te praat.
- Benoem alles waarna jou baba wys, korrek. Omdat hulle nou so begin babbel en klanke naboots kan hulle gebabbel soms soos woordjies klink. Moenie nou in die gat trap om te dink jou baba sê woorde wat hy nie sê nie. Lees hierdie blog van my!
- Gebruik geluide. Dieregeluide is baie keer jou baba se eerste woorde. Lees diereboekies en maak die klanke van die diere na.
- Ander klanke soos ‘broem-broem’ of ‘wheee’ tel ook as woordjies. Kry ‘n emmer en laat val ‘n bal of speelding in die emmer. Elke keer as jy die bal laat val sê, ‘kaboem’/’whee’ of watookal. Gee kans om te sien of jou kleintjie jou na-aap.
- Lees, lees, lees. Ek is seker ek sê dit in elke ouderdom se bloginskrywing, maar regtig. Dit is so goed vir taalontwikkeling. ‘n Lekker prenteboek is nou ideaal. Ek stel ‘n boekie met plaasdiere (of enige diere, dis net makliker om plaasdiere se geluide na te aap as ‘n akkedis of mier, Ha) of ander babas/mense voor.
Vermy die drang om jou kleintjie voor die TV neer te sit. Hulle is nou op ‘n ouderdom wat hulle meer beweeglik is en dit is dus maklik om die TV te gebruik as kinderoppasser. Die TV se probleem is meerledig. 1. Hulle sit stil, m.a.w. hulle spiertjies beweeg en oefen nie. 2. Hulle het nie interaksie met regte mense nie. (navorsing wys dat wanneer ‘n TV aan is ma’s en pa’s minder gesels/interkasie het met hulle babas) 3. Dit is ‘dooie’ tyd waar hulle niks leer nie. Dit help hulle nie met spraak of ontwikkeling nie, selfs nie al dink jy dit is ‘n opvoedkundige program nie. Opgesom doen TV die volgende. – Dit is nie net dat hulle NIKS leer in die tyd wat hulle TV kyk nie, TV ontneem hulle daardie tyd wat hulle sou kon ontwikkel.
Geniet jou babatjie!
Het jy geweet vanaf 12 maande word ‘n kleintjie ‘n ‘kleuter’ genoem en nie meer ‘n baba nie? Dis vreeslik hoe vinnig ons babas grootword!
Liefde, Renate